WF 2015: ’n Skroef los

  • 0

Die gezoem van karre wat in die kunsmatige atmosfeer vlieg, die moderne voëls verskeur my ore. Ek kyk by die venster uit na die grys lug. ’n Sonagtige, ronde voorwerp skitter soos ’n neongeel lig, maar dit is nie die son nie. Dit laat jou nie ’n warm, rustige luiheid voel nie, dit is ’n bal van masjinerie. Ons wetenskaplikes noem dit “Die uitvinding van die millennium”. Tussen die dooie grys en verblindende geel atmosfeer, flits daar elke paar sekondes ’n weerligagtige lig in die verte. Dit is weer die vreemdelinge vanuit die heelal wat ons kragveld probeer binnedring. Ons is veilig solank ons in die kragveld bly, sê die regering, maar wie sê die gevaar is buite? Ek dink dit is binne.

Die lewe van ’n persoon met skisofrenie in die jaar 3000 is, om in een woord te verduidelik, gemaklik. Om die sisteem funksioneel en glad te hou, het die regering alle moontlike veranderlikes uitgeskakel. Dit het natuurlik alle mense met geestesongesteldhede ingesluit. Ons almal is op een plek gestort, soos rommel op ’n vullishoop. Miskien is ek ’n bietjie negatief, want ons word beslis nie sleg behandel nie. Robotte bedien ons dag en nag; hulle sal selfs ons tande vir ons borsel as ons hulle vra. Dit is nie juis asof hulle omgee nie, hulle het nie eens ’n brein óf ’n hart nie. Wanneer ons hoor van hoe die mense van die verlede bang was dat robotte sal oorneem, lag ons so hard dat dit selfs buite die kragveld gehoor kan word. Die enigste mense in die Geestelike Kliniek Streek A3 is die pasiënte. Alhoewel robotte al amper presies soos mense lyk, ís hulle nie; hulle is net verhewe stukke yster wat ons versorg.

Ek kan basies doen wat ek wil; ek skryf maar hier in my dagboek, want die TV flits net heeltyd propaganda van die regering. Dit sou nie te sleg hier gewees het nie, as dit nie vir die ander mense was nie. Die kreature daar buite die kragveld is babas in vergelyking met die rillers waarmee ek opgeskeep is. Dit is basies ’n ongeskrewe ooreenkoms hier (die enigste ding waaroor ons kan saamstem) dat ons almal mekaar haat.

Die afgelope paar maande het die verhoudinge tussen die mense verder versuur. Vreemde gebeure het ons getref. Iemand is dood van ’n stortkop wat op hom geval het, drie mense is dood as gevolg van voedselvergiftiging en twee ander van aanvalle. Die aanvallers is nog steeds onbekend. Dit klink miskien nie té vreemd vir ’n plek vol mal mense nie, maar in die tyd en plek waarin ons woon, is dit so skokkend soos om ’n blou perd in jou kas te kry. Die sisteem is foutloos, die staat maak seker daarvan dat die robotte ons presies in toom hou en dat absoluut niks verkeerd gaan nie. Daar word verseker dat daar geen onluste tussen die pasiënte uitbreek nie. Dit is ’n volwaardige raaisel.

Blykbaar het van die pasiënte met mekaar alliansies begin stig vir veiligheid, volgens Martin, maar hy is ’n kroniese leuenaar. So ek vat maar alles wat hy sê met ’n knippie sout. Wat wel ’n feit is, is dat daar definitief iets swaars in die lug hang. Soos petroldampe. Dit versmoor my. Buite die kliniek klink dit asof alles normaal aangaan, die TV en radio hou aan om dieselfde propaganda en nuus van die kreature buite uit te saai. In die kliniek is dit heeltemal ’n ander storie. Van die pasiënte gedra hulle nóg meer eienaardig as gewoonlik. Hulle loop rond met permanente halfglimlagte en, om die waarheid te sê, dit gee my ’n slegte gevoel op my maag, asof iets slegs gaan gebeur. Die robotte, op wie jy altyd kon staatmaak dat hulle perfek normaal gaan wees, begin ook om abnormaliteite te toon. Iets is definitief vreemd, ek kan net nie my vinger daarop plaas nie. Miskien is die vreemdste van alles dat ’n verdere twee pasiënte in abnormale omstandighede dood is. Ek weet nie hoekom die staat nog nie ’n ondersoek geloods het nie. Die robotte is so geprogrammeer om by die eerste tekens van moeilikheid aan die regering ’n sein uit te stuur om hulp. Ek is vreesbevange, maar ek bewe ook van die opwinding; ek was lank laas in so ’n drama betrokke.

Die Ordehouers, die destydse polisie, het gister op hulle motorfietse hier aangevlieg gekom. Hulle het met hulle swart en wit pakke en kopbedekkings in netjiese rye deur die hele gebou geloop. Martin sê dat een van die oorlede pasiënte se familielede die staat ingelig het dat daar iets hier aan die gang is, toe hulle nie meer boodskappe van hom kry nie. Ek is self nuuskierig oor wat aangaan, maar ek word altyd uitgesluit van sulke goed, want die ander pasiënte vertrou my nie.

Ek is vandag na Geestelike Kliniek Streek B1 verplaas. Al die mense in my ou gebou is na ander klinieke verplaas en ek sal jok as ek sê dat ek hulle gaan mis! Ek het nou al die storie stukkie vir stukkie bymekaar gesit van wat die afgelope paar maande plaasgevind het. Die ordehouers wat my na my nuwe kliniek geneem het, het in die 500-km-reis ’n bietjie van my vergeet en met mekaar gepraat oor wat gebeur het. Na wat ek kon hoor, het een van die pasiënte sy ou ingenieurskennis heel goed benut. Hy en ’n paar ander het ’n manier gekry om dele van die TV in die sitkamer te gebruik om ’n apparaat te maak wat die robotte se programmering manipuleer sodat hulle doen wat die pasiënte sê. Wat het hulle met daardie mag gedoen? Die pasiënte van wie hulle nie hou nie, doodgemaak …

Die gevaar bly binne. Ek is omring daardeur. Mense het altyd gedink dat kunsmatige intelligensie die spesie gaan wees wat die mens gaan vernietig, maar ek dink die gevaar is binne. Binne-in ons almal.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top