
Foto: Canva
Winter se wolk
ek lê op my rug
kyk na die wolke
mamma sê hul bring reën
en ons het dit baie nodig
kom wolk! roep ek
sien mý raak
hier! hier by die dam!
kom! tel my op
en neem my saam!
wolk sak af
tel my op in haar sagte arms
totsiens dorp!
totsiens katte!
totsiens vis-in-die-bak!
die wind jaag ons aan
wolk sê sy hou van vinnig vlieg
ek kry lag vir haar
en klou vir ’n vale vas
my hare staan regop
my oë traan
my neus is yskoud
en die wind raas in my ore
ek gaan lê oor haar kant
verbeel my ek is ’n spioen
wat van bo af loer
ek sien ’n tannie buk by ’n wasgoeddraad
met kinders wat om haar voete speel
’n oom met ’n hoed en honde
wat skaap aanjaag
ek en wolk jaag verder
haar skaduwee speel saam
jaag ons aan jaag ons aan
wolk sê stadig nou
die son trek reeds doer onder
jou ma staan reeds
in die agterdeur
en net daar
voor die plaas se hek
kom sit sy my neer
totsiens my kind
gaan slapies nou soet
miskien sien ons môre weer
ek steek my arms uit vir nog
maar haar asem is reeds oopgesprei
tussen die sterre en ’n halwe maan
mamma roep maak nou gou!
jou bad is amper koud!
sy skud haar kop
vir die stukkies wolk in my hare