WF 2015: Sweef

  • 0

Almal lewe hul eie lewe, maar jy word besit deur iemand met meer mag as jy. Jy het geen ouers, broers of susters nie. Al wat jy het, is die persoon langs jou en die bleek uniform wat jy gedwing word om te dra. Elke dag word ’n nuwe uniform aangeskaf. Jy kry jou kospakkies in ’n ziplock-sakkie en jou emosies in ’n album.

“Hey.” Isabella roep saggies vir die enigste bekende gesig in Eenheid 3. “Ek hoor jy weet waar die Waterval is.”

Lukas lig nie sy kop nie, maar maak asof hy ’n gedig opsê.

“Kan jy asseblief ophou probeer om die meisie te beïndruk en net na my luister?”

Die meisie wat voor Lukas sit, draai om en glimlag skamerig vir hom. “Dankie, Isabella, daar gaan my enigste kans. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek sê jy is jaloers. Nee, ek weet nie waar die Waterval is nie en jy ook nie.” Lukas staan op van sy bank en loop uit die vertrek.

“Sou jy nie wou weet waar dit is nie? Vir eens sal ons dan weet wie ons beheer en hoe om uit hierdie verdomde plek uit te kom. Ek wil nie langer maak asof ek ’n robot is met geen emosies nie.” Ek loop agter hom aan.

“Jy is ’n robot met geen emosies nie, Isabella. Dis hoe ons gemaak is en jy kan dit nie verander nie.”

“Vir seker kan ek dit nie verander nie, maar ons kan. Ons al twee het die intelligensie van Einstein gekry, so hoekom moet ons net hier sit en niks daarmee doen nie?”

“Ons is die kennis gegee om programme te skep, nie om uit te vind hoe om die kennis te verloor nie. Hou nou op droom en gaan maak jou projek klaar.”

“My projek is klaar. Ek het uitgevind hoe om van een plek na ’n ander te beweeg net deur daaraan te dink. Jy moet ’n visuele beeld in jou kop skep en dan sal jy deur middel van place travelling by daardie plek uitkom.” Ek gaan staan stil en maak my oë bottoe.

Die enigste plek waar daar stilte is – die krans aan die einde van ons Eenheid. Ek gaan sit op die naaste klip en verwonder my oor die uitsig wat voor my uitstrek. Dis die plek waarnatoe ek gaan as ek my geheue moet herstel, maar dis die eerste keer dat ek nie te voet kom nie.

“Word wakker, Isabella, dis tyd.” Lukas druk my aan-knoppie en ek loop agterdogtig agter hom aan. “Ek het die Waterval gevind.”

“Ek dog jy sê ons kan dit nie gaan soek nie, omdat ons ons kennis gaan verloor as ons dit kry?”

“Geen tyd vir vrae nie.” Hy loop na my werkstafel toe en neem een van my nuutste programme wat ek ontwerp het. Met die spuitnaald wat op die tafel lê, druk hy dit grasieus in sy bo-arm in.

Die program wat ons beheer, sit ook aan die binnekant van ons bo-arm en alle nuwe programme word daarin geplaas.

“Vir wat doen jy dit? Jy sal weet daar’s nagevolge as jy my net meer sou uitvra daaroor. Die place travelling is nog nie finaal nie!” Ek gryp die inspuiting te laat uit sy hand uit. Hy vat my een hand en druk my hele liggaam teen syne vas. Daar’s nie eens ’n kans om te dink wat gebeur nie.

Ons land op ’n verlate veld wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Die Waterval – ek neem aan dit is die piepklein toestel wat in die hoek van die veld staan – word deur niks omring nie. Dis asof dit hopeloos te maklik sal wees om dit te vat.

Ek en Lukas stap tree vir tree na die Waterval toe. Ek is die een wat my hand uitsteek om dit van sy pilaar af te haal. Lukas trek sy asem skielik skerp in agter my en ek swaai om. My visie word verblind met swart spikkels. Ek veg om Lukas se naam uit my keel te kry, maar rook skeur in my mond in.

“Maak net jou oë toe, Isabella.” Dis nie Lukas se stem nie. Dis ’n stem wat ek nog nie gehoor het nie en met niks in my vertrou nie, nie eens die swart wolke wat veg om my longe oor te neem nie. Growwe vingers maak my oë toe en daar is niks meer krag in my om die hand te beveg nie.

Die enigste plek waar daar stilte is, vrede, die krans aan die einde van ons Eenheid. Ek sien die beeld in my gedagtes. Ek sweef oor die afgrond en sien die stroompie ver onder my wat geluidloos vloei.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top