WF 2015: Wetenskap

  • 0

Dit kan soveel wonderbaarlike dinge in ons lewe verrig. Dis al wat in my kop aangegaan het toe ek by die Deadalus Moderne Ontwikkelingsprogram aangesluit het. Ek wou ’n geneesmiddel kry vir ’n dodelike siekte soos Julia Beanie ’n geneesmiddel vir kanker gekry het. Of ek wou ’n nuwe volhoubare energiebron kry wat beter as die SVL (spoed van lig) werk.

Ek wou ’n verskil maak, maar binne my eerste paar maande by die program het ek besef dat dit nie in my kaarte was nie. Ek, Amé Rossouw, is saam met twee ander jong wetenskaplikes, Hennie Strauss en Adelle Vosloo, genooi om by ’n geklassifiseerde projek met die naam BW-87490 aan te sluit. Ons instrukteur het gesê dat ons die mees gevorderde van al die ander nuwe studente was. Hy het gesê dat ons die wêreld sou verander. Hy het nooit gesê hoe nie.

“Amé.” Hennie se stem ruk my wakker. “Huh?” Ek tel my kop van my lessenaar af op en skil ’n wit vel papier van my wang af. “Het jy al weer hier geslaap?” lag Adelle terwyl sy ’n koppie koffie voor my neersit. Sy trippel na haar deurmekaar lessenaar. Sy is altyd so vrolik. Hennie stap na ons radio en sit dit hard aan. Ek staan op en loop na die swartbord. Ons weet hulle luister en kyk. “Adelle, is die plofstowwe geplant?” vra ek sonder om van die bord af te kyk. “Ja, en alles is geaktiveer. Julle moet net sonder om aandag te trek, julle werk en projekte wat julle wil hou, bymekaar kry. Ek het die teenmiddel vir GX-90 klaar ingepak.” Sy blaai deur haar notas. “Hennie?” Ek steek my hand uit vir die bordskoonmaker.

“Die lugfilter is klaar gelaai met die Hippo, ek het dit in gasvorm gestimuleer.” verduidelik Hennie. Hippo is ons naam vir die hipnotiserende entstof, GX-90. “En ons weet dit gaan werk?” vra Adelle. “99,689% seker,” sê Hennie glimlaggend. Ek stap terug na my lessenaar.

“Ek het ons vals paspoorte gekry en vliegtuigkaartjies is bespreek. Ons gaan op verskillende vliegtuie na ons bestemming. Ons het elkeen ses verskillende vlugte tot ons daar kom; hulle sal ons nooit kan volg nie. Ons huis is klaar gekoop en geld, klere en alles wat ons nodig gaan hê, is klaar daar.” As ons gaan verdwyn, dan moet ons regtig verdwyn. “Sodra ons by die lughawe kom, sal ek ons van al die netwerke afhaal, niemand sal ooit weer iets van ons kan vind nie, selfs nie vingerafdrukke en geboortesertifikate nie,” sê Hennie. Nog ’n rede waarom ons gekies is: ons is almal alleen, geen familie, niemand wat ons sal kom soek nie.

“Wanneer laas het jy met Hein gepraat?” vra Adelle my.

“Gister, alles is nog reg. Hy sal by die huis wees as ons daar kom.” Prof Hein is die een wat ons help ontsnap. Hy was ons professor net na hoërskool. Toe ons hom vertel wat aangaan, het hy dadelik ’n plan begin uitwerk. Hy is ’n wêreldbekende wetenskaplike en het oor die dertig maatskappye. Ons gaan saam met hom by die hoofmaatskappy werk. “Julle ken julle nuwe identi …” begin ek, maar ek kry nie kans om my sin te voltooi nie. Ons instrukteur, Johan, stap in. “Is julle reg?” vra hy. Ons knik.

Heelpad na die vergadersaal klop my hart soos dromme. Is ons regtig gereed? Ons stap in. Dis net ek, Hennie, Adelle, die vier hoofwetenskaplikes wat ons proses dophou, ons instrukteur en nog ses mans. Ons word voorgestel. “En julle herken seker hierdie man,” glimlag Johan. “Die minister van veiligheid.” Ons het geweet dit gaan hoog op, maar nie so hoog op nie. Ek wonder of die president weet? “Julle mag maar begin, maar hou dit maar eenvoudig, ek verstaan nie al die groot woorde nie.” Die minister snork van die lag. “Natuurlik,” glimlag ek.

“Eenvoudig gestel, word ’n gekonsentreerde hoeveelheid selle in die bloedstroom gespuit. Die selle beweeg dan op na die neuroselle in die brein,” begin Hennie.

“Ons kan dan die persoon wat met die selle ingespuit is, se emosies, beweging en gedagtes beheer.” Adelle praat terwyl beelde en woorde op die skerm agter ons flits. “Dit word alles met ’n afstandbeheerbare program beheer van enige elektroniese toestel wat die program het,” voeg ek by. “Dis ongelooflik. Is daar n teenmiddel?” vra een man. Ons kyk na mekaar. “Nee, ons werk nog daaraan,” lieg ek. “Wonderlik! Wanneer kan julle begin om op groot skaal te produseer?” Die minister glimlag breed. “So ’n maand of twee, maar ons sal julle los om oor die res te gesels.” Hennie knik vir Johan en hy maak die deure vir ons oop.

Ek, Hennie en Adelle stap by die deur uit. Dis nou of nooit. “Julle reg?” vra ek. Hulle knik. Hennie sluit die deure. Ek druk die knoppie wat die lugfilter oor vyf minute sal aanskakel, saam met ons boodskap wat op die projektor sal vertoon. Ons storm by die kantoor in en gryp elkeen ons sak en is binne ’n minuut buite. Toe ons uit die gebou is, druk ons die knoppie en hoor die ontploffing in die agtergrond, terwyl ons net aanhou loop.

’n Maand later.

“Wat is so snaaks?” vra ek vir Hennie wat sit en lag voor sy koerant. Ek stap na ons kombuis, wat nes al die ander goed in ons drie se huis ongelooflik duur is. Hein het definitief nie met ’n begroting gewerk nie. “Die minister van veiligheid het om onbekende redes bedank,” glimlag hy. Adelle wals in. “Prof het gesê ons moet vroeër inkom, hy het vir ons die projek gekry wat ons wou gehad het.” Ons al drie glimlag.

Ons wou altyd ’n verskil maak. Wetenskap vir die beter doel gebruik. Energiebronne vind. Siektes genees. Die wêreld ’n beter plek maak. Nou kan ons.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top