WF 2015: ’n Gelukkige einde

  • 0

Ek haat boeke en films. Ek haat die feit dat die goeie persoon altyd wen. Dis ’n leuen en so stereotipies. Ek is een-en-twintig jaar oud, ek is skatryk, besit my eie wêreld, ’n bekende organisasie, en ek kan doen net wat ek wil. Selfs in 2069 is dit nogal ongewoon om op my ouderdom so goed te doen! En ek kan sonder om te blik vir iemand lieg en oortuig hoe ek die toppunt bereik het. "Harde werk en deursettingsvermoë," sê ek altyd met ’n glimlag. Die waarheid is: Ek het gesteel en getrap op wie ook al in my pad gekom het. En ek voel nie skuldig nie. Ek is die slegte persoon in die verhaal en anders as die leuens in boeke en films, gaan ek vir julle die waarheid vertel.

Dis lekker om die slegte persoon te wees, en dit is maklik. Nes enige noemenswaardige skurk het ek besluit om ook ’n aanval op die wêreld te loods. Die wêreld te verwoes! Ek het lank getob en beplan hoe ek dit gaan regkry. Ek besluit toe op iets na aan my hart. Die GEEN-MEER-LEUEN-Veldtog. (Ek weet, oorspronklike naam, nè!) Ek het my kontakte in hooggeplaaste posisies gebruik om die veldtog te bemark aan die media en publiek. En hulle het dit vir soetkoek opgeëet, veral omdat ek hulle oortuig het dat kinders meer voordeel sal trek deur eerder boeke te lees oor hoe om beter in jou skoolwerk te doen, hoe om ’n boom te plant – sulke opvoedkundige dinge – nie feëverhale en nonsens oor hoe die held die skelm verslaan nie. Binne ’n week is dié boeke van die internet verwyder. Alles weg. Om ontslae te raak van die gedrukte boeke was ’n bietjie moeiliker. Die dommer mense het hulle dadelik vir my gepos. Dié met ’n bietjie meer verstand het hulle boeke weggesteek. Ek het die boekwinkels eers gaan “reinig”, toe het ek mense opgestook en kontant aangebied om aan te meld as hulle weet van plekke waar boeke aangehou word.

"Mej Dahlia ..." My assistent stap my massiewe kantoor binne. Dis op die boonste verdieping van my grootste gebou. My kantoor is ingeklee met ingevoerde meubels, van die duurste wat geld kan koop, en het die nuutste tegnologie. In die hoek van my kantoor is daar ’n deur. Die deur lei na die kluis waarin ek al die boeke wat ek al bymekaar gemaak het, wegsteek. "Ja, Lelie?" antwoord ek sonder om op te kyk. "Dis Rose," sug sy. Ek weet wat haar naam is, dis net lekker om haar te laat dink ek onthou haar naam na drie jaar as my assistent nog steeds nie. "Ons het ’n anonieme wenk van die publiek ontvang – ’n adres waar die laaste paar boeke moontlik gehou word,” verduidelik sy. “Laat weet die wagte en kry die vliegtuig gereed, ons vlieg oor tien minute,” antwoord ek terwyl sy uit my kantoor verdwyn. Ek vryf my vingers oor die foto van ’n pa, ma en twee dogtertjies.

Hier’s nog ’n stereotipiese eienskap van die skelm in die verhaal. Hulle het meeste van die tyd ’n slegte lewe as ’n kind gehad. Of hulle het deur ’n diep, donker tyd in hulle lewe gegaan. Ek? My kinderjare was wonderlik – ’n gelukkige, gesonde familie, goeie opvoeding, alles wat ek wou gehad het. Die moeilikste tyd in my lewe was met die dood van my ma. Ek mis haar ontsaglik, maar ek het altyd ondersteuning van my familie en vriende ontvang. So hoekom het ek só uitgedraai? Eenvoudig – omdat dit lekker is!

"Sjampanje is op my!" skree ek oor die juigende klomp wagte en werknemers. Die leidraad was akkuraat. Sover ons weet, is al die boeke vernietig of in my kluis. Ek het gewen. Die skelm het gewen. Ek stap op na my kantoor en gaan sit tevrede agter my lessenaar. "Mej Dalia. Jou suster is hier," kom my assistent se stem oor my interkom. "Laat haar in." Kyk, ek is mal oor my suster, maar sy stem nie saam met my veldtog nie. "Ek is nie hier om jou groot oomblik op te mors nie. Ek het vir jou iets gebring," sê sy. Sy haal iets uit haar sak en gee dit vir my. "Waar het jy dit gekry?”

"Ek het dit vir die regte oomblik gehou," glimlag sy. Ek kyk af na die voorwerp in my hande. Ek laat gly my vingers oor die voorblad. Dis die boek wat my ma altyd vir my gelees het. Skielik maak alles vir my sin. Ek besef eensklaps waarteen ek so hard gestry het. Alles word glashelder, soos waarom ek die boeke in die kluis hou en dit nie net verbrand nie. Hoekom ek so graag die skelm wil wees. Die rede vir my obsessie om van al die verregaande boeke ontslae te raak. Ek het deur ’n donker tyd gegaan na my ma se dood. Ek kon nie verstaan hoe sy my kon los nie. Ek het voorgegee ek gee nie om nie, om die seer weg te steek. Deur die skelm te wees, het ek die maklike pad gekies.

Ek kyk na die boek in my hand wat my altyd oor die goeie en slegte geleer het. Sprokiesverhale, lees die opskrif. Ek blaai na die eerste bladsy. Ek lees die woorde wat daarop geskryf staan. “Aan my prinses – as daar een ding is wat ek wil hê jy moet onthou, is dit dat jy altyd die goeie eienskappe in mense moet sien. Lief jou tot in ewigheid. Mamma.” Ek glimlag en druk die knoppie op my interkom. "Ja?" kom Rose se stem. "Reël vir my ’n perskonferensie so gou as moontlik."

"Reg so," kom haar stem. Ek staan op en gee my suster ’n drukkie. "Wat gaan jy doen?" vra sy. "Ek gaan die held in die verhaal wees." Ek stap by die kantoor uit en hou die boek styf teen my bors vas.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top