’n Skerp lig in Jake se kamer van die een of ander voertuig, ’n snaakse geluid van ’n enjin wat afskakel, maak Jake wakker. Jake staan vinnig op en buk-buk, loer-loer tot by sy venster. Hy sien twee ruimtewesens en ’n groot, vaal ruimteskip. Vir Jake is dit net ongelooflik, maar toe hy die groot gat in sy pa se grasperk sien, raak hy bekommerd, want sy pa gaan beslis nie lag daaroor nie. Dis vir seker. Toe Jake sy kop oplig, staan die ruimtewesens bokant sy kop. Hy skrik so groot dat hy flou word. Die twee ruimtewesens lê Jake op sy bed neer. Toe Jake wakker word, is hy skielik opgewonde en glimlag vir die twee wesens. Jake moet ’n manier vind om sy ouers te vertel van die ruimtewesens, maar dis môre se bekommernis. Gedurende die aand het Jake tyd saam met die ruimtewesens in die ruimteskip deurgebring, maar was steeds geskok oor die hele situasie. Jake kyk verbaas rond en probeer kommunikeer, maar hulle verstaan mekaar nie.
Die volgende oggend vroeg is Jake weer terug by die huis en neem die ruimtewesens na die spaarkamers, maar nou moet hulle sag beweeg dat sy ouers hulle nie kan hoor nie. In die middel van die gang stap Jake en die ruimtewesens, maar net toe hulle verder wil beweeg, sien Jake sy pa uit die badkamer kom. Hy weet nie watter kant toe nie en voordat sy pa vir hom en die ruimtewesens sien, wys hy vir hulle om in die kamer terug te gaan en maak die kamerdeur toe.
“More, Pa. Pa’s vroeg op,” sê Jake. Sy pa kyk aandagtig na hom.
“Ja seun, dis weer een van daardie oggende.”
Terwyl Jake se pa teruggaan na sy slaapkamer gaan Jake en die ruimtewesens na die spaarkamer. Sy ouers is werk toe en hy moet skool toe gaan, maar hy kan mos nie die arme siele alleen agterlaat nie en besluit om eerder te bly.
Jake se geskiedenisonderwyser, mevrou Reyneke, is ’n goeie onderwyser en sal seker nie bekommerd wees oor Jake wat by die huis is nie. Die ruimtewesens en Jake het die hele dag so geniet dat dit hom skoon ontgaan het hoe hy aan sy ouers gaan verduidelik van die groot gat in die grasperk. Om 18:00 die aand kom Jake se ouers huis toe. Lana, Jake se ma, gaan op na sy kamer, maar hy is nog nie by die huis nie.
“Petrus, waar is my seun? Hy is nie in sy kamer nie. Waar kan hy wees?” vra Lana, siek van bekommernis. ”Ek gaan probeer om sy klasmaats en onderwyser te kontak. Dalk weet hulle iets.” Terwyl sy ma kontak maak met sy onderwyser, bel sy pa sy klasmaats, maar niemand het Jake vandag by die skool gesien nie. Jake se ouers het later die polisie gekontak om hulle seun op te spoor. Petrus het agterdogtig begin word oor die gat in die grasperk. Die dae het aangestap en daar was geen teken van Jake nie.
Jake begin later sy ouers, vriende, skool en kos te mis. Na vier dae besluit hy om terug te keer. Jake probeer aan hulle verduidelik dat hy huis toe moet gaan, maar hulle verstaan hom nie. Hy stap na die stuur en wys dat hulle terug aarde toe moet keer. Jake kry toe die geleentheid om die ruimteskip te bestuur en ry eers ’n hele ent verby hulle huis om seker te maak sy ouers is nie tuis nie. Toe hy klaar gedraai het, parkeer hy die ruimteskip weer waar dit voorheen gestaan het. Jake kyk verleë terug na hulle, maar dit laat hom geen keuse nie. Sy ma was seker siek van bekommernis. Hy maak die deur oop, waai eers vir hulle en klim uit. Hy staan buite totdat hulle vertrek en gaan dan binne.
Na die hele reis en vier dae sonder kos is Jake dood van die honger. Hy wou nie die snaakse kosse eet wat die ruimtewesens hom aangebied het nie. Hy stap reguit kombuis toe, vat vir hom ’n blikkie koeldrank uit die yskas en maak vir hom ’n lekker toebroodjie. Nadat hy klaar geëet het, stap hy stort toe. Die vier dae se sweet laat hom sleg ruik. Jake stap op na sy kamer nadat hy klaar gestort het en gaan rus ’n bietjie. Toe sy ouers by die huis kom, gaan Lana weer kyk of Jake dalk in sy kamer is. Gelukkig kry sy hom in sy kamer en staan by sy bed totdat hy wakker skrik.
Toe Jake wakker skrik, sien hy sy ma staan. “Ma, ek het nie besef dis al so laat nie, ek is nou daar onder!” Jake kyk na sy ma, maar sy beweeg nie. Toe weet Jake hier kom groot moeilikheid. “Jake, ek is jou ma. Wat ek van jou verwag, is eerlikheid. Nou sê my, waar was jy die afgelope vier dae? Weet jy dat ek siek was van bekommernis?” Lana kyk na Jake met starende oë.
“Ontspan, Ma, ek is oukei! Ek was van plan om vanaand vir Pa en Ma te vertel waar ek die vier dae was.” Jake se ma stap kombuis toe en vertel vir Petrus dat Jake in sy kamer is en alles na aandete gaan verduidelik. Jake vertel sy ouers wat aangaan en waar hy die afgelope vier dae was.
“Dit klink so onrealisties. Is jy seker, Seun?”
“Pa, ek is seker, moenie bekommerd wees nie. Hulle gaan binnekort weer kom.” In sy geskiedenisboek het hy ’n opsomming gemaak van sy wonderlike vier dae van avonture en kon sy vriende en juffrou daarvan vertel.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

