Wie is die belanghebbers in die US-taalbeleid?

  • 3

Die Statuut van die US definieer die hoofbelanghebbers as die Raad (wat beleid maak), die Bestuur (wat beleid deur die fakulteite uitvoer), en die Konvokasie (wat die alumni verteenwoordig). Laasgenoemde twee, fakulteite ingesluit, het ook verteenwoordiging op die Raad. Die minister van hoër onderwys en opleiding se vyf verteenwoordigers op die Raad verteenwoordig die nasionale belang in die universiteit.

Die Raad word hiermee die arena waarbinne die gedefinieerde belanghebbers toutrek oor die taalbeleid, en die onlangse besluit dat die Raad self aktief aan die beleidsvorming moet deelneem, is ’n positiewe stap.

Die SR en sommige studentegroepe word natuurlik ook geraadpleeg, hoewel dit selektief blyk te geskied en sommige gesprekke deur die howe plaasvind. Buitestanders soos kultuurorganisasies het egter ’n ietwat tweederangse posisie as belanghebbers en hulle pogings om taalbesluite te beïnvloed, word met ’n gewisse argwaan as “inmenging van buite” bejeën.

En juis hierdie sentiment raak aan die kern van die saak: Wie is die geldige belanghebbers in die US se taalbeleid? Wie ’n belanghebber van die taalbeleid is, word bepaal deur die gevolge van die beleid.

Die gevolge van die konsepbeleid vir die US is die verengelsing van die universiteit. Swak taalbestuur by die US oor die afgelope paar jaar het ’n praktyk geskep waarin Afrikaans stadig maar seker afgeskaal is. Die konsepbeleid formaliseer en verdiep hierdie praktyk deur Engels effektief die verstektaal te maak. Hierdie “meertalige” beleid bevat ook geen taalteikens en geen meganismes om die belofte van ’n “vaste plek” vir Afrikaans gestand te doen nie.

Die wyer gevolge van die konsepbeleid hou onder andere verband met die feit dat die US nie net nóg ’n universiteit is waar Afrikaans gebruik word nie. Dit staan in ’n see van Afrikaans wat oor die grense van drie tot vier provinsies strek. Dit is die enigste universiteit waar die taal op lang termyn demografies werklik lewensvatbaar is. Om Afrikaans by hierdie instelling af te skaf, of selfs net af te skaal, verteenwoordig dus ’n historiese kantelpunt vir die taal.

Die gevolge van die beleid sal dus ver oor die grense van die US self strek en die belange van ’n wye verskeidenheid van mense raak.

Oor die belangrikheid van die hoër funksies van Afrikaans en die rol wat dit in die ontwikkeling van die ander inheemse tale, veeltaligheid en die land se politieke bestel sou kon speel, is al volumes geskryf, en veral Neville Alexander is ter sake. Die konsepbeleid sal Afrikaans se status drasties aftakel en haar sigbaarheid in die samelewing verminder. Dit sal haar sprekers se taalkulturele selfvertroue en Afrikaans as taal van aspirasie ernstig knou.

Daarmee sal die beleid die taalverskuiwing wat in so baie gemeenskappe deur die land ontvou, in die hand werk. In hierdie opsig werk die voortslepende verengelsing van die US en onsekerheid oor Afrikaans alreeds ’n geruime tyd direk in op die belange van derduisende kinders. Dit sluit in al dié kinders uit veral arm gemeenskappe of die platteland wat hulle in Afrikaans vir universiteit voorberei; dié wat in Engelse klasse gesit word “omdat die universiteit mos Engels word”; ook dié wat met onderontwikkelde Engels as moedertaal by die skool opdaag.

“Hierdie kinders sukkel geweldig,” sê ’n onderwyseres. “Ons is besig om ons kinders te leer om te misluk. Hulle haal die ander nooit in nie en dis húlle wat so kwesbaar vir die bendes is.”

Hoe kan ’n mens nog sê die bevordering van Afrikaans (of Xhosa) as akademiese taal is nie die verantwoordelikheid van die universiteit nie? As gevolg van die impak van die US se taalbeleid op hulle, is hierdie kinders en families immers ook direkte belanghebbers en tel onder die vele stemme wat nog nie in die besluitnemingsproses gehoor is nie.

Dit is goeie internasionale praktyk om die impak van ’n beleid, goed en sleg, te bepaal voordat dit geïmplementeer word. In hierdie geval is dit ooglopend dat die konsepbeleid Engels tot die nuwe taal van uitsluiting by die US verhef, ’n daad wat ’n uiteenlopende en komplekse stel taalkundige, kulturele, sosio-ekonomiese en ekonomiese gevolge sal hê. Teen hierdie agtergrond is dit ewe ooglopend dat besluite oor taal by die US nie gereduseer kan word tot ’n burokratiese proses in die hande van tegnokrate – wat nie die waarde van taal erken of verstaan – nie.

Laat ons dus hoop dat die Raad sal besluit om alle belanghebbers in ’n ope en gelyke onderhandelingsproses te betrek, een wat mik op kompromisse eerder as oorwinning. Onderhandelinge is die enigste manier om álmal se belange – ook dié van diegene wat sukkel met Afrikaans of vervreemd voel deur die US se kultuur – op ’n regverdige wyse by die US te akkommodeer en die universiteit weer op gelyke kiel te plaas.

In hierdie opsig is dit dalk ook tyd om terug te keer na Jakes Gerwel se denke oor onder andere die US in die dae toe daar nog van twee Afrikaanse universiteite gepraat is:

The acid test for the designated institutions [die US en Noordwes-Universiteit] is whether they can entertain a scenario where non-Afrikaners Afrikaans speakers, who love their Afrikaans but whose base of social power is weak in relation to the power behind “official Afrikaans”, can be allowed to evolve into a (more) dominant social presence on campus. Were that to happen, Afrikaans may survive as a vibrant language without being a tool of cultural exclusivity. (Gerwelkommissie 2001)

Hierdie woorde is vandag net so insiggewend en geldig soos destyds. Die US kan steeds kies om ’n waarlik verteenwoordigende, veeltalige universiteit te word, een wat op ’n gesonde manier verbind is tot die taalkundige, kulturele en sosio-ekonomiese ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe in hulle tale van voorkeur. Hiervoor is ’n splinternuwe taalbeleid nodig, een wat die klem op ware meertaligheid lê en met duidelike taalteikens en prosesse om hierdie teikens te bereik; een wat die uiteenlopende belange in die universiteit onder een hoed bring.

Die drukgang waarin die US hom op kort termyn bevind – hofsake oor die universiteit se taalpraktyk, ’n “onmoontlike situasie” in die lesingsale, en wye opposisie teen die konseptaalbeleid – word kwalik opgehef deur die uitspraak van ’n aangestelde regter. Die US moet veel eerder begin praat, óók met diegene wat gekant is teen die Engelse eentaligheid in die hart van die konseptaalbeleid.

Die eerste nodige stap is om die vertrouensbreuk wat tussen die Bestuur en verskeie belangegroepe binne en buite die universiteit ontstaan het, reg te stel.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Theresa Papenfus

    "Dit is goeie internasionale praktyk om die impak van ’n beleid, goed en sleg, te bepaal voordat dit geïmplementeer word. In hierdie geval is dit ooglopend dat die konsepbeleid Engels tot die nuwe taal van uitsluiting by die US verhef, ’n daad wat ’n uiteenlopende en komplekse stel taalkundige, kulturele, sosio-ekonomiese en ekonomiese gevolge sal hê. Teen hierdie agtergrond is dit ewe ooglopend dat besluite oor taal by die US nie gereduseer kan word tot ’n burokratiese proses in die hande van tegnokrate – wat nie die waarde van taal erken of verstaan – nie." Baie dankie hiervoor. En vir die res.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit is eufemisties om te beweer dat die vyf raadslede wat deur Blade Nzimande benoem word die nasionale belang verteenwoordig. Dit sou meer akkuraat wees om te sê dat hulle die ANC-regering verteenwoordig. Dit is onwaarskynlik dat enigeen van hulle vir Afrikaans in die bres sal tree. Ek is hoogs verontwaardig oor die onlangse besluit van die US-raad om in te stem dat die regeringsverteenwoordigers van drie tot vyf vermeerder word. Daardie twee ekstra stemme kan die finale nekslag vir Afrikaans aan die US meebring. Geen universiteit met ernstige akademiese oogmerke behoort toe te laat dat sy outonomie op hierdie manier verder ondergrawe word nie. 'n Egte universiteit sou hoogstens 'n regeringsverteenwoordiger of twee met waarnemerstatus (dus sonder stemreg) in sy raad toelaat.
    Dit is nie net die afgelope paar jaar dat onderrig in Afrikaans aan die US afgeskaal word nie. Dit het in 2004 momentum met die diensaanvaarding van Chris Brink as rektor gekry en daardie momentum behou.
    Die verering van Neville Alexander in die geledere van instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) verbaas my. Alexander word in 'n jaarlikse ATM-lesing gehuldig pleks van bv die twee mense wat die ontwerp van die Taalmonument grondig beïnvloed het, CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw. Alexander was eerder Engels- as Afrikaanssprekend en het selfs verkies om in Engels oor Afrikaans te praat, bv in 2009 tydens die Roots-konferensie oor Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Alexander het hom vir moedertaalonderrig en veeltaligheid beywer eerder as om spesifiek oor Afrikaans begaan te wees. Moedertaalonderrig en veeltaligheid hoef nie Afrikaans in te sluit nie; ook nie vir Alexander nie: "I have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will - if this language is not English - also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster" (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 163). Afrikaans word nie eens deur hom genoem nie. Op 'n soortgelyke manier kan Afrikaans uit die bus val met die ATR se beklemtoning van meertaligheid pleks daarvan om op die heil van Afrikaans te fokus.
    Jakes Gerwel se naam word ook graag bygesleep wanneer Afrikaans in die konteks van die universiteitswese te berde gebring word. Maar Gerwel het as rektor die leiding geneem in die verengelsing van 'n oorwegend Afrikaanse UWK, nadat hy as hoogleraar in Afrikaans sy intreerede in Engels gelewer het. In die aanhaling hier bo breek hy 'n lansie vir Afrikaanse bruin studente aan die US nadat hy hulle moedertaalbelange aan die UWK versaak het.
    'n Ander feit wat myns insiens in ag geneem word en ten minste by sommige gewig dra, is dat Alexander en Gerwel kommuniste was en Nzimande tans die leidende kommunis in Suid-Afrika is. Moet liefs nie van 'n kommunis verwag om Afrikaans te bevorder nie.

  • conrad steenkamp
    conrad steenkamp

    Ons stem saam dat dit onvanpas is om soveel stemme in die raad aan die minister af te staan, die nuwe wetgewing gee hom reeds 'n groot mate van beheer oor universiteite.

    Aangaande Alexander se "verering" deur die Taalraad: Alexander word erkenning gegee vir die rol wat hy in die post-apartheid herposisionering van die taal gespeel het en die feit dat hy dit polities sterker gelaat het as wat dit voor hom was. Dit is werklik vreemd dat jy nie die waarde van hierdie bydrae kan erken nie, selfs al verskil jy van hom in etlike opsigte. Ek twyfel byvoorbeeld dat hy so emosioneel oor Afrikaans gevoel het as wat jy dit blykbaar doen; dit maak egter nie van hom 'n vyand van Afrikaans nie en jy onderskat sy waarde.

    Gerwel wou 'n plek vir Engels by die UWK skep, nie volledige verengelsing nie. Juis hierdie ervaring (of so vertel sy voormalige kollegas vir my), het tot sy standpunt gelei dat Engels by die US toegevoeg moet word, eerder as dat Afrikaans daarvoor moet plek maak. Hy het ook 'n sterk saak vir die behoud van twee Afrikaanse universiteite gemaak, en jy is weereens besig om waardevolle bydraes te minag.

    Jou argument dat mens liefs nie van Alexander, Gerwel en Nzimande moet verwag om Afrikaans te bevorder nie omdat hulle "kommuniste" is/was, is íetwat werklikheidsvreemd. Die drie het uiteenlopende ideologiese posisies gehad; ook uiteenlopende idees oor taal.

    Gegewe die situasie waarin Afrikaans haar bevind, maak dit veel meer sin om na gemene delers, eerder as dit wat ons verdeel, te soek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top