Rita Smit

Gebore en getoë Suidwester (Namibiër) en tans ’n semi-afgetrede onderwyseres. Ek en my man, Pieter, woon tans in die mooie Knysna. Ons is die grootouers van twee skattige dogtertjies wat ons lewens oneindig verryk en ons netjiese huis op sy kop draai!

Ek skryf al gedigte sedert my laerskooldae, maar die passie het vir baie jare agterweë gebly as gevolg van werkdruk. Digkuns is vir my soos beeldhouwerk. Ek hoor die idee in my kop en stort dan die gedagtes lukraak op papier uit. Dan begin ek beitel en skaaf. Soms beland dit in ’n laai sodat die emosie kan kalmeer en ek objektief kan lees. Dan poleer ons maar weer.

Gewoonlik kry ek inspirasie uit die natuur, nuusberigte wat my emosioneel raak of tydens ’n aangename ervaring soos ’n vakansie, opwindende gebeure of ’n sosiale ongeregtigheid. Ek dink ek sou ’n goeie hofdigter kon wees, maar nou is daar nie ’n koning wat my wil huur nie en ’n pryssanger in Afrika moet te veel rondspring en dra te min klere ...

Ek is ’n groot natuurliefhebber en die vlaktes en duine van Namibië is my habitat en inspirasie. Ek stap graag in die natuur, veral in die Sederberge, en tans verken ons die Knysnabos. Reis is vir my so noodsaaklik soos asemhaal en ek wens ek kon dit meer bekostig. Mense, kulture, tale en geskiedenis is vir my ongelooflik interessant.

Verder probeer ek die aarde red deur so groen as moontlik te leef en my geliefdes ook daarmee te inspireer. Die besef dat die langste deel van my lewenspad reeds agter my lê, dwing my om elke moontlike oomblik voluit te leef. Ek probeer liefde en vrede uitleef teenoor my naaste. Ek geniet goeie gesondheid en benut dit ten volle.

Behalwe skryf, is ek ’n kompulsiewe leser, veral van historiese romans. Musiek is nog een van my passies, alhoewel ek nie ’n musiekinstrument kan bespeel nie. Veral koorsang is altyd ’n besonderse ervaring. Ek hou van ’n wye verskeidenheid musiek.

Ek het al ’n hele paar kortverhale gepubliseer, en het ook ’n boekie met sketse uit my jare in die onderwys uitgegee. Daarbenewens het ek ook ’n Bybelstudiereeks vir ’n radiostasie geskryf, meegewerk aan die Paul Roos-gimnasium se Gedenkboek tydens hulle 150ste verjaardag, ’n paar dokumentêre draaiboeke geskryf en les bes ook al my hand aan dramatekste gewaag.

Ek hou daarvan om mense dop te hou en die interessante of komiese in hulle aksies te probeer uitpluis. Mense is onvoorspelbaar en soms is die inhoud glad nie dieselfde as die etiket op die blikkie nie. My motto in die lewe is: Daar is nie ’n pad na geluk nie. Geluk is die pad.

Portrette

Rita Smit Poësie 2017-11-16

"Om te onthou en nie te vergeet
Eenmaal saam gelag, gevier, geëet"

Winterbruid

Rita Smit Poësie 2017-11-16

"gekneusde roosblare daal saggies soos confetti ..."

Top