Who’s afraid of the Irma Sterns? by die Liebrecht Galery

  • 0

Who’s afraid of the Irma Sterns?

‘n Uitstalling bestaande uit skilderye, fotografie en juweliersware deur Marina Louw, geïnspireer deur die werk van Irma Stern, open in die Liebrecht Galery, Somerset-Wes op die 16 de Mei 2013 om 18:30.

Die “Sterns” in die titel hou verband met die welbekende Suid-Afrikaanse juweliersware kettingwinkel as gevolg van die feit dat die uitstalling ook ‘n reeks juwelierware insluit, en “the Irma Sterns” met die feit dat al die werk – skilderye, fotografie en juweliersware – geïnspireer is deur die skilderye van Irma Stern – die werklike juwele.

Die uitstalling is aanvanklik gekonseptualiseer as ‘n huldeblyk aan waarskynlik Suid-Afrika se bekendste visuele kunstenaar, ‘n geruime tyd voor die kontroversie wat verlede jaar rondom die kopiereg van haar werk en die reproduksie daarvan op voorblaaie van die katalogusse van afslaershuise ontstaan het en steeds voortduur. Hierdie kontroversie het ‘n bykomende dimensie aan die projek verleen – ‘n beskouing van die kwessies van kopiëring en kopiereg.

Kopiereg raak nie slegs afslaershuise nie; dit raak beslis ook kunstenaars. Louw het, met die voorblaaie van veilingkatalogusse as verwysingsmateriaal, haar eie weergawes geskilder, met ‘n sekere mate van abstraksie - haar eie “kopieë”. Daarna het sy lae verf bygevoeg om skilderye te maak wat die kenmerkende Marina Louw stempel dra, en in die proses ‘n verdere abstraksie bewerkstellig deur die ander Stern-elemente uit haar eerste “kopieë” te verwyder. Haar skilderye vir hierdie uitstalling is oorspronklike werke – abstraksies van “kopieë” (haar eie) van “reproduksies” (die katalogus voorblaaie) van die oorspronklike Irma Stern skilderye. Beslis ver verwyderd van die oorspronklike Stern skilderye, en sy het (elemente) verwyder deur (verf) by te voeg. Ernstige afkrapwerk sal dus gedoen moet word om ‘n beeld te verkry wat direk na die oorspronklike Irma Stern skildery herlei kan word. ‘n Mens kan jou kwalik voorstel dat Marina Louw se skilderye vir hierdie uitstalling as afgeleide werk vir doeleindes van kopiereg beskou kan word, maar miskien het kopiereg en kopiëring ook te doen met dinge wat ‘n mens nie met die blote oog kan waarneem nie! En alhoewel Louw se werk met die eerste oogopslag as ‘n “toesmeerdery” mag voorkom, by wyse van spreke, is dit – paradoksaal – presies die teenoorgestelde: Dit is onder meer ‘n poging om hierdie kwessies van kopiëring en kopiereg vierkantig in die oë te “kyk”.

Die uitstalling duur tot 6 Junie.

Avril Gardiner
Kurator
Liebrecht Galery
021-8528030
0826825710

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top