Willem Cruywagen – lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns betreur die heengaan van dr Willem Cruywagen. Hy was 'n hoogsgeëerde en gerespekteerde lid van die SA Akademie en het aktief aan alle verrigtinge deelgeneem. Dr Cruywagen het op 83-jarige leeftyd in 2003 sy doktorsgraad in Geskiedenis aan NWU oor Die Cruywagens van Suid-Afrika 1690-1806 verwerf. Dit is in 2007 gepubliseer. Hy het volgehou met sy deeglike navorsing en die opvolg, Die Cruywagens 'n Suid-Afrikaanse familie deel 11 (1807-2011) het in Maart 2013 verskyn en is by 'n spesiale geleentheid by die Voortrekkermonument bekendgestel. Hiervan is die laaste 120 pp sy outobiografie. Omdat dr Cruywagen besonder beskeie was, word die outobiografie op akademiese wyse aangebied, maar raak die leser tog diep onder die indruk van die wye verskeidenheid van insette wat hy op kultuurterrein gelewer het (en dan is alles beslis nie eers vertel nie.)

Vir dr Cruywagen was navorsing deel van sy lewe. Die SA Akademie eer hom vir die hoë standaard wat hy in sy referate by verskeie akademiese kongresse en konferensies, sowel as in vaktydskrifte waar sy werk aan eweknie-beoordeling voorgelê is, gehandhaaf het. Hy dien as inspirasie vir jong(er) akademici.

As Administrateur van die voormalige Transvaalprovinsie was hy die redder en bewaarder van historiese geboue (soos die Wesfasade van Kerkplein). As lid van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede het dit onder sy aandag gekom dat Enoch Sontonga, die digter en komponis van Nkosi sikelel' iAfrika in Braamfonteinbegraafplaas in Johannesburg begrawe is. Na 'n jaarlange uitgebreide soektog en met behulp van kundiges is Sontonga se graf opgespoor. 'n Swart marmer kubus is opgerig en deur voormalige President Mandela op Erfenisdag 24 September 1995 onthul. Vir hierdie deursettingsvermoë om 'n taak suksesvol af te handel sal dr. Cruywagen ook onthou word.

Die SA Akademie eer sy nagedagtenis en simpatiseer met sy vrou, Snow, kinders, kleinkinders en agterkleinkind met die wete dat dr Cruywagen diep spore in die Suid- Afrikaanse gemeenskap gelaat het.

Dr Dion? Prinsloo
Hoof Uitvoerende Beampte
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top