Wholeworld

  • 0

Dis wanneer sy met Buitenkantstraat afry dat Lisa by Caledonplein die man op die oorkantste sypaadjie sien. Starend voor hom beur hy teen Kaapstad se middaghitte, ’n blou plastieksakkie in die hand.

’n Blok verder hou sy by ’n rooi verkeerslig stil en klik haar flikkerlig na regs aan. Die man is al so te sê uit haar gedagtes. Sy is op pad Woodstock toe om wol en breipenne te koop. Dis nou al hoe lank dat sy uitstel om die trui vir haar seun klaar te brei.

’n Ander man trek nou haar aandag, een wat hier digby haar oop motorvenster verby ’n vrou skuur. “Girl, ek smaak jou kwaai,” sê hy vir die vrou.

“Fokkof. Fokkof, jou stink moer.” Met haar elmboog stamp sy hom in die heup voordat sy op haar goue hoë hakke voortwankel.

“Oooeee, jirrrre, jy’s darem difficult vandag,” lag hy haar agterna.

Voordat die vrou om die hoek verdwyn, gluur sy om en skel: “Kyk hier jou stuk robbies, as ek die Jirre was, het ek jou al lankal in ’n pispadda in verander.”

Die verkeerslig bly rooi. Lisa is geïrriteerd. Sy’s nie aanmekaargesit vir wag nie.

In die truspieël sien sy die man met die blou sakkie by wie sy pas verbygery het. Hy trap nou onvas van die sypaadjie af. Hy kyk nie links of regs nie. Hy strompel oor die breë pad, sy kop en skouers bly vooroor geboë. Dan struikel hy op die middelstreep en sak inmekaar.

Die man bly lê, sy gesig op die warm teer. Motors en motorfietse swenk uit, die bestuurders hou verby. Eenkant in die pad rol lemoene uit die blou plastieksakkie uit, tot onder ’n aankomende minibus in. Op die sypaadjie loop voetgangers agter hul sonbrille aan, hul koppe draai weg van die stil lyf op die teer.

Toe die lig groen slaan, kyk Lisa nog een keer in die truspieël en besluit om haar rigting te verander. Sy ry links in Darlingstraat in. Weg van die Goeie Hoop-sentrum, waar sy verby sou ry op pad wolwinkel toe. Sy draai weer links, op met Paradestraat. Verby die stadsbiblioteek, verby die landdroshof, tot by Barrackstraat, waar sy nog ’n keer links swaai en afry tot sy terug is in Buitenkant.

Haar oë fynkam die teer. Die man lê nie meer in die pad nie en daar is geen teken van die blou plastieksakkie nie. Voor Caledonplein hou sy stil en laat haar motor luier. Haar oë soek steeds. Dan sien sy hom. Op die oorkantste sypaadjie waar hy netnou teen die witwarm dag gestoei het, sit hy in ’n bondeltjie, sy blou plastieksakkie tussen sy knieë.

Lisa ry ’n ent verder tot sy parkeerplek kry. Sy klim uit haar Polo, prop die sleutel in haar handsak in en vleg tussen die aankomende verkeer deur. Tot sy voor die man staan.

“Meneer, wat is fout?” Hy antwoord nie van onder sy donkerblou pet wat sy gesig verberg nie.

Sy hurk af na hom. “Sir, what’s wrong?”

“Ag mevrou, moenie worry nie. Ek het duiselig geword, toe loop ek van die sypaadjie af.” Hy sê niks van sy val nie. Hy hoes, en stamp met ’n vuis teen sy bors.

Sy haak in by hom, probeer hom van die teer oplig. Hy kom halfpad orent, maar sy bene swaai onder hom in en hy sak weer neer op die sypaadjie.

“Mevrou, regtig, moenie worry nie.”

In sy blou sakkie, merk sy op, is ’n stuk brood en twee lemoene. Die minibus het die res platgery.

“Wag net hier,” sê Lisa, “ek is nou terug.” So asof hy ver sou kon loop en sommer sou kon verdwyn, dink sy agterna. Die man sê niks. Hy kyk nie na die hakskene, die voete, die skoene wat alkante verby hom maal nie.

Uit die Taste Bud Shack, die kafeetjie op die hoek, kom Lisa terug met ’n Energade. Sy draai die tuit se doppie los, buk af en sit die bottel langs die man neer. “Baie dankie, mevrou. Mevrou moenie soveel moeite doen nie.” Sy wil weet hoekom jaag sy asem en hoekom hoes hy, omtrent sonder ophou. “Ek blaf maar so, my asmapompie is leeg.”

Met haar tweede poging slaag sy daarin om hom op te lig. Stadig skuifel hulle tot by ’n skadukol voor die kunsgalery Haas, met sy koffiewinkel vir fynproewers. Lisa laat sak die man neer op een van die grou ysterstoele buite die duifgrys gebou. ’n Netjiese man, hy dra ’n pak en das, kyk arms gevou vir hulle van agter ’n ruit met blokkiestralies. Lisa hou haar hande en vingers in die lug, sy beduie vir hom die man sal nog net 10 minute daar sit. Hy knik en druk ’n duim in die lug.

Die man in die stoel dra ’n jean en stukkende tekkies. Lisa ruik die beklemming van sweet aan sy bottelgroen kabeltrui. “Wat is jou naam, meneer?”

Hy kyk op na haar, antwoord dadelik. “James.” Dis die eerste keer dat sy sy oë sien, blou soos Tafelberg wat oor die stad uitkyk.

James tel die bottel met die koue Energade op en neem ’n klomp slukke. “Yskaskoeldrank. Lekkerrr ...” Sy mondhoeke trek kepies en twee stelle tande stal hulleself uit, dis ’n potpourri van karamelbruin, spikkels geel, hier en daar ’n gedagtenis van roomwit. Toe hy nog ’n sluk wil vat, glip die houer uit sy hand en die Energade loop in riviertjies oor hom af.

’n Sekuriteitsman stap nader. Hy tel die bottel van James se taai jeansbene af op, druk die tuit teen sy neusgate, snuif.

“Ruik maar,” sê Lisa, “James het niks van ’n drankwalm aan hom nie. Hy het ’n hoes wat ’n asmapompie soek.”

Die sekuriteitsman praat op sy roepradio. Hy vra dat iemand ’n ambulans moet laat kom.

“Hoe oud is jy, James?” vra Lisa. Hy ignoreer haar vraag en kyk af na sy flenter jeans. “Nou se dae is dit mos fênsie, sulke broeke, almal wat dit dra, lyk of hulle arm is.” Weer die kepies om sy mondhoeke, maar sy oë glimlag nie saam nie.  

Sy waag dit weer. Hoe oud is hy?

“Verby my sell-by date.” ’n Hoesbui oorval hom. Dan skud sy skouers soos hy grinnik. “Ek’s 110.” Sy skat hy is in sy middel-vyftigs. Erosie deur wind en weer om sy oë, voortjies van sonbrand op sy voorkop laat hom jare ouer lyk as wat hy is.

Die sekuriteitsman kyk op sy horlosie, dan sê hy vir Lisa die ambulans is oor 20 minute daar.  

“Wat maak jy hier? Op straat, James, sonder jou asmapompie?”

Hy kyk weg, in die rigting van die Kasteel de Goede Hoop aan die onderkant van die straat. “Wie vertrou ’n vertoiingde man om vir hom te werk? In sy tuin? In sy huis of kantoor? Nie eers die munisipaliteit wil my laat strate vee nie.

“Ek kry dit nie reg om mense in die oë te kyk, om vir hulle kos of selfs water te vra nie. Geld vra ek nooit nie, ek het nog my trots. Daar is ’n sopkombuis hier naby in Zonnebloem, maar daar moet jy R1,50 betaal.”

Sien Lisa daai vrou wat daar sit, op die trap naby Binnelandse Sake? Die een met die goue skoene?

“Met daai high heels gaan sy moeilik die leer hemel toe klim, maar sy gaan daar uitkom. Partymale gee sy vir my brood wanneer sy hier verbyloop, ander kere miskien ’n pie of ’n piesang of dalk ’n sweet. Dis sy wat my netnou uit die pad kom haal het.”

“Die straatmense vang duiwe. Dan draai hulle die nekke om en braai die voëls in ’n konka naby die Fugard Teater. Net hier om die hoek, in Caledonstraat. Hulle slaan rotte dood, met pale of boomtakke, dan maak hulle ook braaivleis daarvan. Die goed is so groot soos hase.” James grinnik. Dan hoes hy, hand op die bors.  

“Partykeer tel straatkinders die rotte se afgekapte sterte op en dan dra hulle dit vir armbande. Wanneer straatvroue verbyloop, skree hulle vir die vroue hulle kan die armbande kry as hulle die vroue se boude kan knyp.”

Ja, die Fugard. “Weet mevrou dit was in die ou dae die Congregational Kerk? Kyk maar na die dak en die vensters, almal se punte wys hemel toe.” Anderdag was daar ’n plakkaat teen die muur, dit was ’n advertensie vir The Father. Toe die kaartjiesvrou uitstap, vra James wat is The Father. Hy kan bly wees hy kan nie vir die show betaal nie, het sy gesê, dit gaan oor ’n man met vergeetsiekte.

“Ek wil nie so raak nie. Vergeet dat ek James is nie. Dis een ding wat niemand van my moet wegvat nie. My naam.”

’n Ambulans hou stil en twee mans klim uit. Hulle kom lig James uit die stoel en lê hom op ’n draagbaar neer. Dan stoot hulle die draagbaar met James in die ambulans in. Hulle vat hom ongevalle toe by Groote Schuur, sê hulle.

“Waantoe gaan jy?” vra James vir Lisa, wat nou by die ambulansdeur staan.

“Woodstock toe. Vir wol en breipenne. Ek gaan Woolworld toe.”

Die ambulansmanne begin die deur toeswaai. Voor hulle dit op knip klik, roep James, sy stem rou van die hoes. “As jy weer hier verbykom, moet jy my saamvat. Jy gaan my mos saamvat, nè?”

Hy knyp sy blou plastieksakkie styf teen sy bors vas.

“Saamvat Wholeworld toe.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top