Willie Adams (1951–2012)

  • 0

Gebore en getoë

William Edward Adams is op 24 Maart 1951 in Elsiesrivier, Kaapstad gebore. Hy is die sesde van agt kinders van John Henry Adams en Rebecca Wagenstroom.

Hy het in Bishop Lavis grootgeword en bring sy laerskooljare aan die Laerskool Bishop Lavis deur. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Elswood in Elsiesrivier.

Willie (sy skrywersnaam) begin reeds in 1965 gedurende sy standerd sewe-skooljaar (vandag graad nege) aan die Hoërskool Elswood gedigte skryf. Die rympies het hoofsaaklik oor die natuur en die lewe gehandel, het hy in ’n biografiese skets aan NALN vertel. Adam Small se skryfwerk was gedurende die jare ’n aansporing vir die jong Willie.

Verdere studie en werk

Ná skool is Willie na die Universiteit van Wes-Kaapland waar hy hom ingeskryf het vir ’n B Sc-graad met plant- en dierkunde as hoofvakke. Hy het ook sy Onderwysdiploma en B Ed-graad aan Unisa behaal, asook sy M Ed in wetenskaponderrig aan die Universiteit van Kaapstad.

Nadat hy klaar gestudeer het, is hy aangestel as onderwyser in wetenskap en biologie aan verskeie hoërskole op die Kaapse Vlakte vanaf 1973 tot 1979. Hy is 1980 in aangestel as lektor in wetenskap en biologie aan die Onderwyskollege Hewat in Athlone by Kaapstad waar die skrywer Richard Rive een van sy kollegas was. In 1984 het hy ’n senior lektor-pos gekry in die wetenskapdepartement aan Hewat. In 1994 het Willie die onderwys verlaat om sy doktorale studies aan die Universiteit van Kaapstad te begin. In 2011 het hy ’n honneursgraad in Argeologie verwerf.

Op onderwysgebied was Willie ook een van die leiers van die gemeenskap. Hennie Ulster, wat ’n kollega van Willie by Hewat was, het aan Hein Willemse vertel dat Willie altyd ’n sagte plekkie vir die underdog gehad het en deur die onderwys het hy gevoel hy kan agtergeblewenes of verstotelinge so help ophef. Hy het ook as dosent aan die kollege gehelp met die deeltydse onderrig van fabriekswerkers en verpleegsters. Sy kollegas was veral beïndruk met sy "oortuigde sin vir reg en geregtigheid". In 1996 het die regering besluit om Hewat te sluit en hulle te laat saamsmelt met die destydse wit Kaapstadse Onderwyskollege. Willie was só teen die besluit gekant dat hy besluit het om sy pos as senior lektor te verlaat. Hy het later ’n gewone onderwyser by die onderpresterende Luhlaza Sekondêre Skool in Khayelitsha geword.

Ook in sy onderwysloopbaan was Willie verbind tot gemeenskapsleiding. Volgens Hennie Ulster, ’n voormalige Hewat-kollega, het hy omgegee vir die underdog en die onderwys was vir hom ’n manier om die uitgestotenes op te hef. As deel van sy persoonlike verbintenis het hy as ’n kollegedosent fabriekswerkers en verpleegsters deeltyds onderrig. Dit was veral sy oortuigde sin vir reg en geregtigheid wat sy kollegas getref het.

Hy is in 1975 getroud met Joan Bertha Ely en die egpaar het drie kinders, een seun (Robert) en twee dogters (Wilnelia en Olivia).

Sedert 1973 het Willie begin om ook in Engels gedigte te skryf. In sy verse is hy geïnspireer deur die swartbewustheidsorganisies en sy Afrikaanse sowel as sy Engelse verse was politiek-betrokke verse wat sosiale kommentaar gelewer het.

Willie se eintlike skryfloopbaan het in 1976 begin toe hy, terwyl hy ’n amateur-akteur was vir die Township Players, dramas begin skryf het wat hulle dan in die Plankierama opgevoer het. Sy eerste drama, Episodes, handel oor die 1976-opstande en is later opgeneem in Episodes en ander gemeenskapsdramas wat in 1995 gepubliseer is. In 1988 het hy sy skryfnet wyer gespan en het begin kortverhale en stories skryf. Die ballon, ’n kortverhaal, is in 1989 in Stet gepubliseer.

Sy eerste gedigte, in Afrikaans en Engels, is in tydskrifte soos Ensovoort, Graffier, Contrast, Praat, Bandwagon, New Classic, Hot Pot, Gar Magazine (Texas), Greenfield Review en Vakalisa Calendar gepubliseer. Drie van sy gedigte, twee in Afrikaans en een in Engels, is in 1989 opgeneem in I Qabane Labantu, onder redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse. Een van sy Engelse gedigte is opgeneem in die Amerikaanse bloemlesing Somehow we survive. In 1990 is Willie mede-redakteur van Optog! wat deur Domestica, Willie se eie uitgewery, gepubliseer is. Sy debuutdigbundel, Riemvasmaak, verskyn in 1996, ook by Domestica.

In Riemvasmaak handel Willie se gedigte hoofsaaklik oor sosiaal-politieke kwessies en die titelgedig het as tema die destydse apartheidsregering se gedwonge verhuising in die 1970's van die mense van Riemvasmaak in die Noord-Kaapland.

Die ander dramas wat ook opgeneem is in Episodes en ander gemeenskapsdramas handel oor gebeure in Suid-Afrika in 1980, 1985 en 1990. Hulle is Die hawkers (1981), Hypocrites (1981) en Die erfstuk (1983). Die hawkers handel oor die algemene roetine van vrugtesmouse wat hulself jammer kry oor aangeleenthede van die gemeenskap. Hypocrites dryf die spot met die destydse Presidentsraad en was in 1990 een van die finaliste in die Bertrams VO Award for African Literature. Die erfstuk se tema is die behuisingsprobleme van inwoners van die townships en die konflik weens die politieke situasie.

In 1997 publiseer Domestica Eureka Estate se hoë gebou wat biografiese sketse, asook ander sketse en kortverhale bevat. In 2007 verskyn Townshipgesprekke uit die ou Suid-Afrika en Townshipgesprekke uit die nuwe Suid-Afrika wat bundels met sosiale en politieke kommentaar is.

Daar was ook ongepubliseerde dramas uit sy pen, soos Bloed is bloed wat die spot dryf met die gesegde "rasegte bloed" en Drie ouroekers.

In die 1970's was Willie baie betrokke by teaterwerk in die Plankierama, ’n houtsaaltjie in Matroosfontein naby Elsiesrivier in die Kaap. Daar het hy gehelp organiseer aan poësievoorlesings en is dramas wat handel oor die dag-vir-dag probleme van die mense opgevoer. Hy en Leonard Koza het in 1983 Township Life, ’n amateurteatergroep, gestig.

Willie kan ook nie beskuldig word dat hy nie betrokke was by sy gemeenskap nie. Hy was sedert sy dae as student lid van swartbewustheidsorganisasies soos die South African Students' Organisation (SASO), en later ook van die Azanian People's Organisation (AZAPO). In die laat 1990's is hy verkies tot voorsitter van die Wes-Kaapse tak van AZAPO. Die destydse streekorganiseerder, Mkhufeli Khokhoda, het onthou dat Willie in die tyd vir hom soos ’n pa was: “Hy kon goed organiseer en hy het duidelike standpunte gehad. Hy was destyds sterk gekant teen die Kaapse bod vir die Olimpiese Spele, want dit sou ons net benadeel en bankrot maak.” (Hein Willemse in Tydskrif vir Letterkunde, 2012)

Hein Willemse skryf in sy huldeblyk in Tydskrif vir Letterkunde (2012) dat Willie saam met die res van die lede van die laaste South African Council of Sport (SACOS)-bestuur, Basil Brown en Dallas Haynes, nie voorstanders was van die oorhaastige eenwording van Suid-Afrikaanse Sport nie. In die vroeë 1990's was hulle van mening dat die ANC hierdie eenwording van Suid-Afrikaanse sport as ’n deel van hul onderhandelingstrategie wou gebruik sodat die res van die wêreld (wit) sport sal aanvaar, maar in hulle onnodige haas, het die ANC die behoefte van die oorgrote deel van die bevolking nie in ag geneem nie. “Nie-rassige sport is opgeoffer,” sê Brown, “en vandag sien ons die negatiewe gevolge daarvan. Daar is byna geen georganiseerde sport meer in ons gemeenskappe of skole nie. Mense soos ek en Willie se standpunte van destyds was geregverdig.”

Willie was ook bekend as ’n sportman en op sportadministrasie-gebied het hy ook leiding geneem. Kultuur, sport, die onderwys en die aktiewe politiek was deel van sy vol lewe, skryf Hein Willemse in Tydskrif vir Letterkunde. Hy het gehelp om verskeie sportklubs in Kaapstad op die been te bring en as daar in die noordelike gebiede van Kaapstad gepraat is van Celtic Sokkerklub en die Bishop Lavis Krieketklub, is Willie se naam in dieselfde asem genoem. Willemse vertel dat Danie Mitchell, een van sy oud-leerlinge, Willie se rol as gemeenskapsleier as “monumentaal in Bishop Lavis” geag het omdat hy daar menige jongmens se sosiale bewustheid gerig het.

Saam met Leonard Koza en Patrick Petersen het Willie in 1991 Domestica Uitgewers op die been gebring wat die eerste swart uitgewery was wat Afrikaanse werke ook uitgegee het. Hulle doel was om veral Afrikaanse letterkundige werke deur swart skrywers wat vroeër deur gevestigde uitgewers geweier is, uit te gee. Domestica se eerste werk wat hulle uitgegee het, was Optog, ’n poësie-bloemlesing wat verse van onder andere Leonard Koza, Patrick Petersen en Valda Jansen bevat, asook ’n aantal digters wat in Optog gedebuteer het.

Willie het sy eie werke almal by Domestica uitgegee omdat hy geglo het in kulturele selfstandigheid.

Hy was ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, maar het in 1996 as lid bedank. Hy was ook lid van die Vriende-in-Geskiedenis, ’n groepie skrywers wat op ’n gereelde basis voorlesings in townships, boekwinkels en biblioteke gehou het.

Van sy ander belangstellings was betrokkenheid by die gemeenskap waar politiek, kultuur en sportaangeleenthede ’n rol gespeel het. Hy het seëls versamel, was baie erg oor vasvrawedstryde en musiek, spesifiek Bob Marley s’n. Deur sy kinders se belangstellings en bedrywighede het hy ook begin belangstel in ballet, ysskaats en die verfkuns.

Willie Adams is op Maandagaand 18 Junie 2012 op 61-jarige ouderdom aan ’n hartaanval oorlede nadat hy aan nierversaking gely het. Hy word oorleef deur sy vrou, Joan, sy kinders Robert, Wilnelia en Olivia en ’n kleindogter, Tori.

Ten tye van sy afsterwe was Willie besig met ’n kort outobiografiese werk wat hy ’n paar weke vantevore aan Hein Willemse gestuur het onder die werkstitel Toe die reënboog nog die reënboog was. Willemse en Willie het gedurende die jaar wat opgeloop het tot sy dood mekaar by verskeie geleenthede ontmoet waartydens hulle oor hierdie manuskrip gesels het. Hy wou Hein se opinie gehad het oor wat hy gedink het reeds ’n voltooide manuskrip was.

Gedurende die eerste sessie het Willemse voorgestel dat Willie heelwat aanpassings moet aanbring wat betref styl, karakter en komposisie en ook oor outobiografie en fiksie. "Wat ’n kort outobiografiese teks was, het ek aanbeveel kon soveel meer word en as die moontlikhede werklik ontgin is, behoort selfs ’n gevestigde uitgewer daarin belang te stel," skryf Willemse in sy huldeblyk aan Willie Adams. "Daarop het hy gegrinnik, maar tog met tussenposes sy hersienings aangestuur. (...)

"Willie Adams was ’n gemeenskapskrywer wat sy wêreld breër bekend wou stel. In sy Reënboog-manuskrip skryf hy met deernis oor karakters in sy lewe soos ’n hakkelende pa wat met vullerfrases soos 'hiesa da' en 'why of cause' sy stameling oorkom het: 'Dit was ’n hiersa da’, why of cause vuil wedstryd, meneer die voorsitter, maar ek is trots op my voorspelers [...] ons het die wedstryd gewen met hiersa da’, why of cause 52–14. Dis hiersa da’, why of cause al wat ek wil sê, meneer die voorsitter.'

"Met sy heengaan is daar nie genoeg woorde om ons verlies te beskryf nie, selfs nie eens 'hiesa da' en 'why of cause' sal die leemte kan vul nie. Na ’n mediese ondersoek in Maart 2012 het Willie sy persoonlike sake met doelgerigtheid agtermekaar gekry. Hy het sy manuskrip afgehandel, uitdruklike instruksies vir sy verassing en sekulêre gedenkdiens opgestel selfs met ’n versoek vir die reggae-klanke van Bob Marley."

Get up, stand up (so we can’t give up the fight)
Stand up for your right (lord lord)
Get up, stand up (people struggling on)
Don’t give up the fight (yeah)
“Get up, stand up” — Bob Marley (Tydskrif vir Letterkunde, 2012)

Publikasies

Publikasie

Episodes en ander gemeenskapsdramas

Publikasiedatum

1995

ISBN

0620192151 (sb)

Uitgewer

Grassy Park: Domestica

Literêre vorm

Dramas

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Riemvasmaak

Publikasiedatum

1995

ISBN

0620192143 (sb)

Uitgewer

Grassy Park: Domestica

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Eureka Estate se hoë gebou

Publikasiedatum

1997

ISBN

0620213914 (sb)

Uitgewer

Grassy Park: Domestica

Literêre vorm

Biografiese sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Townshipgesprekke uit die ou Suid-Afrika

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780620388825 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Domestica

Literêre vorm

Anekdotes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Townshipgesprekke uit die nuwe Suid-Afrika

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780620388832 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Domestica

Literêre vorm

Anekdotes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Artikels oor en deur Willie Adams beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Adams, Willie. 1997. Biografiese skets van Willie Adams. NALN-knipselversameling
  • Willemse, Hein. 2012. Huldeblyk Willie Adams (1951-2012). Tydskrif vir Letterkunde 49(2)

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top