Wintersrust deur Joyce Kotzè: ’n resensie

  • 2

Wintersrust
Joyce Kotzè

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427338

Die eerste indruk van Wintersrust, Joyce Kotzè se familiesage (en debuutroman) wat teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse Oorlog / Anglo-Boereoorlog  van 1899–1902 afspeel, is die omvang van die verhaal: 570 bladsye van kleurryke karakters, aksie en intriges. Jy sal ook nie kwalik geneem kan word as jy aan Wilbur Smith se soortgelyke romans dink nie – die warmbloedigheid, die onverskrokkenheid, die rebelsheid, die kwessies van lojaliteit aan grond, familie en volk, en soms die verskeurdheid tussen opponerende lojaliteite – dis alles daar, heel netjies verpak om die leser geïnteresseerd te hou.

Die lewenskeuses wat die karakters maak, is soms moeilik om te glo, byna tot op die randjie van ongeloofwaardigheid, maar dit maak die verhaal juis interessant, al ken jy die historiese agtergrond en weet jy byvoorbeeld dat die Boere uiteindelik nie kan wen nie en daar dure vergelding wag. En natuurlik ook dat die antagoniste een of ander tyd hulle straf sal ontvang – boosheid word immers in fiksie gestraf, soos die gewildheid van krimi’s vandag nogmaals bewys.

Daar is hier en daar iets omtrent die teks wat my laat wonder het wat die oorspronklike Engelse uitdrukking was, dog die vertaler, Daniel Hugo, is ’n gesoute en bekroonde vertaler en jy neem aan dat hy die beste moontlike keuses gemaak het. Ek het egter byvoorbeeld twee maal gelees aan die sin: “Sy struikel delikaat oor die gruis [...]” – ek kon my nie voorstel hoe ’n mens “delikaat” struikel nie. Iets anders wat my gehinder het, is die spelling van mauser met ’n klein m. Dit beteken mos dan ’n mens moet AK-47 en Browning-masjiengeweer ook met klein letters spel? Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017) gee “mauser” egter wel aan soos dit in die teks gebruik word. Ook ouer woordeboeke soos Kritzinger ea se Groot Woordeboek (1972). Nou ja, so leer ’n mens ...

Die vertaling is inderdaad so vernuftig gedoen dat ek slegs deur die Engelse aanhalings tussen die dele – daar is agt – aan die oorspronliklike Engelse teks herinner is. Die gevegstonele is goed beskryf en dit gee ’n mens die gevoel dat die skrywer haar navorsing deeglik gedoen het. Daar is heldedade en avontuur, maar die trauma en verlies word nie weerhou nie. Ek het wel gewonder hoe die Boer by een geleentheid ’n hinderlaag vir ’n trein stel en hoe een karakter, Karel de Winter, nie kan weet dat daar ook Boere, onder andere sy eie pa, oorkant hulle, aan die ander kant van die spoorlyn, is nie.

Wat karakters betref, is daar ’n oorvloed (dalk te veel? – ’n karakterlys soos hier, is gewoonlik ’n aanduiding hiervan, maar die leser moet self besluit), sonder dat een werklik uitstaan as hoofkarakter – dalk Martin, die oudste seun van Marthinus en Mary de Winter, maar sy tweelingbroers en suster is eweneers sterk en deeglik afgeronde karakters. Selfs ’n “byspeler” soos Jan Viljoen is geen eendimensionele karikatuur van ’n luidrugtige ekstrovert nie.

Een karakter aan wie ek nie regtig vat kon kry nie, is Stephanie de Winter. Die wyse waarop sy as ambisieuse en uitgesproke individualis skielik verlief geraak het, en boonop op ’n (aan haar) onbekende Brit, kom vir my as onkenmerkend van haar voor. Ook klink dié Britse agent nie regtig soos die tipe man wat rugby sou speel nie. Maar, mense kan tog verras, dus pla hierdie enkele gevalle van “ongerymdheid” nie regtig soveel dat dit ’n leser die boek eenkant sal laat gooi nie.

Soos jy deur die verhaal beweeg, leer ken jy die karakters en verwag wel sekere optredes van hulle, en dis dan wanneer die skrywer die noodlot met al sy wispelturigheid en ongenaakbaarheid laat intree en jy onkant gevang word – daar is heelwat verrassende wendinge, hoewel die skrywer nie aan die vaste raamwerk van die geskiedenis self probeer torring het nie. Dis ’n dus volwaardige, klassieke historiese roman, nie ’n “alternatiewe” een nie.

Oorgange tussen paragrawe is hier en daar effe rukkerig, terwyl daar ook oorgange gemaak is wat nie vir my nodig gelyk het nie; dit verbreek soms die ritme, en wys, nie vertel nie, showing, not telling bly altyd ’n beter opsie. Daarmee bedoel ek dat daar soms opsommende teks tussen tonele ingevoeg is wat die tekstuur van die verhaal net daardie klein bietjie vergrof.

Maar dit sal sekerlik ook min lesers pla. So ook die beskrywing van tonele en aksies. Byvoorbeeld: “Hy kyk na die welwing van haar wang, blosend van die son en wyn, die ligte sproete op haar neus en haar hart wat in haar keel klop [my kursivering]. Sou ’n mens nie eerder van die polsslag teen haar nek praat nie? En klink die volgende vergelyking nie bra oordrewe nie? “En toe hy haar op die bed neerlê en haar bene uitmekaar skuif, voel haar hande op sy naakte rug soos die houe van ’n sambok.” En sê ’n mens sê sy tuur in sy oë? Of: “Martin gooi ’n kombers oor hom en sit sy kop op ’n sak meel neer.”

Wanneer emosies beskryf word, is die skrywer wel soms net een tree weg van melodrama af – die versigtige keuse van byvoeglike naamwoorde (of bywoorde soos in die geval van mausers wat “histeries” knetter – jy kan dan net sowel beweer dat donderweer histeries klink) en metafore is immers meer treffend wanneer die beginsel van “minder is meer” toegepas word. (Terloops, “histeries” is (reeds) ’n cliché wat aan masjiengeweervuur gekoppel word, maar mausers is nie snelvuurwapens nie.)

Om saam te vat: elke resensent het sy/haar eie agtergrond, perspektiewe en voorkeure en ek glo nie daaraan om ’n plot weg te gee of elke karakter intensief te bespreek nie, want jy neem immers aan dat die leser van die resensie nog nie die boek gelees het nie en waarom ’n boek koop as jy reeds weet wat om van die karakters te verwag of wat die verloop van die verhaal is?

Laat ons daarom by die kern van die beskuitjie kom: Is die boek die moeite werd om te lees? Ja, beslis; ek beveel dit aan. Dis nie ’n Fees van die ongenooides nie; dis nie ’n Op soek na Generaal Mannetjies Mentz nie; dis wel ’n spanningsverhaal, bedoel om te vermaak. Dis sonder pretensies van literêre gloeiings. Dit probeer nie pedagogies inlig nie, maar dit getuig van goeie kennis van die betrokke historiese milieu en tydgees. Dit bied boonop aan diegene wat min van die oorlog weet, tog ook interesssante insigte oor die verskriklike tragedie wat dit was.

Kotzè draai ook nie doekies om oor die oorsake van die oorlog nie – nou, reeds 115 jaar na die oorlog, is daar steeds botsende opvattings oor die redes vir die oorlog – maar wanneer die verbande van die “lyk” losgewoel word, bly net ’n goudstaaf oor: Brittanje het weens opstande in haar wêreldryk groot geldelike verliese gely en slegs ’n klein volkie het tussen haar en die rykste goudneerslae ter aarde gestaan. Hierdie punt stel die skrywer onomwonde en telkemale via haar karakters se uitsprake. Maar tog, tog is daar helde aan beide kante, sodat die boek nie in ’n litanie teen Britse kolonialisme verval nie – inteendeel, Joyce Kotzè bied ’n interessante en vermaaklike verhaal wat, as ek een persoonlike vooroordeel mag opper, egter dalk net ’n bietjie korter kon gewees het.

Laastens: die omslag, wat basies dieselfde is as in die geval van die oorspronklike Engelse weergawe (The runaway horses), is aantreklik en die voornemende leser kan dadelik sien waaroor die boek handel. Geluk ook aan Jonathan Ball met ’n geslaagde en aantreklike produk.

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir die resensie.
    Ek is tans halfpad met die boek en alhoewel ek dit geniet, is daar nogal die klein "irritasies" met betrekking tot geloofwaardigheid en die karakterisering van veral Stephanie en Victoria.

    • francois verster

      Hallo Johanna, ja 'n mens moet jouself soms tog daaraan herinner dat dit 'n (ont)spanningsroman is, en dit dalk vergelyk met bv Wilbur Smith, wat nog minder kan wegkom van sy "larger than life"-karikature, ongeloofwaardige gebeure (sy helde kan alles doen, sommer in 'n week of twee leer om 'n vliegtuig te loods of 'n ander taal aan te leer, a la Tarzan van Burroughs. Daarom is Wintersrust vir my heel skaflik - binne daardie genre.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top