
Agtergrond: Michaela | Pixabay
Titel: Wie skrik vir Wortel Wolf?
Skrywer: Leon-Ben Lamprecht
Illustrasies: Nicolene Louw
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624091899
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
In Wie skrik vir Wortel Wolf? draai Leon-Ben Lamprecht die stories van die drie varkies, Rooikappie en die seun wat “wolf!” geskree het op hulle koppe. Die booswigte of die slagoffers word die helde (en andersom) en soms is daar geen booswigte nie. Die boek word beskryf as geskik vir ses- tot negejariges.
Wie skrik vir Wortel Wolf? is die perfekte oorgang tussen prenteboeke en ’n eerste hoofstukboek vir self lees. Daar is steeds heelwat illustrasies en elke storie is maar drie keer so lank as ’n prenteboek. Dis dus ook uiters geskik as voorleesboek. Die sinne is meestal kort en die taalgebruik redelik eenvoudig.
Wat hierdie boek laat uitstaan bo ander, is die humor. En daar is humor vir beide grootmense en kinders. Grootmense sal die fyn gespottery met gesondheidsfanatici (Wortel Wolf is vegetaries, oefenmal en gril vreeslik vir sy eie sweet) en die gebrek aan logika in kinderstories (hoekom sal iemand lukraak op ’n hoop bakstene afkom waarmee hy vir homself ’n huis kan bou?) optel, terwyl kinders weer sal lag vir hansworshumor soos die wolf wat die varkies se huise omnies.
Met Wortel Wolf het die skrywer ’n baie oulike karakter geskep, ten spyte daarvan dat die karakter ’n volwassene is. Wat dit laat werk, glo ek, is dat Wortel Wolf iemand is soos wie ’n kind sal wil wees. Hy is ’n held met ’n goeie hart wat soms foute maak (soos wanneer hy die varkies se huise omnies) en wat swakhede het. Almal hou van Wortel Wolf in hierdie storie.
Die ironie van sy vegetariese status skep humor, maar hou ook ’n belangrike subtiele les in: Selfs dié wat na booswigte lyk, kan goeie eienskappe hê. Ander karakters is ook verfrissend anders. Die ouma in Rooikappie se verhaal dra ’n knipmes met haar saam en red haarself uit die verknorsing.
Elke storie het ’n spannende storielyn wat begin met ’n probleem. In die eerste storie is Wortel Wolf eensaam, in die twee ander stories dreig gevaar en word die vraag of Wortel Wolf die situasie sal kan red. Spanning of verwagting word juis geskep deur die bekendheid van die sprokies – ons weet reeds wat veronderstel is om te gebeur, maar omdat die wolf nie die booswig is nie, wil ons graag verder lees om uit te vind hoe die storie dan nou gaan ontplooi! Deur die afwisseling van tonele tussen Wortel Wolf en die ander karakters aan die begin van elke storie, word die spanning versterk.
Die enigste ding wat effens gepla het in hierdie boek is oorbodige woorde. Sinne kon soms korter wees en ek het gevoel die einde van elke storie kon ook bondiger gewees het. Elke storie eindig met die karakters wat saam lag, maar ek glo kinders kan uit die dialoog aflei dat daar lekker gelag en gesels word.
Dis ’n lieflike, humoristiese boek en kinders sal baie daarvan hou.



