WF 2015: Reg vir baklei

  • 0

Ek mis my bed. Ek mis my wiskundeonderwyser, televisie, my selfoon. Dis ongelooflik hoe jy eers besef hoe gelukkig jy was as jy alles verloor het. Ek mis hulle. Ek sou enigiets gee om hulle net nog een keer vas te hou. Dis nou al sewe maande. My ouers het eendag uitgegaan om kos te kry. Hulle het nooit teruggekom nie.

Jy wonder seker nou al in watter siek wêreld woon ek, veral as ek my wiskundeonderwyser mis. Dis jou wêreld – die aarde. Op die oomblik is ek êrens in die Veiligheidsone, wat jou miskien laat dink dat dit veilig is. Ek is nie. Ek dink dit is die jaar 2080 of dalk 2081, ek is nie heeltemal seker nie. Jy wonder dalk of hierdie een of ander snaakse storie is oor ruimtewesens wat die aarde oorgeneem het en nou moet die mense wat oorleef het, op die aarde dwaal op soek na kos. Wel, jy is amper reg, maar daar is nie ruimtewesens in die verhaal nie. (Wel, nie sover ek weet nie.)

Omtrent drie jaar gelede is ’n aaklige aanval geloods op die mense van die aarde, maar nie deur ruimtewesens nie. Nee, deur SIEK mense. (Al word daar gedebatteer oor die vraag of hulle wel mense is.) “Ella?” ek hoor my suster se stem. “Ja?” ek draai om en my maag trek op n knop. Sy staan doodstil; daar is ’n geweer teen haar kop gedruk. “Ella Roberts?” vra hy. “Dis ek.”

“Mnr. Denver soek iets by jou.” Die man glimlag. “O, ja, natuurlik.” Ek glimlag vir hom. “Imke, gee vir hom die ding.” Ek knik vir haar. Sy glimlag. Dankie tog, sy verstaan my skimp. Sy steek haar hand in haar baadjiesak en met ’n vinnige beweging haal sy die skokgeweer uit wat ons verlede week iewers opgetel het en skok die wag. Hy val op die grond en ruk soos die stroom elektrisiteit deur hom vloei. “Ons moet gaan,” sê ek. My suster knik haar kop. Ons tel ons sakke op en hardloop oor die vlaktes na ’n oop area waar ’n rivier lank gelede was. Ons moet ’n skuilplek vir vanaand kry. Ons hardloop na geboue wat afgebreek is en eenkant en verlate staan. Ek hardloop by ’n deur in. Ek haal my knippies uit en sluit die deur. Hopelik sal hy nie probeer om by ’n geslote gebou in te hardloop nie.

Ek en Imke stap op teen die trap na die boonste verdieping van die ou sakegebou. Ons maak ons self gemaklik voor die venster met ’n uitsig oor die straat, sodat ons kan sien as iemand kom. “Ella,” vra Imke.

“Hmm?” antwoord ek. “Hoekom moet ons die sleutel by ons hou?” Ek kyk na haar. My suster is net tien. Ek moes na haar kyk toe my ouers … “Want Pappa en Mamma het hard gewerk om dit in die hande te kry en noudat hulle weg is, is dit ons verantwoordelikheid om die mense vry te laat.” Sy sug. “Dis amper verby.” Ek glimlag en beweeg dan nader sodat ek haar onder my arm kan inskuif.

Ek lê lank wakker daardie aand. As môre verkeerd afloop, was alles verniet. Die mensdom sal vir altyd beheer word deur die Zues. Dit is wat die mense wat die wêreld oorgeneem het, hulself noem. En as ek iets oorkom, gaan Imke alleen wees. My hart begin vinniger klop. Oukei … kalmeer, Ella, haal asem. Jy kan en gaan dit doen.

Die volgende oggend is ek en Imke vroeg op en gaan na die plek waar ons die rebelle moet ontmoet. Ek sien dadelik vir tannie Dina. Ek gee haar ’n drukkie. Dan buk ek voor my suster. “Imke, ek en die res van my vriende gaan na daardie groot gebou. Ons gaan die sleutel gebruik en al die mense wat jy altyd sê dat jy so jammer kry, vrylaat?” Sy knik met groot oë. “As ek hulle vrylaat, gaan daai snaakse staalbande om hulle nekke wat hulle beheer, afval. Dan kom ek dadelik terug na jou toe, oukei?” Ek weet eintlik nie of ek daardie belofte kan hou nie. Ek vee ’n traan van haar wang af. “Jy gaan oukei wees,” glimlag sy, “want Pappa en Mamma is saam met jou.” Ek gee haar ’n stywe drukkie en staan vinnig op. “Kyk mooi na haar,” knik ek vir tannie Dina. Ek stap weg na die res van die groep, wat weer deur die plan gaan. “Is julle reg?” vra ek. “Nou of nooit,” glimlag my onderkaptein.

Ons bereik die binnekant van die gebou sonder probleme. Die wagte verwag niks, so dis maklik om hulle buite aksie te stel. Dis eers op die tweede verdieping dat dit moeilik begin raak. Een van die wagte het ons van agter af ingehaal, maar Karien het hom gelukkig gesien. “Gaan!” roep sy terwyl sy met die wag stoei. Ek hardloop reguit na die beheerkamer. Dis vanwaar die verslaafde mensdom beheer word. Ek maak die deur net so vinnig toe soos ek dit oopgemaak het. Ek hardloop na die groot skerms met die honderde knoppies en soek ’n plek om die sleutel in te druk. Ons het geweet die gebou sou stil wees vandag, die Zues het ’n vergadering gereël oor hoe om dié sleutel in die hande te kry. Ironies, nè?

Ek vind die sleutelgat en druk die sleutel in. Laat dit asseblief werk. Ek haal diep asem en draai die sleutel. ’n Alarm begin skree. Ek sien op die skerms hoe die verslaafde mense se hipnotiese staalringe van hulle nekke afval. “Dit het gewerk!” hoor ek Karien se verheugde stem agter my. Die res van die rebelle hardloop ook in en juig. “Ja, dit het,” glimlag ek. Uit die hoek van my oog sien ek twee mense wat mekaar styf vashou. Ek herken hulle. Kan dit wees? Miskien gaan hulle my wel kan vashou.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top