Elke spesie het ’n swak punt. Die rede vir sy probleme. En die mens, wel, ’n mens is nie anders nie. In die jaar 2051 het navorsers bewys dat ons mense baie beter sou funksioneer sonder ons grootste swak punt: emosie.
Wat hulle nie in ag geneem het nie, is dat emosie die einste kenmerk was wat ons menslik gemaak het. Presies vyftig jaar later, in 2101, het ons wêreld in ’n nuwe era inbeweeg. Die era wat die meeste sukses sou oplewer. Geen liefde om jou logika deurmekaar te krap nie. Geen haat of jaloesie om oorloë te begin nie. Geen vrees of angs nie. Net die koue waarheid.
Hoe het hul ons menswees gevat? ’n Geneties oorplaasbare hormoon is in die lug afgeskei. In ’n tydperk van twee-en-twintig dae is al die menslike emosies verwyder en daarmee saam ons “menswees”. Maar net voor die hormoon afgeskei is, het ’n wetenskaplike met die naam Dawid Foster ’n teenmiddel ontwikkel en dit saam met sy seun, Etien, versteek.
Daar word vermoed dat Etien iewers in ’n skynslaap lê en dat sy pa ’n outomatiese tydstelsel ontwikkel het wat na 50 jaar sal aktiveer en hom sal laat ontwaak. Etien is weerstandig teen die hormoon en dus die grootste en sekerlik enigste gevaar vir ons mense se emosielose bestaan.
“Karien, is jou huiswerk voltooi?” vra my ma. “Natuurlik, Moeder,” antwoord ek terwyl ek my kamer verlaat. Ek volg die wit reling van die trappe tot op die grondvloer van ons huis. “Moeder, ek gaan my projek oor die voordeel van die geneties geprogrammeerde voortplantingsproses ingee by die Onderrigsentrum,” eggo my stem deur ons vergaderkamer. My ma knik. Terwyl ek in die stil straat afstap, merk ek ’n jong seun op. Sy klere is … wel, anders. Hy kom tot stilstand voor my.
“Waarom is jy anders geklee?” vra ek terwyl ek my kop draai. Ek weet nie waarom ons sulke onlogiese uitdrukkings het nie, soos om jou kop te draai terwyl jy ’n vraag vra. “My naam is Etien Foster. Ek het jou hulp nodig. Ek is nie hier om jou seer te maak nie.” Hy staan ’n tree nader. Ek frons. “Etien Foster? Jy is vir ons ’n gevaar, ek moet jou oorgee aan ’n volwassene,” sê ek en draai om. Ek wag vir hom om te volg. “Nee, wag. Dit is nie tot jou voordeel om my in te neem nie,” redeneer hy.
“Waarom nie?”
“Ek is hier om die mensdom weer ’n kans te gee,” antwoord hy. Ek stry: “Die mensdom doen beter as ooit tevore. Ons het bakterieë en virusse heeltemal uitgewis. Ons het die omgewing gereinig. Ons almal se IK is ’n gemiddeld van 140. Wat meer …” Hy vat my hand. “Al daardie oorwinnings is niks werd as julle dit nie kan voel nie!”
Ek kyk af na my hand. “Waarom doen jy dit?” vra ek. “Doen wat?”
“Vat aan my hand, dis vreemd,” sê ek, maar iets binne my voel dit is dalk nie regtig so vreemd nie. Etien lag saggies. “Dis my manier om vir jou te wys ek vertrou jou,” sê hy. My brein verwerk die inligting. “Waarom maak jy so ’n snaakse geluid uit jou keel?” Hy lag harder “Mens noem dit lag.”
“Gaan jy my help, asseblief?” smeek hy.
“Ja.” Ek weet nie waarom ek ingestem het nie, maar êrens binne my voel dit reg. “Dankie, kom – ons moet by die torings kom.” Hy druk my hand ’n bietjie stywer en lei my na die kant van die gebou. “Wag,” stop ek hom. “Jy kan nie so aangetrek wees nie. Ek sal van my broer se klere gaan kry. Bly hier.”
Binne vyftien minute is Etien aangetrek en ek en hy is op pad na die torings. “Onthou, doen net die logiese ding en niemand sal jou eers opmerk nie,” sê ek saggies, sonder emosies. “Mag ek vra: voel jy regtig niks nie?”
“Wel … ek weet nie wat daar is om te voel nie, maar toe ek jou ontmoet, het ek hierdie vreemde gevoel gekry dat ek meer wil weet.”
“Jy is nuuskierig,” glimlag hy. “Nuuskierig? Watter ander emosies is daar nog?” vra ek. “Woede, angs, pyn, geluk, jaloesie, liefde, hartseer.”
“Wat is hartseer?” vra ek voor ek myself kan keer “Dis wanneer … wel, jy ervaar pyn omdat jy emosioneel seer het soos as iemand doodgaan wat jy liefhet. Die emosie laat jou huil.” Ek frons. Hoekom frons ek? “Huil is wanneer water van jou oë lek.”
“Dis vreemd,” sê ek en ons stap verder. Etien lag weer vir my.
Ons kyk op na die hoë torings. “Is daar enige wagte?” vra Etien. “Nee, dit is nie nodig vir wagte nie,” antwoord ek. Ons beweeg teen die trappe op en bereik die boonste vertrek. Etien haal ’n buisie met ’n helderpers chemikalie uit. Hy maak een van die lugsuiweraars oop en laai die buisie daarin. “Is jy reg om te leef?” vra hy.
Dan hoor ek voetstappe. “Bly agter my,” sê Etien. Hy druk vinnig die skakelaar aan. President Malan en vier wagte kom die vertrek binne. Sy kyk stip na Etien. Sy fluister iets vir een van die wagte en hy gee vir haar iets aan waarvan ek nog net gehoor het. ’n Geweer. Sy rig dit op Etien en die skoot gaan af. Etien tref die grond hard.
Ek snak na my asem en my hart voel of iemand dit stukkend druk. “Hoekom?” vra ek toe ek langs Etien val. “Dit was logies,” sê sy skouerophalend. Sy rig die geweer op my. Dan frons sy. Haar gesig word bleek en sy laat die geweer val “Ek’s jammer, ek …”
Ek kyk af na Etien wat met toe oë op die grond lê. Iets nats rol teen my wang af. Die volgende oomblik hyg Etien na sy asem. “Jy leef?”
“Het dit gewerk?” Hy raak aan die traan op my wang. “Ek dink so.” Ek glimlag.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie