Die ligte gaan af. Die deure slaan toe. Ons is vasgevang.
Erika se oë dwaal verward rond in die donker vertrek. Skielik staar sy stip na Markus. Hy vroetel rond. Daar kruip net genoeg lig deur die gordyne. Dit lyk asof hy iets in sy hande vasklem. "Wat is dit?" Markus kyk verras op, asof hy vergeet het iemand staan by hom. "’n Dagboek," antwoord hy.
24 Augustus 2161
My rekenaar dreun nie. Die deure hok ons in en die gordyne steel die lig. Die sekuriteitstelsel is ook buite werking. Ons kan niks oopmaak of aansit nie, want alles word deur my rekenaar beheer. Ek het besluit om hierdie dagboek te hou. Dit is ingeval daar iets met my of Erika sou gebeur.
Markus weet die gort is gaar. Hulle tegnologie gee nooit probleme nie.
25 Augustus 2161
Die geskree van my selfoon het my wakker gemaak. Daar het ’n noodaankondiging op die skerm verskyn: "WAARSKUWING: GEVAARLIKE REKENAARVIRUS BESIG OM TE VERSPREI." Watter verraderlike virus kan so vreeslik gevaarlik wees dat dit as wêreldnuus aangekondig moet word? Ek sal my in die oggend daarmee bemoei. Dit is drie-uur.
Markus klap die dagboek se bruin lippe toe. Hy wriemel homself terug in die snoesige lakens. Binne enkele minute is hy in die arms van Morpheus.
Die oggendson seil stilletjies tot by Erika. Die skerp strale dans op haar oë totdat sy handdoek ingooi. Ontevrede rol sy uit haar bed. Haar voete maak kontak met die yskoue vloer. Erika gryp haar selfoon en gaan op die internet. Verbaas loer sy na die swart letters op die wit skerm: "Rekenaarvirus besmet mense."
Die ligte wil nie werk nie. Die krag is nie af nie, maar die virus is aan.
26 Augustus 2161
Geen rekenaar het al hond haar-af gemaak nie. Ek dink ek weet hoekom die virus so baie vrees wek: dit val nie net jou rekenaar aan nie.
Markus se aandag word afgetrek deur sy flitsende selfoonskerm: "VIRUS VEROORSAAK DOOD." Mismoedigheid vloei oor hom. Hy wil vlug. Ongelukkig is hy vasgevang, in sy eie huis. Hy voel ’n bekende hand op sy stywe skouer. Erika lyk ontsteld. Huiwerig beweeg die rooi lippe op haar spierwit vel. "Volgens die nuus het die kubersiekte al karre begin oorneem. Dit veroorsaak honderde ongelukke. Daar is mense wat uit hulle eie huise uitgesluit is."
27 Augustus 2161
Ek lê al vir vier uur wakker. Sodra ek my oë toemaak, gaan my ligte aan. Dit lyk vir my hoe langer die virus in ’n toestel bly, hoe meer aggressief word dit. Veral teenoor die mens.
Dit probeer my uittart, soos ’n siekte. Ek is bang om uit te vind presies hoe aggressief dit kan word.
Die ink op die bladsy begin al stadiger asemhaal. ’n Laaste paar verwaarloosde druppels word op die papier uitgeforseer. Markus se humeurvlakke en die droë pen skiet deur die lug. Erika weet hoekom hy woedend is. Daar is nie ander penne nie.
1 September 2161
Dit het my vier dae geneem om aan ’n nuwe metode van skryf te dink. Erika het gelukkig onthou van grond wat in die blompot is. Ek het dit met water gemeng en gebruik tans modder om mee te skryf.
Gelukkig het die nuus intussen aangekondig dat daar redding op pad is. ’n Hoogs intelligente rekenaarkundige het ’n program ontwikkel wat blykbaar die virus kan stop.
Markus en Erika se oë is vasgenael op die skerm. Herhaaldelik kners Erika op haar tande. Sy doen dít as sy angstig is. Skielik flits die skerm: "OPLOSSING VIR VIRUS BESKIKBAAR."
Die ligte gaan aan. Die deure spring oop. Is ons nou bevry?
Albert, ’n virusbeheerde robot, dreun deur die stil strate. Selfs met sy hoë intelligensie vind hy dit moeilik om die prentjie te ontleed. ’n Paar weke terug het hierdie dorp die mooiste strate gehad. Nou is dit verwaarloos. Die virus het gewen. Almal is uitgewis.
Albert se oë flits rond van huis tot huis. Skielik staar hy stip na Markus se dooie liggaam. Dit lyk asof hy ’n dagboek in sy hande vasklem. Albert maak dit oop en lees die laaste bladsy. "Die virus het robotte oorgeneem. Ek en Erika is deur hulle beseer, ek dink nie ons gaan oorleef nie. As jy hierdie lees – hardloop!"
Albert grinnik. Hy sit die boek neer en wandel rustig straat-af.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

