WF 2015: Weer en weer en weer

  • 1

Markus maak verlig die venster langs hom in sy vuurwarm Nissan oop. Die stem van die vrou op Radio Tygerberg irriteer hom dat hy byna so warm word soos ’n brandrissie wat in Desember op die strand in die son bak. Markus is op pad na die rekenaarwinkel om ’n rekenaar te gaan koop, salig onbewus van die verrassing wat op hom wag.

Markus is stoksielalleen, want sy beeldskone vrou, Christina, het sewe jaar gelede saggies heengegaan. Die enigste geselskap wat Markus van toe af het, is sy beste vriend, Basjan.

Markus strompel by die winkel in en voel hoe die yskoue windjie van die lugversorger hom tref. ’n Beeldskone jong dametjie verwelkom hom hartlik. “Goeiemiddag, meneer, welkom hier by Softwarewizard. Ons het die grootste verskeidenheid van rekenaars in die provinsie. Kan ek vir meneer met iets spesifiek help?” Markus antwoord saghartig dat hy self sal regkom.

Wanneer Markus doodmoeg by die huis uit die motor swoeg, hoor hy hoe Basjan kliphard blaf. “Maak jou hond ophou blaf, Markus! As hy nie nou ophou blaf nie, is die hel los!” skree Markus se buurvrou, mevrou Jordaan. Markus begin sy naels kou. “Woef! Woef! Woef!” Markus reageer vinnig en valhardloop by sy huis in, klap vir Basjan op sy agterstewe dat dit soos warm kole op sy pels brand. “Ja, ja, boontjie kry sy loontjie!” skreeu Markus kliphard dat sy woorde deur die huis eggo.

Markus gaan installeer dadelik die rekenaar. Hy skakel die rekenaar aan en die beeld van die skerm maak hom byna so blind soos ’n mol. Hy vat sy tyd om ’n lang e-pos vir Sonja in Brasilië te tik. Klik-klik-klik vlieg sy vingers oor die sleutelbord. Die klank klink vir hom wildvreemd. Wanneer hy klaar getik het, klik hy versigtig op die stuurknoppie regs bo in die hoekie van die skerm. “Nog ’n e-pos van Daniël. Ek is nou so moeg soos ’n hond, ek kan dit môreoggend lees.” Markus skakel die rekenaar af en begin balke saag voor die rekenaar.

“Woef! Woef! Woef!” Markus skrik helder wakker, sodat hy byna uit sy bed foeter en sy kop teen die bedkassie kap. Hy wonder waaroor Basjan nou weer sal blaf. Hy staan op en kruip stadig in die gang af na die rekenaarkamer. Hy kyk rond, maar sien niks verkeerd nie. Vinnig kom hy agter dat hy voor die rekenaar aan die slaap geraak het, maar in sy bed wakker geword het. Markus let ook op dat die lugversorger aangeskakel is. “Dis hoekom dit so yskoud hier binne is.” Hy skakel die rekenaar aan, maar iets is vreemd, die rekenaar vat besonders lank om aan te skakel en ’n snaakse beeld flits oor die skerm. Net stadig genoeg vir hom om dit op te merk. Biep-boep-biep.

Markus gaan op die internet en tik in: Gmail. Hy sien dat iemand van sy e-posse beantwoord het. “Dis abnormaal. Clean & Dental, dis ’n e-pos van my werk: “Ons is baie jammer om te hoor jy gaan nie langer vir ons werk nie, Markus. Ons sou gedink het jy sal dit darem persoonlik aan ons kom meedeel en nie op so ’n koue manier nie.”

“Nee, wie sou my e-posse kon beantwoord het?” Markus dink aan die feit dat hy al klaar byna brandarm is. Markus gaan op die internet en tik in: “Standard Bank.” Hy voel of hy flou word wanneer hy sien dat daar niks geld in sy spaarrekening is nie. Hier is ’n slang in die gras. Markus strompel by die huis uit, duik by sy motor in en jaag na die bank toe om die bankbestuurder te gaan sien.

Markus is uitasem wanneer hy by die bank ingenael kom. “Meneer Goosen, die geld is gisteraand deur jouself van jou huis af oorgeplaas,” sê die bankbestuurder selfversekerd. Hy toon aan Markus die bewyse. Markus en die bankbestuurder sit nie op die oomblik langs dieselfde vuur nie. “Dit is onmoontlik, ek het op daardie stadium geslaap,” sê Markus, terwyl hy die relings van die stoel styf vashou. “Nee, meneer Goosen, dan het jy dit seker maar in jou slaap gedoen, maar daardie geld is weg en net jy sal weet waarheen,” sê die bankbestuurder onbeskof. Markus loop doodstadig en diep geskok terug na sy motor toe.

Markus gaan sit voor die rekenaar by die huis, terwyl hy snot en trane huil. Die beeld flits weer oor die skerm. “Wat is die beeld wat ek die heeltyd sien?” vra hy onseker. Biep-boep-biep. “Goeiemiddag, Markus.” Markus skrik homself boeglam en ’n skok spring deur sy liggaam. “Wie is dit?” vra Markus. Basjan kom so vinnig soos lig ingehardloop en begin kliphard blaf. “Kry daardie verskoning vir ’n hond hier uit!” Markus kyk vreesbevange in die rekenaar se rigting. “Toe-toe, kry blitsvinnig daardie hond hier uit.” Markus kom agter dat dit die rekenaar is wat praat en hy storm by die deur uit en gaan sluit hom in sy slaapkamer toe.

Na twee uur sit Markus nog steeds geskok in die kamer.

Na nog ’n uur kom Markus uiteindelik by die kamer uit en struikel so stadig in die gang af. Biep-boep-biep. Markus se woorde glip by sy mond uit toe hy dié geluide weer hoor: “Wie is jy, wat soek jy?” Daar is ’n oomblik stilte. “Moet nie bang wees nie, Markus. Ek wil niks skade aanrig nie. Kom in dat ek vir jou kan verduidelik wie ek is.” Markus stap versigtig nader en sit heel in die hoekie van die kamer. Die rekenaar vertel: “My naam is Johannes Petrus de Beer. Ek en my gesin kom oorspronklik van Namibië af. Albei my ouers is oorlede as gevolg van die tsunami in Thailand toe hulle in 2010 daar gaan vakansie hou het. Daarna het ek nie meer ’n rede gehad om te lewe nie en toe wens ek dat ek ’n kunsmatige voorwerp kan word. Ek wil baie graag weer voel hoe dit voel om ’n mens te wees, maar die koeël is deur die kerk. Dis hoekom ek jou huis gaan oorneem. Dan kan ek weer soos ’n mens leef. ”

Markus staan vinnig op en gryp die rekenaar. Hy storm na buite, vat ’n lang aanloop soos ’n spiesgooier en smyt die rekenaar in die swembad. Eeeeewwwwww. Daardie klank sê dadelik vir Markus dat die rekenaar lepel in die dak gesteek het.

Markus maak verlig die venster langs hom in sy vuurwarm Nissan oop. Die stem van die man op KFM, Ryan O’Connor, irriteer hom dat hy byna so warm word soos ’n brandrissie wat op die strand in die son in Desember bak. Markus is op pad om vir hom ’n nuwe televisie te gaan koop, salig onbewus van die verrassing wat op hom wag.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Annerie Troskie

    Dis baie goed geskryf! Ek haal my hoed vir jou af! Eenvoudige taal, maar dit boei my beslis. Wel gedaan, Eckhart!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top