WF 2015: Verlange

  • 0

Dit is veeleisend om te erken dat my spieël die afgelope jaar my enigste en geliefkoosde metgesel geword het. Alhoewel hy my ontleed op grond van wat hy sien, is hy nie wreed nie, net eerlik. Hy oordeel nie. Hy is konstant en betroubaar.

Teen hierdie tyd het ek alle hoop verbeur om saam met die Ongeïnfekteerdes gekategoriseer te word. Hoekom sal ek nie? Sedert die dag wat die meteoriet op aarde ontplof het en sy oppervlak verdrink het in misodorfien-gas, het die paar wat onaangeraak was, geweier om naby ons te kom.

Ons. “Misse,” soos hulle ons noem. Dalk is dit as gevolg van die gas, dalk is dit omdat ons misvormd is. Die regering het enige kontak met Misse verbied; dus sal ek nooit kan uitvind nie. Ek sal nooit weer die knars van gesonde groen gras onder my reine voete kan voel soos wat hulle kan nie. Nie sedert die dag wat daardie vuil, goddelose muskiet my besmet het met hierdie afstootlike toestand nie. Hulle het my uitgegooi soos ’n ongehoorsame hond en gelos om te vrek soos die res van ons.

Ek streel oor die gleuwe wat oor my gesig strek soos die strepe van ’n tier. Eers sprankelend en besproet, nou geskroei tot flarde nes die res van my liggaam.

Ek neem hulle nie kwalik dat hulle op ’n afstand van ons wil bly nie. Die misodorfien affekteer almal anders. Sekere Misse is gelukkiger as ander. Party is geseën met ’n paar ekstra ledemate. Die tipe en aantal strek van middelmatig tot meer uiterste gevalle. Sommiges moet hul verstand prysgee; hulle is gedryf tot absolute waansin. Die bevoorregtes sterf dadelik. Die ergste geval wat ek al waargeneem het, is diegene wat verander in barbaarse vleisvreters. Mensvleis, jammer genoeg. Ek voel dit is grootliks die rede waarom die ander nie met ons wil assosieer nie. Aandete saam met vriende sal opsy geskuif moet word, omdat jy op die ou end in die maaltyd kan verander.

Ek loer na die sterre van onder my verskeurde kombers en geniet die eenvoudige skoonheid daarvan. Dit is selde dat ek iets kan geniet in hierdie ondraaglike plek. Die genot in my lewe is grootliks afwesig sedert die gebeurtenis by die gebou so ’n kilometer weg van die dam. Ek is kwaad vir myself dat ek weer eens die verhaal in my kop herroep, maar dit is onvermydelik. Daar sal elke dag ’n tyd wees wat ek dit moet herleef, amper asof dit ’n huldeblyk is. Ek voel dadelik hoe die effense geluk wat die sterre aan my verskaf het, stadig uit my liggaam loop soos die laaste bietjie water in ’n tuinslang. Legkaartstukkies met jou gesig op word gedraai en gepas todat ek net mooi vaagweg die sproetjies op jou neusie kan uitmaak. Iets wat jy van my af gekry het.

Dit was al laat en jy was al moeg.

Jy was gewoond om teen daardie tyd al lank in droomland rond te baljaar met Fluffy en Max. Jy sou dit nie kon keer nie. Ek sal myself nooit vergewe vir daardie aand nie. Ek het jou lyfie toegelaat om ’n paar meter van my af te wandel, sodat jy ’n blikkie kon bestudeer wat oorgebly het in daardie verlate plek wat eers ’n winkelsentrum was. Dit is verreweg die grootste fout wat ek in my lewe gemaak het.

Dit het in ’n oogwink gebeur. In ’n paar sekondes het dit jou opgeraap soos ’n valk. Voordat ek enigiets kon doen om te keer, was dit alles verby. Sy tentakels het jou binnegedring en jou ingewande verskeur. Binne ’n minuut was ons lewens albei verby. Myne figuurlik, maar joune letterlik.

Ek verlang na jou met ’n onbeskryflike verlange. Ek sien jou onskuldige groen ogies wat blink in die maanlig. Jou oë dring deur my soos ’n saadjie wat ontkiem in die vroeë ure van lente en plant blommetjies van geluk met my gebroke hart as tuingrond. Jy blom binne my siel met veldblom-vrede. Liefde ontplof met ’n spektrum van skouspelagtige skakerings deur my bors en ek kan niks anders hoor as die geluid van jou stem waarna ek so smag nie.

“Nag, Pappa.”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top