WF 2015: ’n Nuwe begin

  • 0

Ek is in die verkeerde era gebore. Dit besluit ek finaal terwyl ek staar na die wit mure wat my omsluit. “Mejuffrou van Jaarsveld.” Ek spring verskrik op toe ek my naam hoor. “Dankie, Jaco!” Ek is uit die tronksel nog voor die deur al heeltemal oop is. “Sien jou môre,” grap ek soos ek in die gang af stap. Jaco rol net sy oë geïrriteerd. Ek dink hy word moeg vir my.

Ek maak ’n skerp draai na regs en stap na ’n botaniese tuin. Wel, ek probeer ’n skerp draai maak, maar ek word deur Dean gestop. “Nee.” Dis al wat hy sê. “Ag, kom aan!” Ek sou probeer argumenteer, maar ek sou makliker ’n PET leer om “woef” te sê as om Dean te kry om nie sy opdragte te volg nie. (Net vir duidelikheid: ’n PET of persoonlike elektroniese troeteldier is geprogrammeer sonder klank.)

“As ek belowe om vir my pa te sê dat jy vandag uitstekend gevaar het in jou taak om my op te pas, sal jy my drie sekondes gee om vir Prof te groet?” smeek ek. Dean stop, draai om en staar my aan vir ’n paar sekondes. Hy sug. “Reg, maar net omdat ek nie weer vir die derde keer dié week vir die President wil verduidelik hoekom ek nie sy dogter in toom kon hou nie.”

Ek beweeg in die gang af en soos die 07:15-spoedbus, weet ek presies watter draaie om te maak. Ek herken die ligte grys deur met die naam: Professor Sion in vetgedrukte letters op. My hand gly oor die deur se slot. Die groen laserliggies dans op my handpalm en maak ’n goedkeurende klank soos die deur oopskuif.

Ek sou wat wou gee om ’n regterdeurhandvatsel te gebruik! “Professor?” My stem weergalm van die hoë mure af, wat toegepak is met duisende van die laaste hardebandboeke in die wêreld. “Lara?” Sy kop verskyn van agter ’n stapel papiere uit. Maak nie saak hoeveel die wêreld verander nie, professors bly deurmekaar. “Hoe vêr het jy vandag gekom?” vra hy soos hy stoei om uit die doolhof te ontsnap. Ek skud my kop en hy vang my skimp.

Die deur gaan oop en Dean stap in. “Oukei, ek het nie letterlik drie sekondes bedoel nie.” Hy grinnik. “Ek was verveeld.” Ek kyk na professor Sion vir sy toestemming of Dean mag bly. “Natuurlik. Hy is immers een van ons,” sê hy terwyl hy sy bril regstoot. “Dean? Hy het nie ’n rebelse been in sy lyf nie!” Ek kyk van die professor na Dean. Dean glimlag skeef. “Hoe lank al?” vra ek. “Net voor jy by die Rebelle aan gesluit het,” antwoord Dean, wat homself op die professor se deurmekaar bank probeer gemaklik maak. Wel, so gemaklik as wat jy seker jouself op die professor se toegepakte bank kan maak.

My brein werk oortyd. Ek het geweet dat daar ten minste vyf van ons rebelle was, ek en Prof ingesluit. Ek weet wat jy dink – vyf rebelle! Dis ’n grap. Maar, wat kan ek sê, daar is nie baie wat bereid is om op te staan vir wat reg is nie. Die enigste rede hoekom die professor ooit dit gewaag het om die president se dogter te vertel van sy sieninge, is omdat hy my belangstelling in die 21ste eeu raak gesien het. Dis min dat enigiemand ooit na 100 jaar terug se gebeure verwys.

Dit voel soos ’n ewigheid vandat my lewe vir die eerste keer heeltemal tot ’n stilstand gebring is, maar dis net ’n jaar gelede toe die professor my van sy punt oortuig het.

Honderd en twee jaar terug, toe die klok 12-uur slaan en ons oorslaan na die 22ste era, het die wêreld vir ons mensdom heeltemal verander. Niemand het enigsins ’n idee gehad wat die leiers beplan het nie, tot in die laaste sekondes toe ons ondergronds geneem is nie. Hulle verduideliking: Die wetenskaplikes het gevind dat die osoonlaag finaal sal verdwyn in daardie jaar, en om ’n massahisterie te voorkom, het hulle dit als in geheim gedoen. Vir ons veiligheid. Niemand is van daardie dag af weer toegelaat om boontoe te gaan nie. Dit is wat ek die laaste maand sonder sukses heeltyd probeer. Professor het bewyse dat dit weer leefbaar is op die aarde se oppervlaktes.

“En hoekom werk een van ons Rebelle vir my Pa, nogal as my lyfwag?” vra ek skepties. “Ek kan ’n oog op jou hou en dit vir jou nog makliker maak om uit te kom,” sê Dean. Ek sou argumenteer, maar dit maak nogal sin.

*

Die alarms skreeu soos huilende kinders in die donker nag. Ek spring uit die bed en hardloop by die gang af. Dis tyd. Dean is langs my nog voor ek verby die eetsaal hardloop, dit is waar ons gewoonlik bymekaarkom in noodgevalle. “Is jy reg?” vra Dean. “Nee,” sê ek, en ons glimlag.

Die uitgang is naby en ons het nog nie een wag raakgeloop nie. Dis te maklik. Die volgende oomblik spring ’n wag van nêrens uit. Ek het te vroeg gepraat. “Waarheen dink julle is julle twee nogal op pad?” Nee! Ons was so naby.

“President Van Jaarsveld…” My pa kom uitgestap, “Kyk wie het ek gevind,” glimlag die wag. “Ek sal dit van hier af neem,” sê my pa streng en die wag verdwyn. “Pa …” Ek sal my hieruit moet probeer praat. Hy maak my stil deur sy hand op te lig en dan doen hy iets vreemds. Hy beweeg uit ons pad. “President?” vra Dean onseker. “Gaan kry ons lewe terug!” glimlag hy. Ek gee hom ’n stywe druk en ek en Dean hardloop verder.

Ek staan voor die deur wat na die oppervlakte lei. Ek het nog nooit so vêr gekom nie. Ek kyk na die handvatsel. ’n Regte een. My vingers vou om die silwer staaf, ek druk dit af en druk die deur oop …

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top