WF 2015: Eksperiment 1987

  • 0

Ek hardloop. So vinnig as wat my bene my kan dra. Totdat hulle begin brand en my hartklop so hard is dat ek niks anders kan hoor nie, maar ek kan nie stop nie. Hulle kom nog. Ek kan nie nou opgee nie, anders is ek uit. Ek sien die groot staaldeur met die woorde “RONDTE 9” en ek druk myself so hard as wat ek kan. Ek knyp my oë toe en hardloop en hardloop tot ek daardie plat, koue staal onder my voete voel. “Eks-periment 1-9-87,” hyg ek na my asem terwyl ek die sterretjies uit my oë probeer wegknip. Ek kyk op na die wetenskaplike met haar bril en wit jas. Sy maak notas asof haar lewe daarvan afhang. Ek byt my lip en wag vir die wagte. Die een maak my hande agter my rug vas en die ander een haal die inspuiting met daardie pers vloeistof uit. Hy bring die naald na my nek en ek voel die knyp. My hartklop begin stadiger word en ek begin weer normaal asemhaal. “Hoeveelste is ek?” waag ek dit om te vra. Die wetenskaplike loer vir my oor haar bril, met ’n emosielose gesig. Dan sug sy. “Tweede.” Ek word weggevat na my sel.

Tweede! Nee! Ek kan nie tweede wees nie. Môre is die laaste rondte. As ek nie eerste kom nie, is ek vir nog ’n jaar in die plek vasgevang. Nog ’n jaar van hulle eksperiment wees! Nog ’n jaar van vrees dat ek enige oomblik deur een van die ander eksperimente aangeval gaan word. Nog ’n jaar van vrees dat hulle jou uit die program gaan gooi. Vanjaar is 23 van die 100 eksperimente, soos hulle dit stel, “verplaas”. Hulle bedoel: vermoor. Die 23 is vermoor omdat hulle nie goed genoeg was vir die program nie. Ek moet môre eerste wees. My lewe hang daarvan af.

Ek onthou die dag toe hulle my gevat het, soos gister. Ek het net uit die skoolgebou gestap toe hulle my gryp. Ek het nie eens kans gehad om te skree nie. Dis eers toe ek wakker word in die skoenboks wat hulle vir my as ’n kamer gegee het, dat ek besef het daar is groot fout. Ek het vir ’n week lank nie eers geweet hoekom ek hier was nie. Die week nadat ek by die projek aangesluit het, het hulle vir ons ’n seminaar gehou waarin hulle die 100 tieners wat hulle gevang het, oor die projek ingelig het. Lang storie kort. Die program is gestig om tieneragente vir die regering te skep. Hulle het gesê dat ons eendag vir baie mense gaan help en ons land trots sal maak. Wat hulle nie gesê het nie, is dat net een van ons elke jaar vrygelaat word, omdat hulle nie mense agterdogtig wil maak nie. Wat ongelukkig sin maak, want as daar skielik uit die bloute ’n spul tieners opduik wat op verskillende plekke verdwyn het, sal mense vrae vra.

“As die projek mense gaan help, hoekom word ons hier ingeforseer?” het een kind gevra. Die wetenskaplikes het geglimlag. “Die program moet geheim gehou word, anders sal die oefeninge en lesse wat julle gaan leer, verniet wees.” Toe het hulle elkeen van ons ’n nommer gegee. “1987,” het hulle vir my gesê. “Hoekom daardie nommer?” het ek gevra. “Dis die hoeveelste eksperiment jy is.” Ek dog sy grap. Sy het nie. Die program is nou al vir jare aan die gang, van 2023 af, en elke jaar word teen hulle sin op ’n honderd onskuldige tieners geëksperimenteer, totdat een van hulle goed genoeg is om vrygelaat te word. As jy in die top-tien is, kry jy kans om volgende jaar weer te probeer. As jy onder die res val, raak hulle ontslae van jou.

“Eksperiment 1987!” Die wag se stem ruk my die volgende oggend wakker. “Jy het tien minute om klaar te maak.” Dis tyd.

Die laaste rondte. Die moeilikste. Dis ’n simulasie waarin jy ’n persoon in ’n straat vol mense moet vind en die persoon op ’n subtiele manier vermoor en beroof van hulle beursie waarin hulle werk se sleutel is. Jy moet dan by die gebou inbreek, en in sy kantoor al die inligting van sy rekenaar gaan aflaai. Daarna verlaat jy die gebou en die inligting moet afgegee word by die wetenskaplike wat jou dophou op die skerms en oor jou rang en jou toekoms sal besluit.

Die hele simulasie deur dink ek net aan wat ek moet doen, nie oor wat met my gaan gebeur as ek ’n fout maak nie. Nie aan hoe ek eerste moet wees nie. Toe ek daardie datastokkie aan die wetenskaplike gee, bewe my hande van die adrenalien. Ek word deur die wagte na die groot saal geneem waar die res van die oorlewende tieners sit en wag vir die uitslae. Van die tieners wat hier binne sit, het gister ook deelgeneem, so ek het geen idee wat om te verwag nie. Ek kan eerste, tiende of enigiets wees. Die wetenskaplike stap na ’n uur of twee in. “Hierdie is ons top-tien.” Ek luister net vir my naam. Na die eerste nege eksperimente is my naam nog nie uitgelees nie. Dis eerste of die dood. “Eerste plek …”

Ek staan voor die groot staaldeur. Ek het ’n jaar laas die son gesien. Die deur gaan oop… Die sonlig dans op my vel en die wind waai deur my hare. Ek glimlag. “Agent 1987?” vra een van die wagte. Dis nog vreemd om as ’n agent aangespreek te word. Ek draai na die wag. “Ja?”

“Dis tyd om te gaan,” sê hy en lei my na die vliegtuig wat my uit die hel gaan neem.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top