"Wij die gerefformeerde Leedematen" in die nege Vetrivierartikels van 1837 

  • 0

“Wij die gerefformeerde Leedematen” in die nege Vetrivierartikels van 1837 

Piet Strauss, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Nagenoeg 2 000 Afrikaner- of Boere-emigrante wat die Kaapkolonie per ossewa verlaat het, het in 1837 enkele kilometers suidwes van die huidige Winburg in die omgewing van die Klein- en Groot-Vetrivier saamgetrek. Hoewel ’n groep op 2 Desember 1836 hulle eie gemeenskap met hulle eie gedragsreëls en verkose leiers by Thaba Nchu of Blesberg gevorm het, het die Trek algaande noordooswaarts geskuif. By die Klein-Vetrivier het die behoefte aan die herorganisasie van ’n nuwe, verenigde laer ontstaan. Hierdie behoefte is gestimuleer deur die aankoms van nuwe emigrante en ’n erkende Boereleier, Piet Retief, in die laer van ’n ander emigranteleier, Gert Maritz, op 12 April 1837.

Op 17 April is Retief as goewerneur, Maritz as regter-president en ’n Politieke Raad verkies. Hierdie raad het die nege Vetrivierartikels vir die Verenigde Laer opgestel wat op 6 Junie 1837 aan ’n volksvergadering voorgelê en aanvaar is.

Die artikel ondersoek die betekenis van die frase en begrip “Wij die gerefformeerde Leedematen” in die konteks waarin dit gebruik is. Die metode is ’n vergelykende literatuurstudie.

Twee beginsels het die inhoud van die nege artikels bepaal: die gereformeerde of Christelike aard van die gemeenskap en die demokratiese inslag daarvan. Verder word daar gekyk na diegene wat die leiding geneem het by die opstel van die nege artikels, na hulle gebruik van die term gereformeerde lidmate, na die samelewingsagtergrond in die Kaapkolonie waaruit hulle kom, Nederlands-Kaapse (ook Britse) invloed sowel as hulle oogmerke met die Vetrivierreëlings.

Trefwoorde: algemene nut; Boere-emigrante; bedoelde land; Christelik-gereformeerde maatskappy; gemeenskap; reg en geregtigheid

 

Abstract

“We the Reformed members …” in the nine Vet River articles of 1837

Approximately 2 000 Afrikaner or Boer emigrants who had left the Cape Colony by oxwagon came together in 1837 in the vicinity of the Little en Great Vet River in what we know as the central Free State today. After more trekkers had joined them, they decided to form a new organised community with an own spiritual and societal identity. A group of them had already opted for an own, independent democratic community at Thaba Nchu on 2 December 1836.

On 6 June 1837 this community – at a meeting of 140 men – decided on nine articles as the guiding rules for their community. The “nine articles” as a document was not a new constitution of a new state, but merely guidelines for their conduct in their new environment. The guidelines were initiated and drafted by their so-called Political Council and accepted as binding for every member of the community by the meeting of 6 June at the Little Vet River. The nine rules were applicable to every official member who applied for and joined this specific community of Boers or trekkers.

Historians call the acceptance and formation of a society in the central Free State in 1837 a turning point in the history of Boer republics in the 19th century. It was, however, not a turning point, but just another step in this history. It paved the way for more Boer republics to come.

Two well-known personalities were chosen to lead these trekkers. On 17 April 1837, soon after his arrival, Piet Retief was made the governor of the trek and Gert Maritz the magistrate. They were later accompanied by Erasmus Smit, who was ordained as their minister of religion on 21 May 1837. At the meeting of 6 June 1837 a proposal of Smit was accepted that the community should call itself the people of the Free Province of New Holland in South East Africa (De Vrije Provincie van Nieu Holland in Zuid Oost Africa). Apart from this Smit had a decisive influence on the choice of the phrase “We the Reformed members …” He was an advocate for the reformed confessions of faith as a point of departure for the view on life as a whole. The Dutch Reformed Three Formulas of Unity as accepted by the reformed Synod of Dordrecht in 1618–1619 in the Netherlands played a part in this.

At the same meeting the area of Port Natal and Natal was chosen as the destination of the emigration or trek.

With their choice of “reformed” the community of trekkers opted for a Christian society in a Dutch Reformed way. That was why the Dutch Reformed Church (DRC) was their only accepted church and only members of congregations of this church could be appointed as civil servants. Every trekker was known as a nominal Christian believer and an official member of a congregation of this church. Their official bond or connection with the DRC opened the way for every trekker in the laager to join in a promise or a vow to God by the trekkers in Natal in 1838 before their battle against Dingaan and his Zulus on 16 December of that year.

In the nine articles, article one used the ecclesiastical term Reformed members as an indication of their approach to life in society as a whole. Their aim was a real Christian community in every aspect of life and Reformed the term for their approach to and understanding of Christianity. Furthermore, in the fourth of the nine articles, they spoke of their expected homeland as a promised land – promised by God. Their belief in such a land showed their confession of the providence of God and their belief that God in his plan opened a possibility for them as a new independent nation.

The nine articles opted for a people’s democracy with a governor, magistrate and Political Council. The meeting of the people, or “volksvergadering”, was the highest authority in society. New Holland was a democracy, but guided and limited by Christian principles. Therefore they decided on the nine articles as reformed Christians. Every member of their government took an oath in support of the nine articles, an oath which was marked by a promise to act in a just way or to strive for justice in and through this society. This was expected from every person or citizen joining them.

The names and terms used by the Boers showed the influence of more than one background.

The term Reformed members had a Dutch Reformed background – as already indicated. The names governor, magistrate and Political Council linked them with life in the Colony as a background, be it the Dutch-dominated Cape or the British Cape Colony. Out of the history in June 1837 republics like Natalia (1838–1843), the South African Republic (1852–1902) and the Orange Free State (1854–1902) developed. Each of these was an example of the core that was shown at the Vet River: the desire of Afrikanerpeople for political independence. 

Keywords: Boer emigrants 1837; Christian reformed society; democracy; justice to all in society; promised land

 

1. Inleidend

Op Dinsdag 6 Junie 1837 om 09:00 het die kerkklok gelui om die Boere-emigrante1 of “volkschaar van ‘t leger” wat in die omgewing van die Klein- en Groot-Vetrivier enkele kilometer suidwes van die huidige Winburg2 gestaan het, vir ’n mannevergadering of “algemeene volksvergadering” byeen te roep. Met hierdie aksie het “omtrent 140 mannen, in diepe stilte, plechtig en eerbiedig” onder die “blote hemel” saamgetrek by die veldtent van hulle verkose goewerneur, Piet Retief. Hier het Retief, eerwaarde Erasmus Smit en ene Scholtz of Schultz wat as leser sou optree, hulle “in’t midden van de toegevloeide schaar” ontmoet sodat die vergadering kon begin. Na ’n kort inleiding deur die goewerneur het Smit op versoek van Retief “de zegen en de vrede over’t plechtige werk van deze dag” van die Here afgebid – ’n gebed wat die eerwaarde, in sy eie woorde, “op treffende wijze” en knielend gedoen het (Preller 1920:101; Preller 1988:66).

Hierdie vergadering onder die oop hemel volg op ’n soortgelyke byeenkoms op 17 April 1837 in die trekkerleier Gert Maritz se laer. Hier is Piet Retief as goewerneur en leeraanvoerder van hierdie deel van die emigrasie of uittog en Maritz as regter-president of magistraat aangewys. Retief en Maritz sou bygestaan word deur ’n Raad van Politie (Politieke Raad) of Rechters – soos die regeerders van die emigrante in artikel twee van die Vetrivierartikels genoem is (Preller 1909:67; Preller 1920:300; Duvenage 1987:106). Na skatting was daar nagenoeg 2 000 emigrante en 1 000 ossewaens op hierdie stadium in die omgewing van die Klein- en Groot-Vetrivier byeen (De Jongh 1987:108).

Die byeenkoms van 6 Junie 1837 moes oor twee belangrike sake besluit: die grondreëls of nege artikels van die nuwe “Maatschappij” (term vir ’n trekkersamelewing in Vetrivierartikel drie) en die bestemming van die Trek. Historici praat van ’n beslissende vergadering en een van die “gewigtigste keerpunte in die geskiedenis van die Afrikaner Nasie” (Preller 1909:67). Dit word ook beskou as ’n saamtrek wat “die grondslae van die eerste […] onafhanklike Boerestaat in hierdie Suiderland gelê” het (Van Schoor en Van Rooyen 1960:58). Hoewel hierdie beskrywings uit ’n historiese oogpunt ietwat oordrewe is, het die byeenkoms van 6 Junie 1837 ’n belangrike aanduiding gegee van die benadering van die emigrante tot kerk en samelewing en die bestemming van die Trek. Vetrivier 1837 was nie ’n keerpunt as sodanig nie, maar ’n belangrike stap in die geskiedenis van die emigrantesamelewing. Die byeenkoms het nie die grondslae van ’n vrye Boerestaat gelê nie, maar was in sy kern ’n voortsetting van wat op 2 Desember 1836 by Thaba Nchu of Blesberg besluit is: Die hoogste gesag lê by die volksvergadering. By sy ontvangs in Maritz se laer op 12 April 1837 het Retief verklaar dat hulle by die geboorte van ’n nuwe volk in ’n nuwe staat staan (Duvenage 1987:104). Van Schoor en Van Rooyen is dus in die kol as hulle die reëlings by Vetrivier as die “embrionale fase” in die ontstaan van die Republiek van Natalia beskryf (Van Schoor en Van Rooyen 1960:58). Pont (1991) vat die betekenis van die gebeure raak as hy sê dat die emigrante met hierdie reëlings beklemtoon het dat hulle ’n vrye, onafhanklike volk met hulle eie regeringsinstansies wou wees (Pont 1991:283).

Die uitdrukking “Wij die gerefformeerde Leedematen” in artikel een van die Vetrivier-artikels – ’n frase en begrip waarmee dié artikels wegspring – moet in die lig van hierdie agtergrond verklaar word. Hierdie navorsing poog om deur middel van ’n literatuurstudie dié woorde in hulle historiese konteks te ontleed in die lig van die samelewingstradisie en -opvattings van die emigrante en hulle standpuntinname op die trekpad. Die studie werp lig op die benadering van die gemeenskapslewe van die Boere-emigrante en van die Boererepublieke in die binneland van Suider-Afrika in die 19de eeu. Die studie laat ook lig val op die houding wat ’n rol gespeel het in die aanpak van die Gelofte van 16 Desember 1838 en die Slag van Bloedrivier. Die feit dat die mans in die Vetriviertrekkergemeenskap hulle met ’n eed verbind het aan die nege Vetrivierartikels én daarmee die frase “Wij die gerefformeerde leedematen”, bring begrip vir die rede waarom alle trekkers (hulle was slegs mans) in die Wenkommando van Andries Pretorius in Desember 1838 voor God ’n gelofte kon aflê en dit met hulle gewete kon rym. Alle trekkers by Vet- én Bloedrivier was lidmate van ’n NG-gemeente in die Kaapkolonie, maar op trek of “reizend” (De Jongh 1977:138; Van der Watt 1977:20).3 Boonop sou slegs NG-lidmate “staatsposte” in Nieu-Holland, die naam van die nuwe trekkerstaat, kon beklee (Preller 1920:300–1). Wat meer is, in sy bykomende eed as goewerneur op 11 Junie 1837 belowe Retief om die NG Kerk as die “Gereformeerde Kerk”,4 soos daarna verwys is, te beskerm en te ondersteun (Preller 1920:106; Duvenage 1987:120). Daarom was die Boere-emigrante in die omgang as die Vetrivierartikels se gereformeerde lidmate bekend.

Dit is op die betekenis van die uitdrukking “Wij die gerefformeerde Leedematen” in artikel een van die Vetrivierartikels van 1837 wat hier ingegaan word. Daar word gekyk na diegene wat die leiding geneem het by die opstel van die nege artikels, na hulle gebruik van die uitdrukking “gereformeerde lidmate”, na die samelewingsagtergrond in die Kaapkolonie waaruit hulle kom én die Nederlands-Kaapse (ook Brits-Kaapse?) invloed hierop en hulle oogmerke met die Vetrivierreëlings.

 

2. Die ontstaan van die nege artikels

Die ontstaan van die nege artikels soos voorgelê aan die volksvergadering van “omtrent” 140 man op 6 Junie 1837 is terug te voer na goewerneur Retief, landdros Maritz en die Politieke Raad soos aangewys op 17 April 1837. Behalwe Retief en enkele lede van die Raad was hierdie manne almal by die voorloper van Vetrivier 1837, die vergadering by Thaba Nchu op 2 Desember 1836, waar hulle op ’n soortgelyke liggaam verkies is. Na die instelling van ’n regering by Thaba Nchu het die trekkers noordoos beweeg en “aanmerklik aangegroei” deur die toevoeging van nuwelinge. Die vermeerdering van trekkers (De Jongh 1977:127) en behoefte aan eenheid onder één hoofleier het tot die nuwe reëlings in die Vetrivieromgewing gelei (Duvenage 1987:105; Visagie 2012:138).

Die nege artikels word deur hulle regeerders of regters,5 naamlik die goewerneur, magistraat en Politieke Raad soos op 17 April 1837 verkies, aan die volksvergadering van Boere-emigrante op Dinsdag 6 Junie 1837 vir goedkeuring voorgehou (Preller 1920:101; Preller 1988:66). Dat hierdie vergadering die hoogste beslissings in belangrike sake in hierdie maatskappy kon vel, is veelseggend. Dit het gegaan om ’n demokrasie waarin elke man se stem kon bydra tot die besluite wat hom en sy huisgesin raak. Dit het verder gegaan om besluite van mondige burgers wat geag word verantwoordelik te kan saampraat oor sake wat hulle raak. Besluite is deur ’n beproefde meerderheid aanvaar. Mondige burgers het hulle deur relevante meriete-argumente in ’n ordelike samelewing laat oortuig en nie deur onkunde en onmondigheid die kwaliteit van regering verlaag of benadeel nie.

Twee voorbeelde steun hierdie waarneming: die openbare Manifes van Retief in April 1836 wat die redes vir die uittog as ’n basis vir gesprek in ’n demokrasie verskaf (Duvenage 1987:77–81) en ’n algemene aanvoeling by die trekkers dat kerk en staat in ’n ontplooide samelewing na hulle aard verskil en prinsipieel nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie (Van der Watt 1977:18–20; Strauss 2011:264–77). Hierdie voorbeelde dui egter op ’n tendens en kon nie waarborg dat nierelevante maatstawwe soms die pas aangee nie. Daarvan getuig die rusies, twiste en afwykings onder die trekkers (Storm 1989: 37–9, 44–50; Preller 1909:75–7). Werklike misdade het selde in hierdie maatskappy voorgekom. Retief maak slegs gewag van ’n poging om ammunisiewaens op te blaas en ’n geval van huweliksontrou – met regsimplikasies (Preller 1909:65–6).

Uit die besluite wat by Blesberg en nou by die Vetrivier geneem is, blyk dit dat dit hier nie gegaan het om ’n professionele grondwet met ’n geweegde inrigting van die staat en die regte van die burgers, vreemdelinge en niestaatlike lewensvorme soos kerk, huwelik, en gesin nie. Dit het hier gegaan om ’n aanvoeling en respek vir die ordelike verloop van sake deur demokratiese prosesse in regsbelang van die hele trekkergemeenskap (Van der Watt 1975:50–60).

Na die gebed van Erasmus Smit het Retief “de heer J. Scholtz” versoek om “de uit’s volks naam gemaakte en ingeleverde resolutie van 9 artikelen voor te lezen”.6 Bedenklike formulerings in die eerste twee artikels is gewysig, en nadat dié artikels “opgehelderd” is, is die gebede van die leiers of regters verhoor: Die lede van die vergadering het mekaar oor die Vetrivierartikels in eensgesindheid en vrede gevind en die nege artikels goedgekeur (Preller 1920:101–2; Preller 1988:66).

Uit bronne soos onder meer ooggetuieverslae in Smit se dagboek is dit nie duidelik wie spesifiek vir die bewoording van die artikels verantwoordelik was nie. Frases daarin soos “de Volkstem”, “deezen Vereenigde Laager”, “de Maatschappij”, “de Limieten van de Vereenigde Laager”, “Bedoelde land” en “Eed af te leggen” is gebruiksterme wat moontlik verstaanbaar in die laers (nou die nuwe Verenigde Laer) van die trekkers was. Daarom wys Smit op die nege artikels wat in die naam van die volk gemaak is en vir die Trekkers nie onbekende terme moes gewees het nie. Die begrippe moes deel gevorm het van hulle verstaan van maatskappy en politiek en moes opgeduik het in gesprekke hieroor onder die trekkers. Dit bevat waarskynlik terme wat hulle ook in die politiek van die Kolonie gehoor het. As Preller in 1920 die volledige teks van die nege artikels weergee, skryf hy dat die Politieke Raad tussen 17 April en 5 Junie 1837 die artikels opgestel en aanvaar het en dat 5 Junie die dag is waarop dit aan die goewerneur “opgedraag” is. Die artikels is in hierdie tyd geformuleer en by die “volksbijeenkomst” van 6 Junie voorgelees, gewysig en aangeneem (Preller 1920:299).

 

3. Die ontstaan van die nege artikels nader bepaal

Volgens ’n skatting was daar teen 1780 omtrent 10 000 blanke veeboere tussen die Breë- en Visrivier in die oostelike distrikte van die Kaapkolonie gevestig. Die bewind van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie het nie tred gehou met hierdie verskuiwings nie en die veeboere tot ’n groot mate aan selfbestuur en selfbeveiliging oorgelaat. ’n Afwesige landsbestuur het die boere se belewing van ’n sentrale uitvoerende gesag afgestomp en ’n vrye, soms losbandige, gees gestimuleer. Aan die ander kant het hierdie toestand daartoe gelei dat veeboere met ’n Christelik-godsdienstige inslag self moes sorg vir orde, veiligheid en vrede met die Boesmans, Xhosas en ander inheemse groepe. Hierdie feit het hulle selfstandigheid en sin vir ’n onafhanklike, eie gemeenskap verskerp en ontwikkel (Van Schoor en Van Rooyen 1960:34; De Villiers 2012:56–60).

In Mei 1778 word daar ’n geskrif in die geheim onder die Kaapse burgers versprei wat die “vrijheden eener Burgerlijke Maatschappij verdedigt”. Die Vetriviergemeenskap of -maatskappy sou dus ’n uitvloeisel van hierdie maatskappy kon gewees het.

In 1779 word ’n petisie gesirkuleer wat vir die eerste keer verteenwoordiging van die Kaapse burgery in die Politieke Raad, of Raad van Politie, eis. In die debat hieroor word die stelling gemaak dat elke burger sy eie welsyn sowel as die welsyn van sy medeburgers moet bevorder en dat die “Almachtige Schepper” hierdie taak aan elke mens opgedra het. Hieruit vloei die plig van elke mens om die “Burgerstaat daar hij een lid van is” met alles in sy vermoë te bevorder. Die regeerders moet die volkswil vasstel deur te luister na die volkstem, omdat die “heil des Volks de opperste Wet” en die “algemeene nut” die doel van regering is. Hierdie doel kan bereik word deur die regte en “gemeene best” van alle onderdane te handhaaf. Regeerders moet meer op die geheel as op die dele van die maatskappy konsentreer, en hulle regeertaak is deur God Almagtig aan hulle opgedra.

Van Schoor en Van Rooyen sluit aan by Coenraad Beyers in sy relaas oor die Kaapse Patriotte as hulle tot die gevolgtrekking kom dat die Kaapse burgery in hierdie sake met “nuwere denkbeelde […] meerendeel vanuit Nederland” in sy Patriottebeweging beïnvloed is. Dit is denke wat ten opsigte van die stem van die indiwiduele burger en regering in algemene nut of regsbelang raakpunte met die denke van die gereformeerde kerke vertoon, maar met die onpersoonlike verwysing na God as die onsydige almagtige Skepper, op die mens en sy regte uit ’n mensgesentreerde hoek in plaas van die eer van God konsentreer. Verabsoluteerde demokratiese opvattings maak die mens sy eie wetgewer en die heil van die volk, in plaas van die eer van God, “de opperste Wet”. Immers, uit ’n Calvinistiese of gereformeerde oogpunt moet die God van die Bybel as Heer en Meester (Baas, Wetgewer en Rigtingwyser) van alles en almal eerbiedig word (Van Schoor en Van Rooyen 1960:29–34; De Jong 1987:196).

Hoe sterk die emosionele lewensband van die emigrante met Nederland ná die permanente Britse besetting van die Kaap in 1806 was, blyk uit die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) (Strauss 1995:426–32). Dit word egter ook duidelik uit die feit dat die Boere-emigrante op 6 Junie 1837 op voorstel van eerwaarde Erasmus Smit op “De Vrije Provincie van Nieu Holland in Zuid Oost Afrika” as hulle naam besluit (Preller 1920:102; Preller 1988:67). Hierdie lewensband met veral gereformeerde Nederland is deel van die konteks van 6 Junie 1837 en die Vetrivierartikels. Daarby toon die besluit iets van die meer “geleerde” eerwaarde se invloed op sy toehoorders en hulle Politieke Raad.

Die nege Vetrivierartikels toon met twee begrippe ’n ander prinsipiële vesel of grondlyn as die 19de-eeuse humanisme – twee begrippe wat in hierdie stuk bepalend geposisioneer word. Artikel een se aanhef – by gebrek aan ’n titel byna ’n opskrif vir die dokument – val weg met “Wij die gerefformeerde Leedematen”. Daarby gebruik artikel vier die uitdrukking “bedoelde land” twee keer (Preller 1920:300–1). Ten opsigte van die gereformeerdheid van die lidmate van die kerk as ’n geloofsoortuiging wat die hele lewe en daarom ook die maatskappy moet rig, is Erasmus Smit op talle plekke in sy dagboek uitgesproke (Preller 1920:95, 105, 107). Vir die eerwaarde en kerklidmate dui “bedoelde land” op ’n land wat in die voorsienigheid van God Drie-enig beskik word. God se voorsienigheid en bepalende wil word in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), artikel dertien as ’n gereformeerde waarheid bely (NG Kerk-Uitgewers 1982:16; Strauss s.j.:15).7 By die aflegging van sy bykomende eed op Sondag 11 Junie 1837 in die kerkdiens onderneem goewerneur Retief om iemand wat nie ’n lidmaat van die NG Kerk is nie, nie in regeringsdiens te neem nie en die “Nederduitse Gereformeerde” of “voormelde Gereformeerde Kerk” met sy Heidelbergse Kategismus en “Christelike Geloofsbelijdenis” of NGB as belydenisse én sy “Liturgieën” te “protecteren en beschermen”. Retief sonder artikel 36 van die NGB uit waarvolgens van die staatsowerheid verwag word om die ware kerk met sy staatsapparaat te bevorder (Preller 1920:106; Preller 1988:66; Polman s.j.:266; De Jongh 1977:128, 136). Die aflegging en inhoud van hierdie eed vind plaas op aandrang van Erasmus Smit (Preller 1920:103–5; De Jongh 1977:136–7). Hoewel Smit nie deel van die emigrante se “gouverneur in raaden” (die goewerneur, magistraat en Politieke Raad – vgl. term in Vetrivierartikel twee, Preller 1920:300) was nie en die nege artikels volgens Smit uit die geledere van die regeerders of Politieke Raad kom, het hy, die enigste sendeling of bedienaar van die Woord8 op trek, waarskynlik ’n beslissende hand hierin gehad. Verder in die artikel word weer hierby aangesluit. Genoeg om te sê dat die geestelik-kulturele agtergrond van die artikels met hierdie stellings aangetoon word.

Terme soos “goewerneur”, “goewerneur in rade”, “magistraat” en “limieten” van die Verenigde Laers toon Kaaps-Hollandse en Kaaps-Britse invloed op die Vetrivierartikels. Dit kan ook nie anders nie, want hierdie begrippe was deel van die samelewing wat die trekkers geken het.

 

4. Die nege artikels ontleed

4.1 “Wij die gerefformeerde Leedematen”

Duvenage beweer dat “kerkloosheid” of “-losheid” onder die emigrante “haas onbekend” was. Hulle is aan hulle Christelike geloof geken te midde van ’n “omringende heidendom”. Die Christelike godsdiens was ’n bewys van beskawing, opvoeding (nie soseer akademiese geleerdheid nie) en moraliteit. Jacobus Stuart, wat vir die Transvalers of Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in die 1850’s hulle grondwet help skryf, merk in 1852 op dat hy hulle gemeentevergaderings ervaar “as verplaast te zijn en in […] gemeentevergaderingen, door de Apostelen bijeen geroepen” (Duvenage 1987:108–9). Die drie kerkraadslede van die emigrante wat op 8 Februarie 1837 gekies is, naamlik J.S. Maritz, S.A. Cilliers en C. Viljoen, sirkuleer op 19 Mei 1837 ’n lys vir fondse om ’n “behoorlijke kerk te stichten of te bouwen zoodra wij met Gods hulp tot ons bedoelde land […] zullen gekomen zijn”. Daarom soek hulle “een bekwaam Leeraar van de Gereformeerde Religie” (Dreyer 1929:10). Hulle opper die laaste behoefte ten spyte van die feit dat goewerneur Retief, soos ’n kommissaris-politiek in die Kaapse NG Kerk, op Smit as predikant vir die trekkers besluit, hom op 21 Mei 1837 aan die gemeente voorstel en sy bevestiging deur homself inisieer (Preller 1988:64).9 Daar was blykbaar ’n werkbare konsensus onder die trekkers dat Smit nie hulle permanente herder en leraar kan wees nie, maar die amp voorlopig sal beklee. Hy was immers nie ’n NG Kerk-gelegitimeerde of -erkende leraar nie. Retief as die kommissaris-politiek het daarby aanvaar dat Smit die bevestigingsformulier aan homself kon voorhou as daar nie ’n erkende leraar daarvoor is nie, soos ’n dominee wat sy eie kind doop nadat hy geantwoord het op die formulier wat hy self voorhou. In sy hoedanigheid as ’n indiwiduele burger het Retief ook die kollektelys vir die verkryging van ’n ander of “bekwaam Leeraar” geteken (Duvenage 1987:115). Uiteindelik teken 140 man die lys (Dreyer 1929:10). Dit is opmerklik dat die kerkraadslede van “bedoelde land” praat en dat F.A. Venter met die titel van die vierde boek in sy reeks oor die Groot Trek, Bedoelde Land, ’n gebruiksterm onder die Vetrivier-gereformeerdes van 1837 raakvat.

In hulle motivering vir kerkfondse verklaar die kerkraad dat ’n “Christelijke maatschappij” deur die trekkers gevestig moet word. So ’n maatskappy moet gegrondves word op die openbare godsdiens as die bepalende grondslag daarvan. Retief en Maritz oorhandig ook op 6 Junie 1837 ’n brief met die opdrag aan Frans Schultz om ’n dominee vir die trekkers te soek. In die brief weerklink die nege artikels met hulle konsentrasie van gesag in die volkswil of volkstem as dit namens die “algemeene Volkstem van die Provincie genaamd Nieu Holland gelegen in Zuid-Oost Afrika” praat. Die opdrag: dat Schultz “een goeden en bekwamen Gereformeerde Leeraar” aan die Kaap die Goeie Hoop of elders vir hulle soek. Retief en Maritz onderteken hierdie opdrag met sewe mans uit die maatskappy as getuies (Dreyer 1929:11–2). Later bevestig Schultz dat Smit voorwaardelik deur Retief aangewys is totdat hulle ’n “bekwaamt en waren Gereformeerden Leeraar” kry (Dreyer 1929:22).

Hierdie agtergrond bevestig dat die nege Vetrivierartikels met “Wij die gerefformeerde Leedematen” in artikel een, na bedoeling verband hou met die Christelike lyne in die samelewingsvisie van die Boere: “Wij die gerefformeerde Leedematen” in “een Christelijke maatschappij”. Artikel een se “gerefformeerde Leedematen” moet dus saam met artikel drie se “Maatschappij” gelees word. Gereformeerdwees is ’n omskrywing van daardie snit van Christenwees waarin die emigrante hulle bevind. “Gerefformeerde Leedematen” met ’n gereformeerde visie op die samelewing beskryf hulle benadering van Christenwees. Pont trek parallelle tussen dié trekkermaatskappy en Calvyn as dit gaan oor die onderskeid tussen en aanvullende optrede van die kerk en die staat teenoor mekaar én hulle gebondenheid aan Gods wet (Pont 1991:288; Sizoo III s.j.:566, 574).

Die saak van gereformeerdwees weerklink nie net in Vetrivierartikel een en die versoeke van die trekkers om ’n bekwame gereformeerde leraar nie. In sy dagboek gee Smit meer kante daarvan – kante wat Boereweersin in die filantropiese hantering van inheemses deur die “sendelingsgenootskap van Engeland”, die LMS (London Missionary Society), insluit. Dit gaan om ’n negatiewe houding teenoor die LMS vanuit ’n gereformeerde vertrekpunt. Die LMS het met die grensboere in die Oos-Kaap gebots. In sy Manifes met redes vir die Trek verwys Piet Retief na “belanghebbende en oneerlike persone, onder die dekmantel van godsdiens” wie se twyfelagtige getuienis oor die Boere se “slegte behandeling” van gekleurdes in Engeland geglo word. Hierdie dinge gebeur ten spyte van bewyse wat die Boere se optrede bevestig. Hy glo dié vooroordeel sal tot ondergang van die land lei (Preller 1909:53). Die wrewel teenoor die LMS lê so sterk in die trekkergemoed dat dit artikel een van die Vetrivierartikels haal. Dit kom ook in standpunte van die Boerepublieke ná die Trek voor (Duvenage 1986:104). President Paul Kruger praat in die 19de eeu in die Vetriviertradisie as hy sy politiek op “’n Christelike basis” en nie ’n “liberalistiese” basis nie, grond (Du Plessis s.j.:128). Dit is ook bekend dat die Boere-emigrante deur vredesverdrae met inheemse opperhoofde na ’n vreedsame toekoms en erkenning vir ’n nuwe Boerestaat in vreedsame naasbestaan met hierdie groepe gesoek het (Du Plessis s.j.:102, 128).

Op Sondag 30 April 1837 maak Smit gewag van sy gereformeerde godsdiensoefening wat verhinder is deur die preeklus van die “Remonstrantsgezinde” Wesleyaanse sendeling van Thaba Nchu, James Archbell (Preller 1920:95). Deur sy aanduiding van ’n gereformeerde aversie van “remonstrants” toon Smit kennis van die groot punt op die gereformeerde Dordtse Sinode van 1618–1619 (De Jongh 1977:125, 138–9). Hierdie Sinode kies vir ’n Goddelike uitverkiesing op grond van die genade van God sonder die remonstrantse moontlikheid van ’n verdienste by die mens. Vir sy besluite oor die geloofsleer word die Dordtse Sinode uit meer as afgevaardigdes uit Nederland saamgestel en vorm dit die eerste gereformeerde ekumeniese sinode in die geskiedenis van die kerk. Oor die uitverkiesing van God word die Sinode gevorm deur afgevaardigdes uit gereformeerde kerke in Engeland, Duitsland, Switserland en Nederland. Die Dordtse Leerreëls, een van die Drie Formuliere van Eenheid in gereformeerde kerke met ’n Nederlandse konneksie, kom op hierdie vergadering tot stand (Kuiper 1995:268). Smit staan krities teenoor die remonstrantse dwaling by die Londense en ander sendinggenootskappe (Pont 1991:284). Hy noem die NG Kerk met sy Drie Formuliere van Eenheid of belydenisgrondslag soos aanvaar by die Dordtse Sinode in 1619 die aanvaarde en “voormelde” Gereformeerde Kerk (Peller 1920:106). Die trekkers kom almal uit ’n NG-gemeente in die Kolonie en wil hierdie band behou. Vir hulle moet kerk en staat, naas die onderlinge hulp en steun aan mekaar, onderskei word en kan die burgerskap van ’n persoon nie sy kerklidmaatskap bepaal nie – ’n houding wat ook uit hulle optrede op die trekpad blyk (Van der Watt 1977:214).

Vir die opstellers van die Vetrivierartikels was die uitdrukking “Wij die gerefformeerde Leedematen” in artikel een ’n samevatting van die lewensbeskouing en geloofsinhoud van die burgers van Nieu-Holland in Suidoos-Afrika en van die grondslag van hulle Christelike maatskappy. Om hulle eenheid en trou aan hierdie maatskappy en die nege artikels uit te druk, het Scholtz met Erasmus Smit se hulp ’n eed van getrouheid vir elke lid van die volk en elke “regter” (soos die goewerneur, magistraat, predikant en Politieke Raad) opgestel wat ná die aanvaarding van die nege artikels sowel as ’n naam vir die nuwe land op 6 Junie 1837 afgelê sou word (Preller 1988:67). Artikel nege het bepaal dat elkeen wat hom by die verenigde laer van Nieu-Holland aansluit, so ’n eed van getrouheid moes aflê (Preller 1920:102, 301).

Die ede is uitdruklik voor God Almagtig, wat bely word teenwoordig te wees, gedoen.

Retief het voor Maritz as regter-president belowe om as goewerneur en opperhoof “dezen Volkschaar” tot hulle algemene nut en die eer van God te regeer en die nege artikels met reg en geregtigheid te handhaaf. Maritz het voor goewerneur Retief dieselfde as die regter-president belowe. Die lede van die Politieke Raad het voor Retief gesweer om die nege artikels te gehoorsaam deur hulle pligte met reg en geregtigheid na te kom. As die dominee van die gereformeerde kerk het Smit voor die Here en die goewerneur belowe om die nege artikels en die wette wat gemaak word, te eerbiedig. Behalwe die drie vrederegters het elke lid van die volk laastens voor God en die goewerneur gesweer of ernstig belowe om hulle aan die nege artikels en die wette wat daaruit mag vloei, in reg en geregtigheid, te hou (Duvenage 1987:117–9).

As ’n konsekwensie van hulle gereformeerde kerklidmaatskap het die “volkschaar” van hierdie Nieu-Hollandse maatskappy hulle met ’n eed aan die algemene nut en welsyn van die maatskappy verbind: ’n band wat sy inhoud op basis van reg en geregtigheid moes kry; ’n keuse wat gemaak was deur die volkstem waarby ’n ieder en ’n elk met ’n eed betrek is; ’n eed wat uit ’n Christelik-gereformeerde hoek egter onnodig was indien elkeen hom – daar is geen aanduiding dat die vroue hierby betrek is nie – deur sy woord met die artikels vereenselwig. Immers, as ’n Christen sy woord gegee het, moet dit vir hom so goed wees soos om te sweer of ’n ernstige belofte. 

4.2 Trou aan die trekkermaatskappy

Die veronderstelling vanuit ’n konsekwente Christelike benadering is dat ’n samelewing op basis van reg en geregtigheid sy gesag sowel as wet en orde handhaaf met wat regverdig teenoor almal in die betrokke situasie is – besoekers en vreemdelinge ingesluit. Deur die handhawing van die reg – soos God dit wil (Psalm 72:1) – skep ’n owerheid vir sy onderdane die regsruimte om as beelddraers van God op alle terreine te leef. So word die owerheid vir sy “mense” soos die reën vir die plante (Psalm 72:8; Fowler 1988:28).

Om hierdie rede is Vetrivierartikel een se gereformeerdwees die prinsipiële basis vir die volgende agt artikels. Artikel twee bou op artikel een en skep ’n basis vir die volgende sewe artikels.

Artikel twee bepaal dat kerklike en regeringsampsdraers of alle “regters” of rigters deur die volk verkies of die goewerneur of goewerneur in rade aangewys, in die uitvoering van hulle pligte gehoorsaam moet word. So nie, kan hulle deur wette van die regters gestraf word. Artikel drie reël dat diegene wat hulle nie aan artikel een en twee hou nie, deur die Verenigde Laer of sy wettige orgaan as lede van die trekkermaatskappy geskors kan word om nie binne sy limiete te mag woon of jag nie. Artikel vyf en ses reël dat diegene wat nie by die vergadering van 6 Junie teenwoordig was nie, die eed oor die nege artikels en maatskappy die volgende dag moet aflê. Daar word aanvaar dat diegene wat sonder gewigtige redes weier om dit te doen, daarteen stem. Artikel sewe bepaal dat almal wat hulle van die Verenigde Laer afskei, self die verantwoordelikheid vir hulle “onwettige” handeling moet dra. In artikel agt word neergelê dat persone wat nie artikel een en twee gehoorsaam nie, nie in die voordele van die Verenigde Laer mag deel nie. Artikel nege reël dat diegene wat by die maatskappy wil aansluit, “dadelijk” die eed van getrouheid aan die artikels en regters moet aflê en dat hulle wat die Laer wil verlaat, hulle skuld binne 48 uur moet betaal. So nie, sal van hulle eiendom verkoop word om die skuld te delg (Preller 1920:300–1; De Jongh 1987:109–10).

Wat uit die nege artikels duidelik is, is dat die trekkermaatskappy op gereformeerde grondslag vir sy vestiging en ontplooiing ’n behoefte gehad het aan eerbied vir gesag, konstruktiewe verhoudinge in die gemeenskap en sinvolle volksaangewese staatsfunksionarisse of “regters”. Die behoefte het uit die volkswil gespruit en moes gestalte kry om die potensiaal wat in die gemeenskap opgesluit lê te ontwikkel in ’n selfstandige staatsgemeenskap. Die funksies van die regters of rigters moes berus op reg en geregtigheid soos vervat in die ede wat hulle afgelê het. Hierdie reëling het die reisende Nieu-Holland teen die gevaar beskerm dat die Boere versplinter en die reg, in geïsoleerde omstandighede, in eie hande neem – ’n moontlikheid wat tot ’n verval van die reg in plaas van ’n ordelike regstaat kon lei.

Nie alles wat hulle geestelik en sosiaal saamgebind het, word in die nege artikels vervat nie: gemeenskaplike waardes vir oorlewing in ’n nie-ontwikkelde omgewing;10 ’n gemeenskaplike lotsbestemming in ruwe omstandighede; die begeerte om in die binneland van Suider-Afrika ’n eie onafhanklike staat op Christelike beginsels of waardes te skep; en ’n gemeenskaplike gemeenskaps- of kultuurstyl (Duvenage 1986:113).

Dreyer praat van die “generale bijeenkomst” wat op 6 Junie 1837 rondom Retief verenig het, aan hom as hulle “Opperhoofd en zijne beampten” eerbied, gehoorsaamheid en trou beloof het én besluit het om van die LMS af te sien. Nadat die betrokkenes ’n eed afgelê het, het Erasmus Smit die verrigtinge afgesluit met ’n preek, ’n dankgebed, die sing van Gesang 69 en die seën in Numeri 6:24–26 (Preller 1920:103; Preller 1988:66–8). Die volkskaar van 140 “mannebroeders” het die maatskappybyeenkoms laat oorgaan in ’n godsdienstige erediens met liturgiese elemente. Volgens ’n waarnemer was die sang “zeer verrukkend”. Vir die gereformeerdes van Vetrivierartikel een was dit nie vreemd nie – die sang het hulle Christelike geloof en positiewe ingesteldheid geïllustreer (Dreyer 1929:23–4).

Gemeet aan die teks van die nege Vetrivierartikels wou die Verenigde Laer ’n gemeenskap op Dordts-gereformeerde beginsels geskoei, maar breër as die kerk, vestig. Die kerklik-godsdienstige impak van die Dordtse Sinode van 1618–1619 was bepalend aanwesig in die kerk op die trekpad en in die NG Kerk aan die Kaap: belydenisgewys, kerkordelik en liturgies (Strauss 2010:7–13). Hierdie kerk sou ’n geestelike anker in ’n ontwikkelende gemeenskap wees (Strauss 2011:266). As iemand wat die Trek as ’n tiener meegemaak het én deel in die geestelike erfenis, voer die president van die ZAR, Paul Kruger, in 1888 aan dat kerk en staat elk sy eie werksterrein het, maar voor God, sy Woord en wet moet saamwerk: “… die staat is op die kerk gebou” (Du Plessis s.j.:45, 124).

Vetrivierartikel een met sy begrip van gereformeerde lidmate, die NG Kerk as die “voormelde Gereformeerde Kerk” en die Christelike maatskappy van die trekkers moes mekaar ondersteun en aanvul. In die laaste twee dekades van die 19de eeu noem Paul Kruger die onafhanklikheid van die ZAR sy doel as staatshoof omdat die Here ’n “welbehae” daarin het. Selfs die ongelowiges – vir Paul Kruger was die Christelike geloof ’n voorwaarde vir Afrikanerwees – moet erken dat die Here die Boere vrygemaak het (Du Plessis s.j.:32). Kruger regeer oor die Afrikaners as, syns insiens, Gods volk, en daarom moet hy al die regte en voorregte wat God aan hulle skenk, bewaar en daaroor aan die Here verslag doen (Du Plessis s.j.:44). By die Paardekraalse Geloftefees van 1891 loop hy die pad van Vetrivier 1837 as hy sê dat dit God is wat die Boere uit die Kaapkolonie gelei en vrygemaak het (Du Plessis s.j.:92).

 

5. Slot

Hoewel die Vetrivierreëlings van die emigrante ’n Nederlands-gereformeerde begronding toon, speel hulle Kaapse koloniale erfenis – onder Nederlanders tot 1806 en daarna onder Engelse – ook ’n rol. Daarom dra Retief die titel van goewerneur en kies hulle die Politieke Raad om hom by te staan, ’n raad waarvan die bepalings onder meer deur Maritz as landdros of magistraat uitgevoer moes word.

Die eerste woorde van die Vetrivierartikels verwoord die uitgangspunt van die Boere vir hulle nuwe gemeenskap: “Wij die gereformeerde Leedematen”. Hierdie woorde verwys na mense wat in kerk en samelewing of in hulle gemeenskap op ’n lewensomvattende Dordts-gereformeerde, Christelike basis leef. Die woorde verwys na ’n gemeenskap waarin kerk en staat mekaar vanuit hulle tipiese funksies aanvul en die NG Kerk bevoorreg en sentraal staan, ’n gemeenskap met ’n staatserkende gereformeerde kerk of die NG Kerk waarin kerk en staat albei onder die wet of tien gebooie van God staan.

Die Vetrivierreëlings was ’n verdere trappie in die republikeinse tradisie van die Boere van die 19de eeu. Twee koersbepalers kom in die artikels voor, naamlik ’n Christelike of gereformeerde lewensoriëntasie en ’n volksdemokratiese inslag: ’n volksdemokrasie wat hom verbind aan reg en geregtigheid vir almal. Die nege Vetrivierartikels was nie ’n model- of welgeskrewe staatsgrondwet nie, maar ordereëls vir ’n nuwe, ontwikkelende staat en staatsbevolking.

D.F. Malan wou ’n eeu later heel waarskynlik op dieselfde visie bou met sy spreuk by die rantjie suidwes van Winburg gegee waarop die datum 1837 met wit klippe uitgepak is: “Glo in God, glo in jou volk en glo in jouself …”

 

Bibliografie

Cameron, T. (red.). 1986. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Jongh, P.S. 1977. Die lewe van Erasmus Smit. Kaapstad, Pretoria: HAUM.

—. 1987. Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor.

De Villiers, J. 2012. Die Kaapse samelewing onder Britse bestuur, 1806–1834. In Pretorius (red.) 2012.

Dreyer, A. 1929. Die Kaapse Kerk en die Groot Trek. Amptelike en ander stukke versamel en uitgegee. Kaapstad: Van de Sandt De Villiers.

Du Bruyn, J.T. 1986. Die Groot Trek. In Cameron (red.) 1986.

Du Plessis, J.S. s.j. President Kruger aan die woord. Bloemfontein: Sacum.

Duvenage, G.D.J. 1986. Die Groot Trek. Die eerste drie jaar. Vegkop. Pretoria: Sigma Pers.

—. 1987. Die Groot Trek. Die eerste drie jaar. Die Manifes. Pretoria: Sigma Pers.

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.

Kriel, F. s.j. Die lewe van Frans Lion Cachet. Met besondere toespitsing op sy betekenis vir die sending. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Kuiper, B.K. 1995. The church in history. Grand Rapids: Eerdmans.

Lion Cachet, F. 1866. Aan die leden der Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek, en voorts aan allen die de Gereformeerde Kerk liefhebben, wordt het navolgende Verslag … aangeboden door F. Lion Cachet, predikant te Utrecht. Pietermaritzburg: Davis en Zonen.

—. 1883. De worstelstrijd der Transvalers. Aan het volk van Nederland verhaald. Amsterdam: Höveker en Zoon (2de druk).

NG Kerk-Uitgewers. 1982. Ons glo … Die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

Pienaar, S. 1964. Glo in u volk. D.F. Malan as redenaar 1908–1954. Kaapstad: Tafelberg.

Polman, A.D.R. s.j. Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis IV. Franeker: Wever.

Pont, A.D. 1991. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg II. Pretoria: Kital.

Preller, G.S. 1909. Piet Retief. Pretoria: Volkstem (8ste druk).

—. 1920. Voortrekkermense II. ’n Drietal oorspronklike dokumente oor die geskiedenis van die Voortrek (waaronder ’n verwerking van die Dagboek van Erasmus Smit). Kaapstad: De Nationale Pers.

—. 1988. Joernaal van ’n trek. Uit die dagboek van Erasmus Smit. (Geredigeer deur Gustav Preller, ingelei en versorg deur Merwe Scholtz.) Kaapstad: Tafelberg

Pretorius, F. (red.). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.

Sizoo, A. III. s.j. Johannes Calvijn Institutie. Delft: Meinema.

Storm, J.M.G. 1989. Die Voortrekkerkerk 1836–1853. Pretoria: Kital.

Strauss, P.J. s.j. Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg. Bloemfontein: Druforma.

—. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sun Media.

—. 2011. Nogeens: Watter kerk vergesél die Groot Trek? Acta Theologica, 31(2):264–77.

Van der Watt, L. 1975. Die onlosmaaklike samehang tussen religieuse grondmotiewe, wysgerige grondidee en staatsleer. In Wessels (red.) 1975. Bloemfontein: Sacum.

Van der Watt, P.B. 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834–1866. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Van Schoor, M.C.E. en J.J. van Rooyen. 1960. Republieke en Republikeine. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel.

Venter, F.A. 1960. Geknelde Land. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1964. Offerland. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1966. Gelofteland. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1968. Bedoelde Land. Kaapstad: Tafelberg.

Visagie, J. 2012. Uittog en verstiging van die Voortrekkers in die binneland. In Pretorius (red.) 2012.

Wessels, F. (red.). 1975. Op al sy akkers. Bloemfontein: Sacum.

 

Eindnotas 

1 Die benaminge Groot Trek en Voortrekkers dateer uit die 1870’s. In die 1830’s is daar vrylik na die Trekkers as Emigrante-Boeren verwys (Du Bruyn 1986:127). 

2 Die aanvaarding van die nege Vetrivierartikels vind enkele kilometer suidwes van die huidige Winburg by Retief se staanplek op De Houtplaas plaas (De Jongh 1987:109). Teen die rant langs die Klein Vetrivier is die datum 1837 in 1937 met witgekalkte klippe uitgepak. Hierdie baken lê tussen die huidige N1 en Bellspas op die ou teerpad tussen Winburg, Brandfort en Bloemfontein. Van Bloemfontein se kant is die 1837 duidelik op die linkerkant vanaf die N1 sigbaar. In 1937 het die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1948 tot 1954, D.F. Malan, hier die eerste keer sy gevleuelde woorde gebruik: “Glo in God, glo in u volk, glo in uself!” (Pienaar 1964:234–8).

3 Erasmus Smit het ook ’n doopregister vir die Gereformeerde Kerk wat deur Suidoos-Afrika reis, opgestel (De Jongh 1977:120).

4 In sy stryd vir die handhawing van die NG Kerk na die ontstaan van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die 1850’s praat ds Frans Lion Cachet ook van hierdie kerk as “ons Gereformeerde Kerk” (Cachet 1866:19–21; Kriel s.j.:6, 51). Cachet verbind die NG Kerk tereg aan die besluite van die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618–1619 en die ou Gereformeerde Kerk in Nederland van voor 1816 (Cachet 1883:317). 

5 Duvenage wys daarop dat die benaming “rechter” voor, tydens en na die emigrasie deur Afrikaners gebruik is om nie net regsprekende regters aan te dui nie, maar ook diegene in ’n regerende en administratiewe posisie – veral in die uitvoering van wette en verordeninge. Aletta Oosthuizen verklaar van Pretorius se Wenkommando by Bloedrivier dat hulle as “onze rechters en volk de Heere ’n belofte gedaan hebben”. By die aflê van hulle ede by die Vetrivier op 11 Junie 1837 het Erasmus Smit vir Maritz en die Politieke Raad voorgestel as Mosesse oor die verenigde laers en “Rechters”. Dieselfde soort regeerders is deur die volkstem op 2 Desember 1837 by Blesberg of Thaba Nchu as regters verkies. In die lig van hulle identifisering met oud-Israel is die uitdrukking “rechters” deur die emigrante gekoppel aan die rigters van die Ou Testament. Daar is talle voorbeelde waarin die emigrante in hulle taalgebruik die i met ’n e vervang het (Duvenage 1986:113, 116–8). Die tweede van die nege Vetrivierartikels bepaal dat die regters deur die volkstem aangewys, eerbiedig en gehoorsaam moet word (Peller 1920:300). Origens dui die benaming “regter” op die emigrante se gebruik van Bybelse voorbeelde in hulle daaglikse lewe.

6 De Jongh (1987:109) is van mening dat die nege artikels deur “private persone” opgestel en aan goewerneur Retief voorgelê is. Hy gee egter nie gronde vir hierdie bewering nie. Op sy beurt beweer Dreyer met gegronde bronne dat hierdie Schultz die besoekende Kaapse handelaar Frans Schultz was (Dreyer 1929:10–2).

7 In sy reeks van vier romans oor die Groot Trek betitel F.A. Venter sy vierde en laaste boek Bedoelde Land. Hy onderskei hom hierin as ’n deeglike en betroubare student van die geskiedenis van die Groot Trek (Venter 1960, 1963, 1966, 1968). Aan die einde met die bedoelde land bereik, bely Venter se hoofkarakter Rudolf Dreyer dat hy moet aanhou glo, anders is alles vergeefs.

8 Die aanstelling van Erasmus Smit as die leraar van die Trekkers was omstrede omdat hy as ’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap nie volledige predikantsopleiding gehad het en “georden” was nie (De Jongh 1977:127–33).

9 Nadat Retief op Sondag 21 Mei 1837 voor ’n “aanzienlike gemeente” verklaar het dat hy geen beswaar “dat hem het kon beletten” teengekom het nie, versoek, in Smit se woorde, “ZEd” die “WelEerw heer Erasmus Smit” om self die gebruiklike bevestigingsgformulier vir predikante in die NG Kerk voor te lees en daarop te antwoord (Preller 1920:98).

10 Die ontwikkeling van ’n demokratiese regstaat vir ’n gemeenskap vra geestelike drakrag by die gemeenskap vir die waardes, stabilisering en voortsetting van so ’n staat. Dit is opvallend dat die indiwiduele burgers van Nieu-Holland hulle in hulle eed ook aan reg en geregtigheid verbind. So ’n verbintenis is nie beperk tot die regters of regeerders nie. In ’n demokratiese regstaat moet die volkswil ook die kwessie van reg en geregtigheid vir almal as die norm vir staatsoptrede kan onderskei.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top