WF 2015: Wolf in skaapsklere

  • 0

“Maar kaptein Swart, ek sê mos!”

“Moet ek die waarheid uit jou klap?” ’n Kookwaterklap dans op sy gesig. ’n Foon lui. Kaptein Swart antwoord. Na ’n minuut of twee van bekommerde mompeling druk hy die foon dood. “Ek kan jou soos ’n boek lees, Bertus. Die Breinkraker jok nie. Het nooit nie. Sal nooit nie.” Dit was waar. Die helfte daarvan. Breinkrakers kon nog nooit vantevore leuens verkondig nie. Maar danksy kaptein Swart, Bertus die ruimtewetenskaplike en prof. Elna kán dit nou. “Antwoord my, jou varkgesig! Antwoord my!” Kaptein Swart is so intimiderend soos ’n groep matriekseuns. Sy swart snor wikkel. Hy krap die waarheid uit, altyd.

“Kaptein, ek gaan dit een keer sê en nie weer nie. Ek weet nie waar die sleutel is nie, ek weet nie waar dit gebêre word nie en ek weet nie wat die militêre morone met hulle wil aanvang nie!”

“Bertus, jy lieg jouself in ’n hoek vas! Jou eie uitvinding is teen jou! Uit daarmee!” Bertus hardloop met ’n stink spoed by die deur uit. Sy pieperige lyfie versuip in sy wit laboratoriumjas. Hy hoop en bid net kaptein Swart kry hom nie. Hy praat die waarheid, dis daardie vervlakste Elna se skuld. Sy het met die Breinkraker gepeuter – Bertus het haar gesien. Dit was die ergste wat kon gebeur, in sy wildste drome, sy wildste verbeelding. Min het hy geweet wat werklik op hom wag.

’n Paar dae gelede toe Bertus rondgekrap en navorsing gedoen het soos net hy kan, kom hy op iets eienaardigs af. Hy was besig om ’n monster wat NASA vir hom gestuur het, intensief te ontleed. Die spesifieke monster kom uit die aardkors. Sies tog, almal gebruik ou Bertus net om hulle vuilwerk te doen. Hy is altyd die een wat vir nuwe organismes moet uitkyk en seker maak dat alles in orde is. Hy sien die wêreld heeltemal anders deur sy dik, ronde bril.

Hy was nog besig om die monster versigtig en aandagtig deur die mikroskoop te bestudeer toe iets sy oog vang. Dit tref hom soos ’n nat vis. Hy, Bertus de Vries, het iets ontdek wat die aarde se geskiedenis vir ewig en altyd sal verander. Hy het Marsman-eiers ontdek. Op daardie stadium het hy dit natuurlik nie geweet nie. Toe was dit bloot ’n eensellige organisme wat in die hitte van die aardkors, en boonop sonder suurstof, kon oorleef. Maar toe hy die organisme aan suurstof blootstel, het die partytjie eers begin. Die gedierte het gegroei en hier het ’n been uitgekom, en daar het ’n antenna uitgekom. Bertus moes homself knyp om seker te maak hy nie droom nie.

Hy moes dadelik vir kaptein Swart laat weet. Hy kon hom vertrou. “Bertus de flippen Vries! Jy is geniaal, my vriend! Besef jy wat dit beteken!”

“Kaptein, dit beteken baie dinge,” het Bertus skaam-skaam reageer.

“Bulle, as ons hierdie Marsmanne kan oplei om soos ons te dink, op te tree en te praat, kan hulle al ons probleme oplos! Ons kan selfs ’n paar terugstuur na hulle moeder Mars en kyk of ons enigsins ’n alternatief in hierdie blinkende melkweg het. Ons altwee weet hoeveel jaar van steenkool daar nog oor is...”

“Kaptein, moet ek vir Elna laat weet?”

“Nee, los. Ek wil eers met generaal De Beer praat sodat ons verdere stappe kan neem.” Min het hulle geweet dat prof. Elna elke liewe woord gehoor het, want sy het haar eie geheim.

Die dag toe die “militêre morone” in weerlose Bertus se laboratorium instorm, was die dag toe al die vonke begin spat het. “Generaal?”

“Moenie jy my ‘Generaal’ nie, laaitie! Ek weet presies wat agter daardie brilletjies van jou aangaan! Ga! Hoe sou jy in elk geval die wêreld wou oorneem, huh, Bertie? O – dalk kan jy almal verlei met daardie oorgroot skaapjas van jou?” Bertus wou sy kop soos ’n volstruis in die sand druk. “Gene– waarvan praat jy?”

“Moenie dom met my speel nie! Daardie lieflike jong prof. Elnatjie het my alles vertel! Van hoe jy daardie Marsmanne kweek asof jy Garden Pavilion is! Hoe jy hulle al lankal oplei om die wêreld oor te neem. Hoe jy vir niemand daarvan vertel het, behalwe vir kaptein Swart nie. Hoe jy hom gevra het om deel te word van jou onheilige plan en hoe jy hom gedreig het. Jy behoort jou te skaam! Mens kom nooit tussen ’n man en sy bier nie, nog minder tussen ’n man en sy familie! Kaptein Swart is ’n goeie man, jy hou jou pote van hom af!”

“Generaal ek sal nie eers ’n vlie–”

“Vat hom na area Z, manne! Elna sal hom daar ondervra.”

“J-jy gaan nooit hiermee wegkom nie, jou slak!” Bertus is banger as ’n vlieg vir ’n vlieëplak. Hy het nog nooit so met ’n vrou gepraat nie. Die stoel vorm ’n ysblok op sy sitvlak. Hy bewe. Die lig flikker-flikker. Dis irriterend. Hy voel soos ’n lepel in ’n messelaai – hy hoort nie daar nie. Die polisiestasie is beslis nie waar hy hoort nie. Niks maak vir Bertus sin nie. Waarom sal Elna dit doen? Sy is regtig ’n wolf in skaapsklere. “O, ja ek sal!”

“Hoe-hoekom doen jy dit? Hoekom juis ek?”

“Ha! Want ek wil natuurlik die aarde oorneem!” Elna gee ’n grynslag. Sy trek haar baadjie uit. En al wat Bertus sien, is hier ’n been, daar ’n antenna ...

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top