Wierook en sigare deur Sebastiaan Biehl: ’n resensie

  • 0

Wierook en sigare
Sebastiaan Biehl
Uitgewer: Orania Beweging
ISBN: 9780620689151

Die skrywer doen verslag van sy en sy vader se reise deur vyf wêrelddele: Suidoos-Asië, die Amasone, Spanje, Marokko en Kuba.

Dis miskien nie almal gebiede wat hoog op die gewone reisiger se wenslys is nie (behalwe Spanje), maar bied uitstekende insigte oor almal en kan ook vir die leunstoelreisiger aanbeveel word. Dit geskied natuurlik vanuit die skrywer se perspektief, maar bied baie meer oor die mense se leefwyse en die gebiede se geskiedenis en verken baie meer horisonne as die gewilde reisbrosjures van toerismemaatskappye.

Dis interessant hoe mense se kulture, samestelling, gewoontes en lande se godsdienste en politiek verskil. Die skrywer is ’n sendeling en gee heelwat aandag aan die gelowe en hoe hulle uitgeleef word. Hy reis uitgebreid in die streke waar elke dorp of stad sy eie gewoontes en voorkoms het: van uiterste armoede tot ’n soort Westerse welvarendheid.

In Suidoos-Asië strek die roete van die hoogs geglobaliseerde en hipermoderne stadstaat Singapoer, wat oor drie dekades van ’n vuil wêreldstad met elke ellende waaraan jy kan dink, verander het in ’n hoogs suksesvolle Eerste Wêreld-staat – en dit alles te danke aan ’n outokratiese bewind wat min vryhede toelaat!

Daarna kom Maleisië, Thailand en Birma aan die beurt, waar dit voel of die horlosie 50 jaar teruggedraai is, en daarmee het die eksotiese en die avontuur toegeneem.

Die boek wemel van interessanthede, ook oor die argitektoniese verskille in streke. In Martinique in die Karibiese See staan daar ’n ongewone standbeeld van Joséphine de Beauharnais, Napoleon Bonaparte se eerste vrou. Sy het haar man oorgehaal om slawerny ná die Franse Revolusie weer in te stel, en daarom is haar standbeeld se kop afgekap en met rooi verf besmeer!

Daar word ook baie ruimte afgestaan aan die reise deur Spanje. Marokko word ook deeglik deurreis en hier het die skrywer sijine geëet – ’n stuk skaap wat lank met kole in ’n pot in die grond gaargemaak word. Dis iets waaroor ’n kennis van my nie uitgepraat kan raak nie. In sy geval was dit ’n héle skaap, twee dae lank gaargemaak. Dit klink heel anders as ons eie skaap-op-’n-spit, en baie lekkerder!

Die Kubaanse hoofstad Havana, sê die skrywer, bied ’n uitdaging aan ’n mens se emosies. Min stede beskik oor so ’n behoue ou stad met sy Spaanse argitektuur. Sekere dele lyk weer of hulle pas onder ’n burgeroorlog deurgeloop het, met huise waarvan nog net die fronte staan, maar steeds bewoon word. Afgesien van ’n gebrek aan boumateriaal en kapitaal, ontmoedig die kommunistiese diktatuur eie inisiatief omdat sommige huise mooier as ander sal lyk en die gevreesde "ongelykheid" sal posvat.

Advertensies – behalwe vir die Kommunistiese Party – is verbode, wat dit nogal moeilik maak om ’n gastehuis op te spoor. Museums ter ere van Che Guevara, Fidel Castro en die revolusie is algemeen.

Oor ’n besoek aan die sigaarstreek, waar boere 90% van die opbrengs aan die staat moet afstaan, skryf Biehl: "As armoede ooit romanties en idillies voorgekom het, dan was dit hier."

Die boek bevat baie en omvattende inligting, en reaksies op die streke wat besoek is, is goed geskryf en lees deurgaans onderhoudend.

Twee punte van kritiek: Dis jammer dat daar nie kaarte van die landstreke is nie, wat heen-en-weer-besoeke aan Google Earth sou uitgeskakel het. En om een of ander rede is die 46 kleurfoto's almal taamlik uit fokus.

Oor die outeur

Sebastiaan Biehl is in Duitsland gebore, maar het as student na Suid-Afrika gekom. Sy liefde vir reis het toegeneem. Hy woon sedert 2005 in Orania en is tans navorser en toergids by die Orania Beweging. Sebastiaan het ook reeds twee romans die lig laat sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top