WF 2015: Tweede kans vir die blou en groen planeet

  • 0

Hallo, mense van die planeet Aarde. My naam is Helia. Ek is 160 jaar oud, en is wat julle sal noem ’n tiener. Ek het neonoranje hare en ’n ligte skakering van blou in my vel. Ek weet nie waarom ek dit vir julle moet sê nie, maar in al die biografieë wat ek al gelees het van julle planeet, verduidelik hulle hoe die persoon lyk. Ek weet julle het ’n laer IK as ons, so ek sal dit eenvoudig stel: ek is ’n ruimtewese. Meer spesifiek is ek ’n ruimtewese van die planeet Dorionus. Dit is die planeet wat 680,4 lig jare van julle af is. Maar genoeg oor my, die hele affêre het eintlik te doen met julle. Ek hardloop by die reusagtige beheerkamer in.

"Koning Ruhan, daarom sal dit tot ons voordeel wees om die planeet met die naam Aarde van ons Waardige Lys af te haal." Ek stap in terwyl Dreta haar sin voltooi. "Kan ek my opinie lug?" vra ek, en gaan sit langs Dreta by die reusetafel. Sy sug diep en rol haar oë vir my.

(Net om julle in te lig, daar word vertel dat ek en Dreta ons eerste argument in die embrio-opwekkamer gehad het en van daardie dag af het ons nog nie ophou baklei nie – die embrio-opwekkamer is wat julle kraamsale noem; ons noem dit opwek omdat ons spesie geneties gemodifiseer word.)

"Wag. Voor jy begin, Helia," Die koning staan van sy groot troon af op wat oor die hele beheerkamer uitkyk en strategies hoog gebou is sodat ons almal moet opkyk na hom. "Môre dié tyd sal Helia en Dreta elkeen hul standpunte lewer en na aanleiding van hul verslag sal ons oor die planeet besluit. Julle is welkom om die vergadering by te woon." En hy gaan sit weer. "Sien jou môre,” glimlag Dreta sarkasties vir my en stap weg.

Dit is alles julle skuld, jy weet. Ons het ’n sisteem, die Waardigheidslys, waar daar bepaal word hoe waardig ’n planeet vir ons is. So hoekom is dit julle skuld? Julle gedrag op Aarde maak julle minderwaardig. En julle wonder seker ook hoekom ek, ’n “tiener”, jul planeet wat 680,4 ligjare weg is, wil red? In my loopbaan word jy ’n keuse gegee: jy kan enige planeet kies om te bestudeer en dop te hou. Ek het op julle planeet besluit, so het julle basies my verantwoordelikheid geword. Maar die hoofrede waarom ek so graag wil voorkom dat julle planeet uitgewis moet word, is omdat ek julle iets skuld. Ek skuld julle indirek my lewe. Ek is seker julle is nou verward.

Laat ek verduidelik. My pa het vroeg in die 1980's per ongeluk op julle planeet geland. Hy was geneem na ’n plek wat almal op jul planeet die geheimsinnige Area 51 noem. Dit is soos ’n dorpie vir ruimtewesens, en dit is waar hy vir tien jaar gebly het. Hy het onderrig ontvang in julle maniere, omgewing en leefwyse. Daar het my pa my ma ontmoet. Sy was een van die wetenskaplikes. Hulle het verlief geraak, getrou en dit het tot my gelei. Ek het nooit my moeder ontmoet nie, sy het gesterf met my geboorte. Dit het gelei tot ons terugtog na ons planeet. Ek is grootgemaak met al die stories van die Aarde. Met my pa se laaste asem het hy my laat belowe dat ek die mense van Aarde dieselfde respek sal betoon as wat hulle aan hom betoon het.

Dis tyd. My bewende hande klou aan my rok. Ek stap die groot vertrek binne. As ek dit moet beskryf, sou ek sê dit kom voor soos ’n hofsaal. Daar is ’n verhewe sitplek vir ons Koning en voor hom en oorkant die gehoor, ’n plek vir my en Dreta om te praat. Daar is genoeg sitplekke vir duisende Doriane. Ek gaan staan op my plek en wag vir al die toeskouers wat gekom het om hulle sitplekke in te neem. "Vandag," begin die Koning, "besluit ons op die toekoms van ’n planeet en sy inwoners. Ons sal eerste vir Dreta ’n kans gee om te praat."

Dreta staan op en kyk die gehoor stip aan. "Planeet Aarde is ’n diverse planeet met ongeveer 7,23 biljoen dominante inwoners, die mens, en 8,8 miljoen ander spesies wat hulle diere en plante noem. Ek is oortuig dat die planeet geen waarde vir enige iemand bied nie, veral nadat hulle teen mekaar begin draai het. Hoe kan ons van ’n planeet wat mekaar probeer uitwis en so ook hul diverse fauna en flora vernietig, verwag om eendag in vrede met ons saam te leef?” Die toeskouers begin onder mekaar fluister. "Die planeet het sy waarde verloor, dit is duidelik." Sy gaan sit en gluur my sinies aan.

Ek neem ’n diep asemteug en staan op. My hande bewe en my stem klink vreemd oor die mikrofoon "Aarde..." die toeskouers kyk skepties rond. "Aarde is nie net ’n planeet nie. Dit is ’n woning van hoop. In die woning is daar wel foute, maar so is daar in talle van ons wonings." Beelde flits op die skerm agter my van oorloë en mense wat treur. "Maar daar is ook liefde. Liefde wat vreemdelinge saambring. Liefde wat sterker is as die haat." Foto’s verskyn van kinders wat mekaar omhels, diere versorg en minderbevoorregtes help. "Hulle het dalk foute, maar wanneer dit kom by saamstaan, is daar niks wat in hul pad kan staan nie. Hulle is ’n intelligente, liefdevolle, hardwerkende spesie en as hulle een ding verdien ... Dan is dit ’n kans." Die beelde eindig met ’n foto van ’n ma wat haar baba in die lig swaai, terwyl die sonstrale deur haar hare dans.

Die koning praat met die hooggeplaastes om hom en staan op. Ek gaan sit wankelrig. "Ons het ’n besluit geneem." My hart bons wild in my bors. "Die blou en groen planeet kry ’n tweede kans."

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top