
Winterbruid
Vir Darina
My bruidegom in bruin gepak
kom aan
stewig gestut tussen vader en vriende
op sy bors die winterrose
’n ruiker –
Blink skoene knars oor die koue gruis
stadig en statig
op hierdie plegtige dag
met blomme en vriende en familie omheen
wyl stemme die winterlug in flarde skeur
moet ek laat los
gekneusde roosblare daal saggies soos confetti
om op die donker hout te rus
en ek
stewig gestut tussen vader en broers
stap die paadjie
sonder seremonie terwyl die druppels winterreën.
Begrafnis van le Clue, 20 Julie 2011


Kommentaar
Altyd kreatief met woorde gewees. Op skool het sy ons geleer hoe om taalkunde en geskiedenis te ontdek, interessant te maak en lief te wees daarvoor.