WF 2015: Inval

  • 0

Eergister het ons nog gewonder of daar lewe op ander planete is. Thank you very much, Discovery. Daar ís toe! Gisteroggend was die televisienuus vol van die reuse-ruimteskepe, groot stofsuiers wat mense soos klein korreltjies opsuig. Selfs die president se Nkandla-veiligheidsopgraderings het niks gehelp nie. Die aanval was onverwags en vinnig, van bo. Nou ... niks. Donkerte. Niks werk meer nie. Motors ry nie meer nie, selfone het nie sein nie en selfs die televisie en radio is tjoepstil. Hulle tegnologie is duidelik iets wat ons nie eers kan begin verstaan nie.

Ek sal gou moet maak voor die son regtig op is. Pa het deur die nag vir Ma en die twee kleintjies gevat. Ek moet eers probeer onbederfbare kos in die hande kry. Pa vertrou my. Ek en hy ken die veld soos die palm van ons hand. Ook die ondergrondse bunker wat oom Jorrie destyds met die verkiesing tussen die ysterklipkoppies gebou het. Pa sê dis ons enigste kans. En dan? Wat gaan van ons word?

Die strate is stil en verlate. Winkels staan oop, maar daar is niemand binne nie. Wat was dit? Ek het my verbeel ek sien ’n beweging uit die hoek van my oog. My hart klop in my keel. Die supermark staan oop. Ek vlieg deur die rakke, gryp die broodnodigste en gooi in my groterige rugsak. Ek sit die geld vir die voorraad wat ek gevat het, op die toonbank neer en draai om. My hart gaan staan amper! My ma sou trots wees op my. Ek vloek nie en my mond hang ook nie oop nie. Voor my staan ’n jong Johnny Depp-“lookalike” met langerige donker hare en die mooiste blou oë wat ek nog gesien het. “Hi.” Ek blaas my asem stadig uit om tot verhaal te kom. “Hallo,” kry hy dit krakerig uit.” Ek is Jacques. Ekskuus dat ek jou laat skrik het. Ek is verlore. Ons het by die vakansieoord gekamp en toe is almal net weg na daardie groot ding hier oor is.” “Ek weet,” sê ek skor.” Ek is Lana. Ek moet by oom Jorrie se bunker kom. Dis ons enigste kans.” Hy lyk verbouereerd en bang. “Vat my saam!” Ek dink vir ’n oomblik na. “Kom!” beveel ek en begin stap in die rigting van oom Jorrie se plaas.” Dis so 10 kilometer. Jy moet byhou.”

Dit begin warm word tussen die ysterklipkoppe. Ek vermoed dat hulle radar nie so goed werk hier nie, want niks het nog naby ons verbygevlieg nie, maar nou moet ons die twee kilometer loop waar daar nie klipkoppe is nie. Ek voel dadelik blootgestel in die oop stuk veld. Ons loop ’n ent in stilte. Dis nou nie meer ver nie. “Hoekom dink jy is hulle hier?” vra hy skielik. “Hoe bedoel jy?” Hy trek sy skouers op. “Ek bedoel, hulle het die aarde vir duisende jare uitgelos. Hoekom nou ewe skielik besluit om oor te neem?” Ek frons. “Wel, van Discovery en National Geographic se wetenskaplikes dink hulle het al lankal ’n vinger in die pie. Hulle sê mos die aliens het baie van die goed wat nou staan, gebou – soos die piramides in Egipte.” Hy lag. “Miskien het hulle.”

Skielik is daar ’n oorverdowende whoooosh-geluid bo ons. “Jacques, vinnig! Agter daai klip!” Ons duik so saam-saam agter die naaste groot klip in. Die ruimteskip vlieg net ’n wye draai en kom dan stadig terug. “O heng. Wat nou?!” vra ek verbouereerd. “Wag, ek het dit.” sê Jacques ewe kalm. Hy begin vir die ruimteskip te staar. “Wat probeer jy …” Hy haal nie sy oë van die skip af nie. “Sjjj. Vertrou my.” Die ruimteskip gaan hang doodstil in die lug voor ons. Vir ’n ruk lyk dit of Jacques en die ruimteskip vir mekaar staar. Dan draai die skip om en vlieg weg. Ek gryp sy hand en begin in die rigting van die bunker hardloop. “Ons moet gaan voor hy of sy pelle terugkom.” Ons draf die res van die pad in stilte.

“Lana! Jy’s terug! Ek moes jou nooit alleen gestuur het nie. Ons was so bekommerd!” Ek glimlag. “Ek is piekfyn, Pappa. Dit was net…” Skielik sien ek hoe my ma beangs na iets agter my staar. “Lana, wie is hy?” Ek draai om na Jacques, wat agter my staan. “O, dis Jacques. Ek het hom op die dorp gekry. Mamma, wat is fout?” My ma bewe. “Hy is een van hulle! Hy is ’n ruimtewese! Ek het hom uit een van die eerste skepe sien klim!”

Ek draai verbaas om. “Jy is een van hulle? Wat?! Jy lyk nie soos ’n ruimtewese nie! En jy praat Afrikaans!” Ek is naar van skok. Die alien rol sy oë. “Julle mense met julle vooropgestelde idees van hoe alles moet wees. Wat het jy verwag? ’n Groen mannetjie met ’n groot kop? Ons hou die aardbewoners van al die lande al vir jare dop. Elke groep het die land se tale aangeleer.” My pa tree voor my in. Woep! Skielik staan net my pa voor my, met ’n groot stok in sy hande. En Jacques? Hy sit soos ’n langpootspinnekop teen die dak en kyk vir ons met spierwit irisse. My pa is nou wasbleek. “Wat wil julle hê?” Die alien los die dak en land op sy voete. “Ons wil julle nie seermaak nie. Ons wil julle net verskuif na ’n ander, uhm ... laat ons maar net sê, minder mooi planeet toe. Daar is suurstof. Kos, water en vermaak sal voorsien word. Julle hoef nie te werk nie.” My pa trek sy wenkbroue op. “So, ons gaan basies passiewe troeteldiere wees – maar hoekom?” Die alien kom nader. “Ons het nie ’n keuse gehad nie. Julle is besig om die mooiste planeet in die heelal te vernietig. Ons kan julle nie langer toelaat om ’n gemors daarvan te maak nie.”

Skielik begin die grond te bewe, en die dak van die skuiling gaan oop. ’n Ruimteskip. Die alien glimlag. “En nou is dit julle beurt om te gaan.”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top