WF 2015: Hoe die wêreld selfmoord gepleeg het

  • 0

My naam is Damian Adams die Vierde. In die besigheidswêreld staan ek bekend as die leeu. Ironies genoeg was my eerste dag as nuwe eienaar en hoof uitvoerende beampte van Mas Records, om dit sagkens te stel, ’n riller. My kantoor is groot, netjies en op die boonste verdieping waar ek op die mooi deel van Los Angeles kan uitkyk. Alles was ’n groot eer totdat ek ’n e-pos van ’n vrou, Roxanne Clarkson, op my digitale raakskerm gevind het. Dagboekuittreksels en ’n koerantberig was aan die e-pos geheg.

19 November 2027 – Ek het vandag gesukkel om die verrigtinge te lei. Dit kon nie maklik gewees het vir die meisie met die treurende oë nie. Haar ma, Diane, was haar heldin. Mens het die twee altyd saam gesien, in al die vyfster-koffiehuise en die mees gewilde winkels. Haar man, die ryk Mason Maswood, was anders. Die eerste keer wat ek hom ooit gesien het, was vandag by sy vrou se roudiens. Ek sal hierdie nagmerrie elke dag, vir die res van my lewe herleef. Daar was die skielike, oorverdowende klank van die kerkdeure se glas wat breek. ’n Man het Mason Maswood met een skoot morsdood geskiet. Die ergste was die bloed op die kerkbanke; die hartseer, pynverwronge uitbarstings van Ava – die dogter. Gelukkig was haar verloofde, Fabian, by haar. Hy is glo regtig ’n edel, slim jongman. Ek is jammer vir die arme Ava, maar wat kon ’n mens doen? Dit was Maswood se tyd. (Dagboekuittreksel: Ds. James White)

19 Oktober 2027 – Ek is gelukkig om Ava as my getroue volgeling-dogter te hê. Ek voel nooit alleen in haar teenwoordigheid nie. Mason is deesdae nêrens te sien nie. Hy is ’n selferkende werkslaaf wat my boonop verneuk. Ek het my alles vir hom gegee, en dit is wat ek terugkry? Ek het ’n groot besluit geneem en Ava ondersteun my ten volle. (Dagboekuittreksel: Diane Maswood)

7 November 2027 – Dit was vir my moeilik om geskok te lyk toe die polisie vir my en Ava kom sê het dat Diane dood is. Mas Records het haar outonome motorstelsel binnegedring sodat sy in ’n muur sou vasry. Ten minste is Diane se dood nou die probleem van die motorstelsel se sagteware-ontwikkelaar. Ava was verpletterd. Maar ek móés dit doen. Diane moes voel hoe dit voel om self die slagoffer van onderkruipery te wees, sy het dit verdien. Die afgelope maand het Mas Records dit reggekry om enige liedjie van enige genre se frekwensies só te manipuleer dat hulle ’n boodskap in die brein van die luisteraar kon ingrawe, al het dit niks met die lirieke te doen gehad nie. Die boodskap was om oorloë te stop en om vrede op aarde te bewerkstellig. Dit was tog opreg bedoel! Nasies met kernwapens het immers die mag gehad om ons almal tot ’n einde te bring. Hierdie frekwensiemanipulasie was die ideale manier om die aarde te red, aangesien alle mense onder dieselfde kondisionering sou wees – behalwe natuurlik die mense wat sou weier om na ons musiek of die radiostasies te luister. Hierdie hele konsep het tot en met vandag intern gebly. Alles het goed verloop totdat Diane se mense die stelsel op ’n onomkeerbare wyse binnegedring het. (Dagboekuittreksel: Mason Maswood)

1 November 2027 – Elke keer wat ek die onderwerp aangeraak het, het Mason gesê dat ’n mens tegnologie nie kan keer nie en dat dit sy doel dien. Hy wou die stuipe kry as ek net begin praat het oor die moontlikheid om mense-namaaksels buite laboratoriums vry te laat. Dit is hoekom ek besluit het om Mason se boodskap van vrede en sy strewe na geen oorloë nie, te laat ontspoor. Daar is nou ’n nuwe strewe: om mense-namaaksels na ander planete toe te stuur om uit te vind of daar waarlik lewe is; ander moontlikhede is legio. (Dagboekuittreksel: Diane Maswood)

29 November 2027 – Ek was besig met administratiewe opdragte vir Ava Maswood toe ek skielik sien hoe Fabian in haar kantoor instorm. Ek het nuuskierig by die deur gaan staan en luister. Hy het gesê dat hy alles weet. Hy het genoem hoe Ava se pa die boodskap-frekwensiestelsel ontdek het en hoe hy weet dat Ava en haar ma daarmee gekonkel het. Die grootste onthulling was toe hy noem dat Ava haar eie pa, die invloedryke Mason Maswood, se dood beplan het. Ek kon nie help om om die deurkosyn te loer nie. Fabian was geskok oor die goed wat hy amper as ’n eis aan haar gestel het, terwyl sy net daar staan. Koud. Gevoelloos. Uitdrukkingloos. Uitdagend! My oë het Fabian gevolg toe hy skielik na Ava se lessenaar toe tree en haar pistool uit die laai uit haal. Die skerp pyn-klank van die paniekalarm het my geskokte gedagtes binnegedring, terwyl my oë vasgenael was op die pistool. Ironies genoeg, wou ek sien hoe hy daardie vroumens (nee, monster) doodskiet – maar toe pleeg hy selfmoord. Nou is ek op ’n vlug na wie weet waarheen. Ek het geweet ek moes dadelik wegkom. (Dagboekuittreksel: Roxanne Clarkson)

Op 11 April 2040 het die tweede ruimtetuig met nog ’n groep foutiewe mense-namaaksels na die aarde toe teruggekeer. Die eerste ruimtetuig het op 2 April 2040 geland. Die foutiewe mense-namaaksels se wapens is selfs gevaarliker as kernwapens. Wetenskaplikes spekuleer dat hulle gebruik maak van ’n gas wat nie van die aarde is nie. Miljoene mense is al dood en dit is slegs ’n kwessie van tyd voor die mense sal besef dat die einde in sig is. (Koerantberiguittreksel: The Freedom News, 11 April 2040)

Die koerantberig en dagboekuittreksels wat ek vroeër vandag ontvang het, het my oë oopgemaak. Ek het besef ek moet dalk eerder my ore toehou. Die vraag wat heeltyd in my kop maal, is: Waarna luister ons? Ek voel moedeloos. Magteloos. Wat verwag die vrou tog moet ek doen? Man-alleen die wêreld aanvat? Magtig, die koeël is deur die kerk en die wêreld is nóú besig om selfmoord te pleeg!

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top