WF 2015: Is ons alleen?

  • 0

Die eeue-oue vraag: Is ons alleen in die heelal? Ek het die antwoord op ’n baie vreemde tyd en plek gevind.

Ek word wakker met die klank van die golwe wat teen die strand slaan. Ek maak my oë oop en glimlag WF 2015: Is ons alleen?vir die son wat buite my venster hang. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so gelukkig gevoel het nie. Was dit voor Mamma se dood? Ek skud my kop en probeer daarvan vergeet. Ek weet dié sal ’n lekker vakansie wees. Mamma sou wou gehad het dat ek en Pappa moet aangaan met ons lewens. Ek klim uit die bed en stap opgewonde teen die trappe af. Hoe nader ek aan die grondvloer kom, hoe sterker word die reuk van pannekoeke. Ek haal diep asem en sug. My pa maak die beste pannekoeke in die wêreld. Ek sien hom voor die stoof staan. "Môre," sê hy sonder om om te draai. "Hoe doen pappa dit?" lag ek soos ek my arms om sy lyf vou en hom groet. "Ek is jou pa – ek weet, sien en hoor alles wat jy doen," sê hy glimlaggend.

Na ontbyt het ek besluit ek wil gaan branderplank ry. "Gaan solank, ek is nou daar," stel hy voor. Ek trek my swemkostuum aan, gryp my branderplank en sit af see toe. Dis net ’n paar meter van ons huis se stoep af. Die branders is perfek en ek en my pa is tot twaalfuur in die water.

Dis toe ons huis toe stap, dat dit gebeur. ’n Rukwind gryp my handdoek en waai dit diep die woud in reg langs ons huis. "Ek sal dit kry," bied my pa aan. "Nee, kry Pappa solank vir ons iets om te drink, ek is nou terug." Ek kan sien my pa is ’n bietjie skepties, maar hy knik. Ek gee my branderplank vir hom en draf die woud binne. My handdoek het vasgehaak aan een van die bome. Terwyl ek rek om dit uit die takke te haak, gewaar ek iets uit die hoek van my oog. Daar is iets in ons buitekamer en die sonstrale skyn ’n verblindende lig in my rigting. My ouers het my altyd verbied om daar in te gaan, maar soos die nuuskierige tiener wat ek is, brand ek om te weet wat daarbinne is.

Ek draf nader en loer deur ’n klein gaatjie in die deur. My hart val tot in my maag en dit voel of ek nie asem kry nie. "Marie?" My pa se stem ruk my regop toe ek hom agter my hoor. "Pappa? Daar is ’n ... ’n VVV in ons buitekamer! Soos dié wat ruimtewesens het. Maar dit is veronderstel om nie te bestaan nie!” roep ek geskok uit. Ek probeer my pa se gesig dophou. Hy lyk nie eens geskok nie. "My skat, ek moet jou iets vertel," begin my pa kalm. Miljoene moontlike vrae flits deur my kop. En toe doen ek die mees normale ding: Hardloop vir my lewe.

Ek hardloop na die see en toe ek met my voete in die water staan, besef ek dat hardloop nie sal help nie. Waarheen gaan ek? Hy is die enigste persoon wat ek oorhet. Ek draai om en hy staan klaar agter my. "Is Pappa ’n ruimtewese?" vra ek. Hy knik. "Het Mamma geweet?"

"Ja," glimlag hy. Ek snak na my asem. "Dit is ’n lang storie en ek sal nog alles vir jou vertel. Maar kortliks saamgevat: my ouers, jou Ouma en Oupa, het saam met ’n klomp van hulle spesie na die aarde gekom nadat hul planeet ontplof het. Daar woon ruimtewesens regoor die aarde. Dit is hoekom daar so ’n groot groei in die aantal mense op aarde was in ’n kort tydperk. Ek is een van hulle en jou ma het wel geweet. Ons is nie hier om enige mense leed aan te doen nie; ons het net nie ’n ander plek gehad om te gaan nie."

"Hoe lyk pappa dan so ..." begin ek, maar ek weet nie presies hoe om dit te stel nie. "Ons spesie lyk nes die mense van die planeet. Behalwe dat ons beter sig, gehoor het en die volle kapasiteit van ons brein kan gebruik, dus is ons IK ook baie hoog – behalwe dit is daar nie regtig ’n verskil tussen ons en die mense van die aarde nie." Dit voel of ek my pa vir die eerste keer ontmoet.

"Pappa," begin ek. "My skat, ek het nooit vir jou ma gejok nie. En dit was altyd my plan om vir jou te vertel as jy agtien word. Ek is nog steeds jou pa en ek het jou nog net so baie lief." Ek hardloop in sy arms in en hy hou my styf vas. "Ek weet," sê ek.

"Jy moet my net een ding belowe," vra hy. "Jy mag vir niemand hiervan vertel nie." Ek knik. "Dis nou jou geheim," glimlag hy.

"Ek sal vir niemand vertel nie," belowe ek. Die koue seewater spoel oor my voete. En soos die water wegspoel trek dit die lewe wat ek eens geken het, weg en belowe die begin van ’n hele nuwe avontuur.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top