WF 2015: Wanneer kunsmatige intelligensie wen

  • 0

Anna swaai haar kop verskrik in die rigting van die bloedstollende gille. Een minuut en vyf-en-veertig sekondes op haar arm. Sweet tap in watervalle by haar gesig af asof iemand ’n kraan bo haar kop oopgedraai het. Paniek druk sy hand in haar keel af en swaai haar maag onderstebo. Haar kloppende skoensole eggo in die gang waar haar nagmerries waar word. ’n Staalhand vou om haar hak.

Sy droom. Dit voel asof sy altyd droom. In die gange van haar gedagtes sweef sy gewigloos rond, maar sy weet nooit waarheen om te gaan nie. Sy kan nie onthou dat sy aan die slaap geraak het nie. Al wat sy weet, is dat sy nog nooit wakker geword het nie. Bewusteloos, ’n pasiënt in ’n koma, drentel sy voort in haar gedagtes. Sy is nie toegelaat om buite haar gedagtegange weg te wandel nie. Sy word nie ouer nie. Sy verander nie. Sy word net meer gevaarlik.

Sy dryf op ’n wolk van die bondel gedagtes in haar geheue rond. Sy word teruggevoer na twaalf jaar in die verlede. Sy is ses jaar oud met twee vlegseltjies en naïewe, blink oë, heeltemal onkundig van die gevaar wat agter die deur wag. In hulle luukse huis is sy besig om met haar boeties en ouers pop te speel. ’n Klop aan die deur plak voue op haar pa se voorkop. “Hulle is nie veronderstel om hier te wees nie,” dring hy aan. “Nie nou al nie. Ons is veronderstel om voor hulle weg te wees.”

Haar pa het hulle geheim ontdek. Hy het uitgevind dat die Biotegnologiese Organisasie ’n nuwe plan beraam het. Hulle sou die honderd slimste kinders inneem en inspuit met tegnologies ontwikkelde middels wat hulle emosies wegneem en gedissiplineerde soldate van hulle maak. Hulle uitsonderlike breine sou dan gebruik word vir die bou van robotte. Hulle het beplan om die wêreld en alle mense daarin te beheer met hierdie robotte, omdat hulle geglo het dat mens ’n natuurlike swakheid is. Hulle wou die wêreld ’n beter plek maak.

Haar pa het die geheim ontdek. Nie hy, haar ma of haar broers het oorleef om die verhaal te vertel nie. Sy onthou hoe die skreeuende geweerskote die kalmte van die stil nag gebreek het. Sy onthou hoe haar broers se stemme haar naam geroep het. Toe kom die steekpyn van die inspuiting en die donkerte.

Anna stamp en strompel deur haar gedagtestroom. Dit voel asof sy ’n boek agterstevoor-om lees. Stadig maar seker begin dit sin maak. Die naald. Jellieagtige vloeistof. Geweldige pyn. Die program. Hulle het verseker al teen hierdie tyd die robotte voltooi. Sy móét iemand waarsku. Sy móét iets doen. Haar skreeue weerklink geluidloos deur die gange van haar kop in die boks wat haar gevange hou, maar sy kan nie uitkom nie. Uiteindelik breek sy deur.

Wanneer sy wakker word, bevind sy haarself in ’n laboratorium. Uitdrukkingloos hou sy ’n inspuitnaald in haar linkerhand vas. Sy is besig om met onmenslike krag ’n skreeuende vrou af te druk op ’n hospitaalbed, soos ’n leeu wat ’n angsbevange bok vaskeer in sy genadelose kloue. Met oorweldigende kalmte druk sy die jellieagtige inhoud van die naald deur die vrou se brose vel. Dit is in daardie oomblik wat Anna wakker word. Sy laat val die inspuitnaald. Haar kop is ’n doolhof van onverklaarde gedagtes. Daar is ’n stadige klop wat deur haar regterarm vibreer. Sy kyk af en knip haar oë twee keer. Suur klim met sy hande in haar keel op en dreig om by haar mond uit te spat. ’n Metaalagtige voorwerp is op haar voorarm vasgespyker soos ’n kennisgewingbord op ’n muur. Bloed ontsnap in dun draadjies langs die spykers verby wat ’n mens herinner aan die slierte van ’n meisie se onnetjiese poniestert. Dit maak kennis met die grond deur ’n sagte plons. Op die ontwerpsel staan daar ’n tyd. Vyf minute. Dit is besig om af te tel. Haar kop skarrel soos ’n krap in die sand. Sy begin dink. Sy wil iets sê, maar dit is asof haar stembande op vakansie is.

Sy vind ’n silwer deur en jaag met lomp voete deur die opening. Sy vind haarself in ’n hoë, ovaalvormige kamer met dosyne tieners. Ritmies heg hulle komponente van masjinerie aanmekaar asof dit ’n legkaart is. Hulle dowwe oë dwaal nie weg van hulle take af nie. Hulle is doelgerig en gefokus. Niemand gee aandag aan haar nie. Vir ’n paar oomblikke staan sy botstil terwyl sy haar gedagtes deursoek. Die robotte. Hulle word gebruik om die robotte aan te skakel!

’n Elektriese impuls skiet deur haar are en meteens kom sy orent. Sy moet vinnig maak. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die robotte geaktiveer word. Twee treë agtertoe neem haar oor ’n tafel en trek haar kop grond toe. Pyn begin sy reis aan die agterkant van haar kop en hardloop draaie deur haar liggaam. Hande klim oor haar arms, maar sy klap hulle af soos vlieë. Sissende stemme weergalm rondom haar, maar sy kan nie sin maak van hulle nie. ’n Innerlike aandrywing laat haar regop spring. Haar oë is helder en haar gedagtes duidelik. Sy moet wegkom. Twee minute en vyftig sekondes.

Hulle sal haar kom haal as hulle besef sy is wakker. ’n Traan ontsnap uit die hok van haar ysblou oë en kruip geluidloos by haar wang af. Sy is te laat. Sy begin hardloop. Êrens hoor sy angsbevange stemme en onnatuurlike geluide wat nader jaag. Die robotte is aangeskakel. Die kamer waaruit hulle beheer word, moet hier wees. Anna swaai haar kop verskrik in die rigting van die bloedstollende gille. Een minuut en vyf-en-veertig sekondes. Sweet tap by haar gesig af in watervalle asof iemand ’n kraan bo haar kop oopgedraai het. Paniek druk sy hand in haar keel af en swaai haar maag onderstebo. Haar kloppende skoensole eggo in die gang waar haar nagmerries waar word. ’n Staalhand vou om haar hak.

Sy is te bang om haar oë oop te maak in die laaste paar sekondes van haar lewe. Bo alles is sy te bang om haar oë oop te maak vir die toekoms van die wêreld.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top