"Wie gaan nou" deur Jaco Prinsloo

  • 0

Wie gaan nou

As ek kleintyd vir jou wag, tot diep in die donker nag
sou jy sprokies vir my vertel, Jona se vis, die hemel en die hel
As ek smiddae soek na jou om daai boomhuis klaar te bou
As jy weer my das moet vou, dit sal ek van jou onthou

As die spoke my saans wou vang was my superhero nooit bang
My hand het jy selde gelos, Klaas Vakie, jy lei om die bos
As my vlieër nie meer wil vlieg, tandmuis my met bedrieg
Dis ok as Kersvader verdwyn, solank jou son net weer kom skyn

Maar wie gaan nou en wie sal nou
my toegooi teen die winterkou?
My styf kan vashou
Vir my sê “ek is lief vir jou”
Wie gaan nou en wie sal nou?
Pa, ek mis vir jou

Waar's jou raad vir sake van die hart as die girls my knieë kom knak?
Wie sal langs my op perronne staan as die army trein my kom haal?
Die korporaal my nie verstaan, stadliggies my nader roep
om tevergeefs na jou in 'n bottel te soek
Jou gesig raak met tyd algaande dof, waar ek voortbeur in die skemerstof
Jou arms ontwyk my op die horison, wanneer, wanneer gaan jy weer terugkom?
As jou kleinkind groei in haar, wens ek soos sy jy was daar
As ek jou baard op my wang kon voel, hoor ek jou nou skree op my pawiljoen

Jou laaste kiekies is besig om in die laaie te vergeel
My kleinkinders wil net met daai mansjetknope speel
Ek is nou oud soos jy nooit was, geen geraamtes, net 'n leë kas
Dis nog koud hier in my hart se jas, as jy, as jy maar net hier was

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top