WF 2015: Plan B

  • 0

Dis nie asof niemand dit vir haar lewe kon voorspel nie, dink Sinatra, waar sy sit met haar hande aan haar stoel vasgeketting en intense selfteleurstelling wat aan haar mondhoeke trek. Sy is tog gebore op hierdie vlaktes – dis gewoonlik waar haar soort mense doodgaan.

Dis alles Da Silva se skuld. Sy gluur hom bitter aan en sê vir hom so.

Hy rol sy oë en mompel, “Jy kan my soveel blameer as wat jy wil, maar as ons net sy karavaan laat ontplof het –”

“Het ek my bok verloor!”

“En die kartel het hulle hele voorraad geneties gemodifiseerde dwelms, sowel as die vervaardiger daarvan en sy formules verloor. Watter een klink vir jou beter vir algemene welstand van die samelewing?”

“Jy was veronderstel om na die diere te kyk terwyl ek weg was. Dit was jou werk.”

“Jy het my nog nooit in jou lewe ’n sent betaal nie.”

“Ek moes jou nooit hiermee vertrou het nie. Jy kan skaars na jouself kyk – om nie van ander lewende organismes te praat nie!” Sinatra sit vasgemaak aan ’n stoel in ’n donker vertrek, iewers naby die hooffabriek van ’n internasionale dwelmkartel.

En hoe bring sy haar tyd deur terwyl sy wag vir wat heel moontlik haar dood sal wees? Sy fluister-gil in ’n argument met haar beste, oudste vriend in die wêreld.

Ten minste hou hy nie terug nie. “My kat is in ’n puik toestand!”

“Dis nie jou kat nie!”

Die deur vlieg oop en ’n lang vrou stap in, sit woordeloos ’n metaalbal tussen hulle voete neer, net so ver van sy prostetiese linker as haar regter. Sy sluit die deur agter haar toe, en die balletjie se rooi liggie begin flits vir die vooraf geprogrammeerde minuut. Daar is sestig sekondes voor dit klank begin monitor en ontplof as dit ’n geluid bo ’n sekere aantal desibels optel. Haarfyn ingestel om ook af te gaan indien daaraan gepeuter word nadat dit geaktiveer is.

Baie slim ontwerp as jy vyande in die area wil elimineer. Baie onwettig as jy nie in die weermag is nie.

Beide Sinatra en Da Silva kyk grootoog na die sfeer. Beide kreun. Saggies.

“Dis nie jou kat nie,” fluister Da Silva, “dis my kat. Sy bly net by jou.”

“Hou jou bek, wat is fout met jou?” Sinatra skop na sy enkel asof dit sin na sy brein sal bring. Daar’s ’n klikgeluid wat nie klink asof haar skoen sy prostese getref het nie. Dis dowwer, swaarder, dikker metaal.

Sinatra vloek.

Die son is skaars op wanneer hy verby haar tent stap. Die lig weerkaats in haar oë, maar die figuur se halfmank manier van loop verseker Sinatra van wie dit is. “Môre,” groet hy vriendelik.

“Dis nie oggend as jy nog die sterre kan sien nie, Da Silva.”

“Nee, altyd goed, dankie.” Hy balanseer op sy regterbeen en skud sy prostetiese linker om die sand uit die masjienerie te kry. “Jy’t ’n skroef in jou hare.”

Sinatra gryp verward na haar krulle en voel die metaal raak. Sy’t gister die wrak van ’n dekades-oue Golf uitmekaar getrek, op soek na die ratkas waarvoor ’n waterwerker haar 150 l aangebied het. Die motor was so verfrommel dat sy tot in die aand moes werk om haar skat uit te grawe.

Sy trek die skroef uit haar hare en steek haar tong uit.

“Oulik.” Da Silva vroetel met die band van sy rugsak, maak keel skoon, en vra met sy oë iewers langs haar kop, “Hoe gaan dit met my kat?”

“Ek behoort vir jou te vra. Ek was vir ’n week weg.”

“Snaaks dat jy dit noem. Ek ken hierdie bioloog wat met RNS-kaping werk – dit laat ’n organisme ander proteïene vervaardig as wat DNS daarvoor voorskryf. Die teorie is dat dit weefsel stelselmatig heeltemal kan verander. Littekenweefsel kan nou gesonde vel en spiere word, kanker kan beveg word, sulke goed. Die eksperimente het eintlik regtig baie potensiaal. Die probleem is dat hierdie wetenskaplike ook ’n dief is.”

Sy neem diep asemteue in, soos sy maak elke keer as sy probeer kalm bly.

“As jy lus voel om produktief te wees, ek weet waar jou vark is. Ek gaan ernstig nou reguit terug bed toe.”

“Dis ’n boerbok!”

Twintig minute later staan Sinatra en Da Silva by die venster van die wetenskaplike se karavaan. Sy skop ’n klip nader waarop sy kan staan om in die donker vertrek te kan sien.

Daar’s ’n man by ’n tafel, maar hy sit so stil dat sy vermoed hy slaap. Diagramme en formules is gestrooi op al wat ’n plat oppervlak is en ’n kas vol gloeiende bekers maak haar hoogs ongemaklik. Hokke voer die agterkant van die karavaan uit – haar blik rus op haar bok, waar sy vasgepen is in die hok langs ’n ystervark s’n.

Da Silva snak saggies na sy asem, wat sy nooit sou geglo het as sy nie daar was nie. Sy stamp hom met haar skouer en kyk vraend na hom.

Hy wys na ’n witbord wat bekrap is met formules wat sy nie verstaan nie. Daar’s baie C’s. “Dwelms. Hy gaan dwelms maak met die weggooibare dele van diere – melk, pels, ystervarkpenne.”

Sinatra kry ’n skielike begeerte om die karavaan aan die brand te steek. Sy’t tot dusver baie definitief uit die dwelmsindikaat se besigheid gebly, en het beplan om dit so te hou.

“Ek stel voor ons plant ’n bom,” sê Da Silva.

“Ek stel voor jy bly stil terwyl ek dink. Ek het nog die bok nodig.”

Da Silva rol hierop net sy oë. “So, die plan is – ons steel jou bok terug, en blaas dan die karavaan op.”

Sinatra wag vir die bom af te gaan. Dit vat haar ‘ n volle tien minute om te glo hulle is veilig.

Sy kry nie juis kans om asem te skep nie – teen die elfde minuut is die lang vrou terug, en sy maak hulle los voor hulle weet wat gebeur.

“Wat’s die plan?” vra Da Silva, en die vrou glimlag.

“Ons bom die plek.”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top