Wilde padren

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

                                                                          
In Januarie 1968 - dis ook al 46 jaar gelede - het daar 'n motorongeluk op die Rondebult-pad in die Boksburg-distrik plaasgevind wat uiteindelik in ons land se hoogste hof, die appèlhof in Bloemfontein, 'n draai sou maak.

Twee jong manne het besluit om resies op die pad te jaag - hulle sou "dice" - en die verloorder sou tien rand opdok. Die een kêrel was agter die stuur van 'n 1961-Vauxhall Cresta, terwyl die ander se jaagding 'n 1964-Fiat was. Ene Vorster was 'n passasier in die Fiat.

Die teerpad - nie te breed nie - het 'n reguit strook van ongeveer 2,5 km gehad, waarna daar 'n draai van ongeveer 40 grade na links was – 'n taamlik skerp draai, dus. Met die wegspringslag was die kragtiger Vauxhall 'n kortkop voor die Fiat en soos hul die draai genader het, het die twee motors tot meer as 140 km per uur versnel. Naby die draai het die Vauxhall se bestuurder sy spoed tot so ongeveer 110 km per uur verminder. Die Fiat se bestuurder het van die spoedvermindering gebruik gemaak en in die draai regs van die Vauxhall - dit wil sê aan die verkeerde kant van die pad - probeer verbysteek. Die Vauxhall se stert het weggebreek en die Fiat sydelings getref, en die Fiat het die pad byster geraak. Dit het deur 'n plaashek gebars en teen 'n elektriese substasie tot stilstand gekom. Die Fiat se passasier, die jonge meneer Vorster, is uit die motor geslinger en hy is sodanig beseer dat hy permanent in sy onderlyf verlam is.

Vorster het daarna 'n derdeparty-eis teen die Fiat se derdepartyversekeringsmaatskappy, Santam, asook teen die bestuurders van die twee motors ingestel. Santam se verweer was dat Vorster vrywillig die sogenaamde risiko van benadeling aanvaar het, en dat hy gevolglik op geen skadevergoeding geregtig was nie. In die alternatief het Santam aangevoer dat Vorster óók nalatig was deur aan die wedren deel te neem, en dat sy eis verminder moes word tot dié mate waarin sy beserings deur sy eie, bydraende nalatigheid veroorsaak is.

Regter Marais van die hooggeregshof in Pretoria het die verweer van vrywillige aanvaarding van die risiko van benadeling verwerp, maar bevind dat Vorster wel bydraend nalatig was, en aan hom twee derdes van sy eis toegestaan. Hierteen het Santam appèl aangeteken.

Hoofregter Ogilvie Thompson en vier ander appèlregters het die appèlsaak verhoor.1 In 'n baie noukeurige uitspraak het die hoofregter beslis dat ten einde te kon slaag met die verweer van vrywillige aanvaarding van die risiko van benadeling, Santam ten minste moes bewys dat Vorster bewus was van die aard en omvang van die gevaar en dat hy die risiko van benadeling vir homself voorsien het. Sou Santam daarin slaag om hierdie elemente te bewys, sou Vorster se eis totaal misluk.

Die hoofregter het daarna beslis dat hoewel Vorster toegestem het tot die risiko van benadeling voortspruitend uit die "normale" gevare van "dicing" - die woord wat die getuies en die hof gebruik het – soos, byvoorbeeld, dat 'n band sou kon bars, hy nooit toegestem het tot die gevaar van beserings voortspruitend uit die growwe nalatige optrede van die bestuurder van die Fiat nie. Hy het, met ander woorde, nooit toegestem dat die Fiat se bestuurder teen so 'n hoë spoed op daardie skerp draai by die Vauxhall sou probeer verbysteek nie. Net so min, sê die hoofregter, as wat hy byvoorbeeld sou toestem dat die Fiat se bestuurder gedurende die wedren teen hoë spoed sy hande van die stuur sou afneem.

Die regter het toegegee dat dit vir hom baie moeilik was om tot die beslissing te kom, omdat daar 'n baie dun lyn was tussen dit waartoe Vorster wél toegestem het, en dit waartoe hy nié toegestem het nie.

Dit was egter vir die hof makliker om te beslis dat Vorster bydraend nalatig was as gevolg van sy deelname aan die wedren. Die redelike mens sou voorsien het dat daar 'n gevaar van liggaamlike beserings verbonde aan die jaagtog was, en deur daaraan deel te neem, het Vorster onredelik - en dus nalatig - opgetree. Steeds is daar 'n fyn onderskeid tussen, aan die een kant, vrywillige aanvaarding van die risiko van benadeling en, aan die ander kant, bydraende nalatigheid. En as dié onderskeid jou verwar, ontspan: regsgeleerdes twis lekker oor hierdie vraagstukke, wat ook maar 'n ander manier is om te sê dat hulle ook dikwels hieroor in die war is. Vir Vorster het dié onderskeid egter die verskil beteken tussen niks nie, en 'n eis wat gedeeltelik verminder is.

Die appèlhof was tevrede met regter Marais se verdeling van skadevergoeding, en het gelas dat Santam en die twee bestuurders van die Fiat en Vauxhall gesamentlik en afsonderlik tagtig duisend rand aan skadevergoeding aan Vorster moes betaal. In vandag se geld is dit, sou ek reken, meer as R2 miljoen.

 

1 Santam Insurance Company v Vorster 1973(4) SA 764(A)

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top