Ek wag agter ’n groot afvaltrok waar ek wegkruip vir die ruimtewesens. Dis vandag presies ’n week gelede toe die ruimtewesens op moeder aarde geland het om almal van die aarde te verwyder.
Ek en my familie het my verjaarsdag gevier en alles het van daardie dag af begin verander. Die wesens het my familie weggevat en ek is bevrees ek gaan hulle nooit weer sien nie.
Ek staan saggies op en bekyk die straat op en af voor ek oor die straat stap. Ek hardloop by ’n oop deur in. Daar is niemand in die winkel nie en ek loop deur na die kombuis. Ek maak die yskas oop en sien dat daar kos in die yskas is. Ek gryp ’n pakkie kos en sit dit in my rugsak. Ek loop terug na die winkel en bêre ook ’n paar blikkies koeldrank in my rugsak.
Ek loop na die agterste kantoor toe. Ek maak die deur agter my toe en maak vir my ’n lekker plek om te slaap.
“Aaghh!!” word ek wakker van ’n geskree en kan net nie uitmaak waar dit vandaan kom nie. Ek begin bewe en besluit om die lessenaar voor die deur te skuif.
Terwyl ek die lessenaar skuif hoor ek weer ’n geskree en die keer is dit nader as wat ek gedink het. Ek skakel die lig af en gaan sit aan die verste kant van die kamer met my hand voor my mond en neus.
Ek hoor voetstappe wat soos dié van die ruimtewesens klink. My hart begin in my keel klop en ek kan nie langer my asem ophou nie. Iemand is by die deur en probeer dit oopmaak.
Ek begin huil van bangheid. Na ’n lang ruk van stoei met die deurknop loop die ruimtewesens weg.
Ek sit seker vir ’n uur lank en staar na die deur. Ek staan op en loop na die deur toe, loer deur die sleutelgat om te kyk of daar nog ruimtewesens voor die deur is. Ek gaan sit weer in die hoek en maak reg om net daar te slaap. Ek raak aan die slaap maar skrik wakker van ’n nagmerrie.
Ek trek my rugsak nader en haal vir my kos uit. Ek maak die kospakkie oop maar die reuk wat daaruit kom, maak my onmiddellik naar.
Ek skuif die lessenaar weg van die deur af en maak die deur saggies maar stadig oop. Ek loop die gang af tot by die kombuis en maak die yskas weer oop, maar daar is nou geen kos nie. Ek slaan die deur toe en toe ek omdraai sien ek ’n ruimtewese wat vir my kyk. Ek begin te bewe van bangheid.
Ek hardloop straat se kant toe en probeer wegkom van die wese. Ek kyk agter my en sien dat hy my nie meer my agtervolg nie.
Ek stop en toe ek terugdraai staan die ruimtewese reg voor my. Hierdie wesens lyk nogals na mense met oë wat net effense groter is as ons s’n. Hulle is ook omtrent dieselfde lengte as mense. Ek besluit om oor te gee en steek my hande in die lug om te wys dat ek oorgee. Die wese kom nader en slaan my met sy wapen dat ek op die grond val en alles word donker rondom my ….
Ek probeer losruk maar kry dit nie reg nie. Ek skree en skree maar niemand kom nie. Naderhand raak ek kalm. Die deur gaan oop en twee ruimtewesens loop die kamer binne. Die een wese maak die bande om my bene en arms los en ek sit stadig regop.
Die ruimtewese kom nader en trek my aan my arms op. Ek probeer loskom maar kry dit nie reg nie.
Die ruimtewese trek my al agter hom aan en ek byt en skree en skop maar hy laat my nie los nie. Ons stop voor ’n deur en die wese laat my gaan. Ek begin agteruitloop en loop teen iets hards vas. Ek draai om en sien dat ek teen een van hulle vasgeloop het.
Hy loop vorentoe en dwing my om die kamer binne te loop. Ek draai om en kan my oë nie glo nie.
“Mamma?” vra ek asof ek nie weet wie die persoon op die stoel is nie. “Welkom, ons het lank vir jou gewag om huis toe te kom,” antwoord my ma.
“Waarvan praat mamma?” vra ek onseker. “Jy is een van ons – ’n ruimtewese, Marc,” antwoord my ma. “Hoekom dink jy maak hulle jou nie seer nie?” vra sy.
Ek gryp een van die wesens se wapen uit sy hande en rig die wapen op my ruimtewese- ma. “Hoekom het mamma my nooit vertel nie en hoe lank is mamma al ’n alien – en hoekom moes mamma-hulle al hierdie mense op moeder aarde doodmaak?” vra ek ernstig.
“Hulle was in ons pad en het my werksmense probeer doodmaak,” antwoord sy. Ek laat die geweer sak en net toe gaan ’n skoot af en my alien-ma val op die vloer. Ek hardloop na haar toe en probeer die bloed stop, maar is nie suksesvol nie.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie