
Kunstenaars sorg deesdae al hoe meer vir hulleself. Wie is die Pretoria Symphony Orchestra (PSO), en is hulle net 'n spul amateurs?
Naomi Meyer het vir Francois Malherbe, ’n lid van die PSO, oor die orkes uitgevra. Elaine Holiday, die orkesbestuurder, en Lizette Voslo, bestuurslid van die orkes, het kernbydraes tot sy antwoorde gelewer.
Hallo Francois, jy is lid van die Pretoria Symphony Orchestra. Ressorteer julle onder die Universiteit van Pretoria?
Hallo Naomi, dankie vir die geleentheid om met jou te kan gesels. Nee, glad nie. Die universiteit het sy eie orkes en ons is heeltemal onafhanklik daarvan. Ons het egter ’n goeie werksverhouding met UP se musiekdepartement en speel by tye vir die eksamens van hulle studente wat dirigeerkuns studeer. Party van hulle speel ook in ons orkes en ons dirigent is ’n deeltydse dosent vir slagwerk en dirigeerkuns. Ons maak ook graag van die UP se Musaion gebruik vir sommige repetisies en ons konserte, weens die uitstekende akoestiek en goeie geriewe vir die orkes asook ons gehore. Soos enige ander besigheid of organisasie moet ons egter ook die fasiliteit huur.
Julle staan, soos jy gesê het, onafhanklik van die universiteit, maar hoe het julle tot stand gekom? Was julle voorheen die Truk-orkes – die orkes van die ou Transvaalse Uitvoerende Kunste?
Die PSO het tot stand gekom deur die inisiatief van twee van ons strykers wat ’n kamermusiekgroep in hulle sitkamer begin het. Met die tyd het al hoe meer musici belanggestel om by die groep aan te sluit. Die stigters besef toe dat daar in Pretoria ’n daadwerklike behoefte onder amateurmusici bestaan om saam te speel vir die pure genot daarvan, asook om daardeur hulle eie vaardighede te verbeter. Die PSO is toe in 2002 gestig en het begin deur meestal verwerkings van ligte populêre musiek te speel. Daar was egter ook ’n toenemende behoefte gewees om oorspronklike werke uit die klassieke repertorium te speel, openbare opvoerings te gee en sommer die liefde vir klassieke musiek by hulle gehore te help aanwakker. Soos die orkes meer lede begin trek het, het dit moontlik geword om groter, meer uitdagende werke aan te pak. Die aanstelling van Gerben Grootten as vaste dirigent in 2007 was van deurslaggewende betekenis gewees en die orkes se standaard het daarna met rasse skrede gevorder.
Jy het met my gesels oor die wanpersepsie dat die woord “amateurorkes” beteken dat die mense wat daarin speel, nie ’n professionele musiekagtergrond het nie. Wil jy dalk vir ons lesers vertel wat jy bedoel?
Die woord “amateur” beskryf slegs iemand wat iets uit die liefde vir saak doen en dit dus nie as ’n voltydse beroep volg nie. Ek ondervind egter dikwels dat “amateur” vereenselwig word met “amateuragtig”, ’n woord wat ’n besliste negatiewe konnotasie het. Die verkeerde gevolgtrekking is dan dat ’n amateurorkes noodwendig ’n amateuragtige, dus slegte, resultaat sal lewer.
Daarteenoor word die woord “professioneel” in ’n sterk positiewe sin aangewend. Hoe maklik is dit nie om te sê, “O ja, maar ek is ’n professionele sus en so” nie, terwyl al wat dit beteken is dat dit wat jy doen, jou voltydse werk is. In werklikheid sê dit egter niks oor die gehalte van jou eindproduk nie. Professionaliteit op sigself is geensins ’n kwalifikasie nie, maar behels eerder die wyse en gesindheid, toewyding en vaardigheid waarmee jy te werk gaan met wat ook al jy doen. Dus, al is ek is ’n amateurmusikus, verhoed dit my geensins om my bespeling van my instrument en skepping van musiek met ’n professionele gesindheid te benader en ’n eindproduk van hoë gehalte te lewer nie. Die meeste van ons PSO-lede het ’n hoë vlak van vaardigheid op hulle instrumente bereik, maar verdien hulle brood in ander beroepe. Wat ons saamsnoer, is ons geesdrif om goeie musiek te maak en sodoende reg aan die genialiteit van die komponis te laat geskied.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek het die grootste respek vir my professionele musiekkollegas wat meestal teen ’n ware hongerloon hulle kuns moet beoefen. Die totale poel fondse wat daar in hierdie land van ons beskikbaar is vir die uitvoering van klassieke musiek deur professionele orkeste is uiters beperk, met die gevolg dat hulle musici bereid moet wees om teen soms absurde lae vergoedings addisionele werk te aanvaar. So word daar dan byvoorbeeld deur organiseerders vinnig ’n orkes saamgeflans wat dan met twee, of somtyds drie, repetisies ’n opvoering moet gee. Die advertensies verwys dan na ’n “professionele orkes” wat dan as ’n trekpleister moet dien vir die wye publiek wat onder die wanindruk verkeer dat “professioneel” noodwendig “goed” beteken. ’n Orkes is egter nie net ’n opgehoopte versameling musici nie, maar ’n lewende organisme wat tyd nodig het om werklik saam te smelt. Dus, ten spyte van die betrokke professionele musici wat elkeen op sy eie baie begaafd kan wees, is die gehalte van die uiteindelike produk dan dikwels, wel, maar so-so.
Ek is oortuig daarvan dat goeie amateurensembles in ’n land soos Suid-Afrika ’n uiters belangrike rol kan speel, nie as ’n alternatief vir professionele orkeste nie, maar as ’n kostedoeltreffende manier waarop ’n wyer publiek blootgestel kan word aan die unieke plesier wat goeie musiek kan verskaf. Hierby kan ons professionele orkeste dan net baat vind.

Watter instrument speel jy, en watter beroep beoefen jy? En wil jy dalk vertel van sommige van die ander orkeslede se brood-en-botter-lewens en musikale lewens?
Ek self speel die Franse horing, terwyl ek voltyds as geregistreerde professionele ingenieur op die gebied van akoestiek, geraasmodellering en -beheer my eie raadgewende praktyk bedryf. Dis net so elke nou en dan dat ek by volmaan in ’n musikus verander, geklee in ’n swart aandpak en wit hemp met strikdas. Musiek was van kleintyd af ’n sterk dryfveer in my lewe gewees, en die feit dat ek dit nog op ’n betreklik hoë vlak kan beoefen, gee vir my ’n verfrissende alternatief tot die gewone alledaagse werksaamhede. My vrou Mariette is ’n violiste met ’n BMus (Uitvoerend) agter haar naam. Sy is ook ’n lid van die PSO en speel dikwels op ’n ad hoc-basis saam met professionele orkeste soos die JPO. Sy is ’n goeie voorbeeld van baie van ons lede wat wel volledig as musici gekwalifiseer is, maar om die een of ander rede besluit het om dit nie as ’n voltydse beroep te volg nie. So is ons lede saamgestel uit mense wat ’n groot verskeidenheid beroepe beoefen, soos byvoorbeeld IT-deskundiges, ’n psigiater, advokaat, filmredigeerder, grafiese ontwerper, toergids, rekenmeester, wiskundige, genetikus – om ’n paar voorbeelde te noem. Die PSO het een keer ’n week op Donderdagaande ’n repetisie, en afgesien daarvan spandeer ons baie ure om individueel te oefen.
Van brood en botter gepraat – is daar enigeen in die orkes wat geld maak uit musiek alleen? Indien nie, kan die orkes julle vir enige optredes of oefeninge betaal?
Met die uitsondering van ons dirigent word ons as vaste lede van die orkes geen geldelike vergoeding betaal nie. By geleentheid moet ons addisionele spelers inkontrakteer op instrumente wat nie gereeld gebruik word nie. Min orkeste het byvoorbeeld permanente harp- en kontrafagotspelers, omdat die standaardrepertorium hulle meestal nie vereis nie. In dié sin maak ons dikwels maar staat op die welwillendheid van professionele spelers om vir ’n bepaalde konsert saam te speel vir slegs die vergoeding van reiskoste en tot ’n mate vir die tyd wat hulle spandeer. Om ons in staat te stel om dit te kan doen is ons ten volle afhanklik van die inkomste wat ons uit kaartjieverkope vir ons konserte maak, aangesien ons geen ander borge het of subsidies ontvang nie.
Hoe gereeld tree julle op? Vertel ons van julle onlangse program en die skedule wat voorlê.
Gewoonlik gee ons vier volledige konserte per jaar en het in die verlede ook Kersfeestyd vir produksies by verskeie kerke en inkoopsentrums gespeel. Ons repertorium sluit in die “standaard”-werke van komponiste soos Haydn, Mozart en Beethoven, maar by tye word werke op die program geplaas wat mense nie aldag hoor nie. So het ons byvoorbeeld vroeër vanjaar ’n konsert aangebied met Gabriel Fauré se Elegie vir tjello en orkes, Camille Saint-Saens se vyfde (Die Egiptiese) klavierkonsert en Cesár Franck se simfonie op die program. Ons volgende konsert is op 15 Junie in die UP se Musaion en sluit in Richard Wagner se Siegfried Idille, Sergei Rachmaninoff se Paganinni Variasies vir klavier en orkes met die briljante Bryan Wallick as solis, en Johannes Brahms se derde simfonie. Later die jaar voer ons Ravel se klavierkonsert in G op met die talentvolle Richard Lewis as solis. Hy het al twee keer vantevore saam met die PSO opgetree en is buitegewoon goed ontvang. Die res van die program is selfs vir die orkeslede nog ietwat van ’n geheim, maar belowe om iets baie spesiaals en opwindend te wees.

Die liefde van die saak alleen maak nie ’n maag vol nie; die Muse betaal nie ’n salaris nie, maak nie saak hoe lieflik sy is nie. Waarom hiermee voortgaan?
Soos reeds gemeld, is ons in die voordelige posisie waar ons gereelde/permanente lede almal bedags ander beroepe beoefen. “Voordelige posisie” is egter ook maar gekwalifiseerd, want alhoewel ons nie met grommende leë mae by die oefeninge sit nie, is ons nie meer noodwendig almal so fris en vars na ’n dag se werk wanneer ons saans moet oefen nie. Die wonderlike is egter dat die Muse ons binne die eerste 15 minute ’n ongelooflike inspuiting van nuutgevonde vitaliteit gee. Die ongelooflike voorreg om saam te kan musiek maak en saam op ’n wonderskone musikale reis te kan gaan is ’n onbekostigbare tonikum wat ons gratis en verniet kry. Dit is dus nie net bloot “die liefde van die saak” wat ons laat voortgaan nie, maar die behoefte aan hierdie lewensnoodsaaklike kroniese medikasie. As jy begin, kan jy nie ophou nie!
Dit klink byna selfsugtig, maar die selfs groter genot is om te ervaar, van die verhoog af tydens die konsert, hoe die gehoor saam met ons op hierdie musikale reis gaan. Die interaksie en gevoelsgesprek met ons gehore is selfs nog ’n groter aansporing. Daarom juis ons passie om ons gehore te ontwikkel, sodat al hoe meer mense ons reisgenote kan word. Om ’n simfonieorkes in lewende lywe in aksie te beleef is daardie onverwags verfrissende ontdekking dat die CD in jou CD-rak lewe gekry het. Jy sal daarna nie sommer weer net na jou CD luister nie, maar met jou toe oë in jou leunstoel jou kan verbeel dat jy voor die einste Berlynse Filharmoniese orkes staan met jou swart manelpak met “baton” in die hand.
Hier wil ek ook graag ons dirigent Gerben Grooten uitsonder. Sy geesdriftige toewyding tot die PSO, diepliggende kennis van die tegniese sowel as die musikale aspekte van musiekmaak, en die werklik uitsonderlike vermoë om dit te kan oordra, bly vir ons ’n fenomenale inspirasie. Daar is altyd iets nuuts om te leer en geniet.
Hoe lyk die toekoms?
Ons gee elke jaar groot treë vorentoe. Vyf jaar gelede sou ons nie kon gedroom het dat ons eendag Richard Wagner en ’n Brahms-simfonie sou kon uitvoer nie. Soos ons publieke profiel groei, tesame met ’n toenemende reputasie vir gehalte-uitvoerings, trek ons al hoe meer begaafde en geesdriftige musici. Solank ons deur musiekwaarderende konsertgangers ondersteun word, is daar eintlik geen rede om aan die toekoms van die orkes te twyfel nie.
Prakties: Waar kan mense kaartjies koop, hoe kan hulle van julle hoor, hoe versprei julle die woord van optredes en konserte?
In vergelyking met ander produksies s’n is ons pryse baie billik en kaartjies kan deur Computicket of by die deur aangekoop word. Ons steun sterk op ons orkeslede om konserte met behulp van e-pos en Facebook te bemark, maar druk ook plakkate wat dan opgeplak word by skole, musiekwinkels, kerke en biblioteke wat gewillig is om dit te doen. Ons adverteer ook op ClassicSA se webwerf, ClassicFM en plaaslike koerante en is besig om ’n uitgebreide adreslys van “Friends of the PSO” op te bou wat dan altyd op hoogte gehou word van opkomende uitvoerings. Intussen probeer ons ook om ’n groep aanhangers te werf via die Pretoria Symphony Orchestra-blad op Facebook.
En wie kan kom saamspeel – is daar oudisies? Waar oefen julle?
Weens die moeilikheidsgraad van die werke wat ons deesdae aanpak, vereis ons dat ons lede reeds ’n redelik hoë vlak van vaardigheid op hulle instrumente handhaaf, en om dit te bevestig moet daar oudisie afgelê word. Natuurlik hang toelating ook af van die beskikbaarheid van posisies. Onder die blasers is dit byvoorbeeld nogal ’n knelpunt, aangesien daar reeds ’n waglys vir fluite, klarinette en trompette is. Afgesien hiervan is alle ouderdomme welkom. Onder ons lede is daar byvoorbeeld ’n pa met twee begaafde seuns wat by die orkes aangesluit het toe hulle nog op skool was. Ons repeteer elke Donderdagaand van 19:00 tot 22:00 in die saal van die Gereformeerde Kerk op die hoek van Lange- en Deystrate in Nieuw Muckleneuk, Pretoria. Vir verdere inligting kan kontak gemaak word deur pretoria.symphony@gmail.com.
Foto's verskaf.


Kommentaar
Waar kan ons uitvind wanneer uitvoerings gegee word?
Sal dit moontlik wees om vir my inligting te stuur van julle optredes en datums?