Rooi Helen en ’n DA-LP, Masizole Mnqasela, is betrokke in ’n woordewisseling. Mnqasela het gedurf waag om die DA se Swazi-kader en Lindiwe Mazibuko, se geloofwaardigheid te bevraagteken. Die Swazi-kader praat glo net so swak Zoeloe as wat ek dit praat, agv haar opvoeding in blanke, Engelse skole. Met enorme ironie praat Athol Trollip baie beter Xhosa as wat Lindiwe Mazibuko kan. Daar is gerugte dat Athol Trollip se steun in die gemanipuleerde verkiesing, want vry en regverdig was dit verseker nie, in die wedloop om parlementêre leierskap met verdere ironie van swart DA-lede afkomstig was.
Mnqasela maak in ’n radio-onderhoud die uitstekende punt dat geloofwaardigheid nie net gaan oor velkleur nie. Is laasgenoemde nie die klassieke liberale sienswyse nie, dat velkleur, soos Dan Roodt dit in Business Day stel, net so irrelevant soos jou hemp se kleur hoort te wees? Omdat Rooi Helen die Swazi-kader openlik gesteun het, het sy egter voorspelbaar te velde getrek teen Mnqasela, en sodoende haar totale versaking van die DA se vorige liberale beginsels uitbasuin. Mnqasela en Dene Smuts is klaarblyklik die vaandeldraers van die liberalisme binne die DA, terwyl die onheilige drie-eenheid van die Black Sash-antie, die Swazi-kader en die PAC-burgemeesteres toenemend links-radikaal begin raak.
Wat ons hier sien, is wat Patrick Craven "a race to the bottom" noem – die omarming van swart identiteitspolitiek, indien nie swart nasionalisme nie, deur die DA. Al wat oorbly is om te sien watter een van die DA of ANC die mees anti-blanke beleidsrigtings gaan inslaan.
Anton B
Brief versag. – Maggie

