WF 2015: GMR: gevorderde mensgedrewe robot

  • 0

Dit is stil. Logan voel hoe die bloed teen sy voorkop afdrup. Die stuurkajuit is pikdonker. Sy GMR-pak het alle kragtoevoer verloor. Hy kan glad nie sy linkerarm voel nie. Dan, skielik, tref iets hom hard van voor af. Hy kyk op deur die voorruit. Daar staan die MIG MK6 voor hom.

"Dêmmit, hoe is dit moontlik?" dink Logan by homself. Al wat nog funksioneer, is sy regterarm-LMG. Hy gryp die regterstuurstok styf vas en lig dan die regterarm van die GMR op teen sy opponent en trek die sneller. Die skop van die LMG is meer as wat hy verwag het; hy sukkel om raak te skiet. Die MIG vind dit maklik om uit die stroom koeëls te pyl en van Logan se linkerkant af te flank. Logan byt sy tande opmekaar. Hy is kwesbaar van links af. Die MIG lig dan sy SMG en hou dit op hom. Daar flits ’n enorme vlam by die MIG se geweerloop uit. Skielik staan alles stil. Logan besef nie wat gebeur het nie. Hy hoes onbeheers en ’n spatsel bloed tref die voorruit. Hy voel nou vir die eerste keer die skerp pyn in sy heup. Hy kyk af, skrik groot toe hy die reusagtige gat in sy heup sien, dit gaan regdeur tot by die ander heup. Logan voel hoe sy hart klop. Hy val agteroor in sy sitplek en kyk hoe die MIG op hom afstaar. Alles raak stadig donker. Die laaste ding wat hy hoor, is hoe die MIG wegvlieg.

Logan skrik wakker. "Jou imbesiel, jys pateties!" skree Jackson op hom. Logan is nog besig om by te kom en hoor nie duidelik wat sy afrigter sê nie. "Hoe verwag jy om ’n GMR te vlieg as jy nie eers die simulasie kan hanteer nie?" raas Jackson woedend. Logan lyk verward. Hy sit regop en haal sy kopstuk af. Hy ervaar nog psigosomatiese skok en pyn van die simulasie. "Ons is klaar hier, Logan, jy kan maar gaan," se Jackson. Logan staan op en loop uit die vertrek. Hy gaan lê op sy bed in sy slaapkamer. Hy raak aan die slaap. Hy begin droom oor wat daardie aand, 10 jaar terug, gebeur het – die aand wat sy lewe drasties verander het:

Dit is donker buite. Logan sit saam met sy ma, pa en suster aan die etenstafel. Daar is skielik ’n harde klap van buite. Die krag slaan af, die huis is donker. Soos blits breek ’n kolossale hand by die dak in. Alles is in vlamme. Al wat Logan kan uitmaak deur die vlamme deur is die silhoeët van ’n groot, robotagtige figuur.

Logan skrik wakker. Hy kyk na sy horlosie: dis 06:00. Hy was sy gesig en kyk na die kis onder sy bed. Hy maak dit oop. Hy haal die blink staalswaard uit en hou dit in sy hande vas. Hy dink terug aan hoe sy suster hom kleintyd geleer het om ’n swaard te gebruik.

Jackson klop aan die deur. Hy maak dit oop en sien hoe Logan soos ’n professionele swaardvegter die swaard rondswaai, asof die swaard deel van hom is. "Logan, dis die antwoord!" roep Jackson opgewonde uit. "Kom, dis tyd vir jou laaste toets voor jy jou eie persoonlike GMR kry." Logan sit die swaard neer. "Wat’s die punt? Ek sal net weer doodgaan as die eerste MIG op my afpyl." kla hy. Tog staan hy op en loop na die simulasiekamer toe. Hy sit op die bed en sit die kopstuk aan. Hy gaan lê op sy rug en maak sy oë toe. "Logan? Logan, kan jy my hoor?" vra Jackson oor die mikrofoon. "Hierdie keer gaan ons iets anders probeer. Jy gaan vir hierdie simulasie ’n swaard en skild gebruik. Sterkte!" Logan sit in sy GMR. Hy lig sy skild en hou sy swaard vas. Die eerste MIG kom op hom af. Hy keer die patrone met sy skild, dan trap hy die voetpedaal vas. Hy skiet soos ’n vuurpyl vorentoe en swaai die swaard dwarsdeur die MIG se kajuit. "Dit werk," dink Logan.

Logan word weer wakker. Hy haal die kopstuk af en sit regop. Hierdie keer het hy geen pyn nie, hy het nie ’n skrapie opgedoen nie. Jackson kyk sprakeloos na Logan: "24 MIG's! Jy het 24 MIG's gebreek! Die beste sover was nege! Jy is rêrig iets anders, is jy nie? Jy het die toets deurgekom, ’n maand van nou af sal jy jou eie persoonlike GMR hê wat spesiaal vir jou ontwerp is." Die maand gaan vinnig verby. Logan oefen nog elke dag in die simulasie; hy raak net beter en beter.

Uiteindelik breek die dag aan. Logan ontvang vandag sy GMR. Hy word wakkergemaak deur Jackson, wat soos ’n klein kindjie te kere gaan. "Logan, dis tyd. Jou GMR is hier. Jy gaan vir die eerste keer ’n regte GMR vlieg!" Logan staan op. Jackson lei hom na die GMR-loods wat buite die GMR-akademie geleë is. Die reuse-loodsdeur gly oop. Logan is stomgeslaan deur die enorme robot wat voor hom staan, maklik 30 meter hoog. Die stuurkajuit staan oop; dit sit in die borskas van die GMR. Die wit en blou kleurskema is perfek, dink Logan. Jackson begin praat met bewondering: "Die Zephyr, dis jou GMR se naam, is uitgevat met ’n laserswaard en ’n Ultron-titaanstaalskild. Dit kan enigiets weerstaan!" Logan onthou nou weer hoekom hy weermag toe gekom het. Hy het ’n belofte gemaak dat hy die persoon wat daardie aand by sy huis was, wat daardie GMR bestuur het, sal doodmaak. Hy sal sy familie se dood wreek, hy sal alles wat sy suster hom geleer het van swaarde gebruik en die vlieënier van daardie GMR slag! Jackson raai hom aan om dit te laat gaan. "Die GMR wat jou familie doodgemaak het, is die Crystalys, die gevaarlikste GMR wat die weermag nog teëgekom het," verduidelik Jackson. Logan is egter vasberade. "Ek sal die kop van die Crystalys in my hand fyndruk!” skree Logan en storm die Zephyr se kajuit binne.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top