WF 2015: Om my toekoms te red

  • 0

Die verlede.

Dis iets waarmee ’n mens nie moet speel nie. Maar wanneer die wêreld om jou val en jou enigste alternatief die dood is, dan waag jy dit om waaghalsige dinge te doen.

Ek hyg na my asem. Die skoon, koue lug brand deur my longe en maak elke haar op my lyf wakker. Ek voel die grond onder my vingers. My oë gaan oop. Bo my is helderblou lug met sagte wolke. ’n Skadu val oor my. “Is jy oukei?” hoor ek ’n stem. Die figuur help my op my voete. “Wat maak jy op die grond?” vra ’n jong seun met seegroen oë en pikswart hare. “Watter jaar is dit?” vra ek terwyl ek rondkyk om te sien of ek iets herken. Alles lyk so anders. “2015? Spot jy met my of iets?” Hy lyk verward. “Die tyd?”

“10:02 – wie is jy?” probeer hy vra, maar ek draf reeds teen die groen heuwel af. Ek weet waarheen ek gaan, probeer ek myself oortuig. Ek doen, nè? Ek herken niks. Daardie huis was nie daar nie? En die woud … daar is omtrent niks daarvan oor nie. “So, wat het jy aan?” vra ’n stem wat ek herken. Dis die seun wat ek nou net ontmoet het. “Dit is my uniform,” antwoord ek terwyl ek verder drafstap. “Dis ’n vreemde skooluniform,” lag hy.

“Dis die rebelle-uniform.” Ek trek my oë op skrefies en probeer die padkaart in my geheue herroep. “Rebel…” hy wil nog iets sê, maar ek is te vinnig vir hom. “Luister nou mooi na my! My naam is Lien. Ek kom van die jaar 2083. Ek is gestuur om ’n terreuraanval te stop. Daar is ’n vredeskonferensie in Kaapstad se stadsaal. Ek het presies ’n uur en ag-en-vyftig minute voor ’n bom afgaan. ’n Bom wat al die wêreld se leiers se dood sal veroorsaak. As ek dit nie stop nie, gaan die derde wêreldoorlog die hele wêreld verwoes.” Die seun staar my met groot oë aan. “Waar het jy gesê is jou malhuis?” lag hy senuweeagtig.

“Ek weet dit maak nie sin nie, maar jy moet my vertrou! En jy moet my na die stadsaal neem.” Ek byt my lip en bid. Hy moet net instem om my te help. “Oukei, ek sal jou na die stadsaal toe neem, maar net omdat ek niks anders het om te doen nie!” Hy gryp my hand en ons vlieg verby geboue wat ek slegs herken as stukkende, afgebreekte bouvalle.

Kaapstad was beeldskoon voor die oorlog, besef ek. Ek en wie ook al die seun is, vleg deur die verkeer en onbewuste, laggende mense. Dan stop ons. Ek kyk op na die groot gebou. Die gebou waarvan ek in my geskiedenisklas geleer het as die plek van die “begin van die einde”.

“Ons is hier,” sê die seun skouerophalend. “Dankie,” glimlag ek. “Nou hoe dink jy gaan jy inkom?” vra hy. Ek glimlag. “Ek gaan instap.” Ek draai om en stoot die groot deure oop. “Wag! Jy kan nie net ...” hoor ek sy stem. Die wagte is binne ’n paar sekondes voor my. Ek trek my geweer uit en skiet al vyf. “Wat het jy gedoen?” vra hy geskok terwyl hy een van die wagte se pols voel. “Hulle slaap net. Kom! Binne die volgende paar sekondes kom nog wagte.”

Ek stap vinnig na die muur aan die verste punt. “Die meeste van die wagte is in die volgende vertrek, ons moet hier deurgaan,” sê ek terwyl ek met my vingers oor die panele van die muur voel. Ek druk die klein knoppie wat weggesteek is. Die muur swaai oop. “Hoe het jy …” probeer die seun vra, maar ek is klaar in en hy volg maar. Ek stop voor die volgende muur. “Is jy reg?” vra ek. Hy knik. Ek wens hy het my nie gevolg nie, maar dit sou te gevaarlik wees om hom alleen daar buite te los. Ek maak die valdeur oop en klouter deur. Ek bevind myself in die middel van die massiewe saal vol leiers. Almal lyk geskok. Daar is chaos en die wagte begin in ons rigting beweeg. Ek vuur ’n skoot in die lug. Daar is stilte. “Ek is nie hier om julle seer te maak nie,” skree ek. “Waarom is jy dan hier, jong dame?” vra die Suid-Afrikaanse president. “En wie is jy?” hoor ek iewers ’n ander stem.

“My naam is Lien de Villiers. Ek kom van die jaar 2083, ek is gestuur om julle lewens te red.” Daar is ’n onderlangse gemompel. “Hierdie is –” ek draai om na die seun. “O! Ek is Tiaan Meyer,” antwoord hy. Ek staan vir ’n oomblik stil, my hart klop hard in my ore. Ek staar hom verras aan. Dit maak nogal sin, dis hoekom hy so bekend gelyk het en verklaar sy lus vir avontuur. “Wat?” fluister hy. “Ek sal later verduidelik,” verseker ek hom. “Jy het gesê jy is hier om ons te red?” hoor ek ’n stem. “Ja. Hier is ’n ploftoestel.” Daar is ’n gedruis. “Dit is deur ’n rebellegroep van Sirië geplant om die vredesonderhandelinge te stop.” Ek haal my rugsak af en neem ’n leersakkie uit. Ek kyk om my. Hier. Ek buk af en tel die los vloerpaneel op. Daar lê die plofstof rustig en wag.

Dis tien minute later.

“Jy het geen idee wat jy vir jou land en die wêreld gedoen het nie,” verseker ek Tiaan. Die ploftoestel is onskadelik gestel en die dataskyf met ’n boodskap van my leiers is aan die huidige leiers gegee. Nadat hulle dit gekyk het, is ons vrygelaat. Dit was in almal se beste belang.

Ons is terug op die plek waar Tiaan my gekry het. “So wat was daardie kyk wat jy vir my gegee het, toe jy my naam gehoor het?” vra hy. “Ek het jou naam herken,” glimlag ek. Hy frons. Daar is ’n helder lig. Dis tyd. “Tot siens, Oupa,” sê ek en verdwyn in die lig.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top