WF 2015: Ek is verlief op ’n alien

  • 0

Die skoolklok lui en almal hardloop bo-oor mekaar soos wat ons by die huis wil uitkom, want dit is uiteindelik vakansie. Na ’n kwartaal van byna net eksamen skryf kan ek bietjie ontspan voor my groot matriekjaar na die Desembervakansie. Ons gaan hierdie vakansie see toe, ek het alreeds 5 kg verloor om in my nuwe bikini te pas. My beste vriendin, Lize, gaan saam. Ek is die enigste kind, so my ouers neem outomaties aan dat ek baie alleen is, maar ek kla glad nie. Ek en Lize ken mekaar al van graad 1 af. Ek en haar boetie, Pieter, was verlief, of eerder ék was verlief en hy, wel, ek gaan net sê dinge het nie uitgewerk soos wat ek gehoop het nie.

“Lize, dink jy ek moet my groen of pienk bikini inpak? Ek wil graag die vakansie ’n ‘summer romance’ hê – jy weet, soos in al die flieks.” Lize het net haar oë gerol. Sy weet ek dink ek gaan by die see met sonsondergang ’n regte hunk ontmoet wat my voete onder my gaan uitslaan en ons gaan die hele vakansie saam spandeer. As ons huis toe gaan, hou ons kontak, maar net vir ’n rukkie totdat ons al twee aanbeweeg het en oor ’n paar jaar is ons al twee suksesvol. Ons loop mekaar raak by ’n vergadering en ’n paar jaar later trou ons. Natuurlik is Lize antiliefde en glo glad nie in my drome nie. Daardie aand gaan slaap ons vroeg. Ons weet ons moet die volgende oggend twee-uur reeds ry, so ons moet ’n uur vroeër al wakker wees om ons hare en grimering te doen.

Toe ons uiteindelik by die see aankom, was die weer so erg dat ons nie kon strand toe gaan nie en ons besluit om eerder in die restaurant te gaan sit. Ons mag nie alleen op die strand gaan stap het nie, omdat dit te gevaarlik is. My ouers is so beskermend en ek is nou al 17 jaar oud. En net toe ek dink die vakansie gaan so vervelig wees saam met my ouers, stap die hunk van my drome by die restaurant in. Hy het donkerbruin hare en donkerbruin oë, hy het ’n blas vel, en nie te groot spiere nie, maar groot genoeg dat ek dit kan sien deur sy stywe grys hemp. Later die aand het die kelner vir my ’n servet gebring waarop staan: “kan ek jou moreaand uitvat vir ’n burger? Selfde plek, 6-uur. Bel my op 0743567219.” Dit is nie heeltemal soos in die flieks nie, maar dalk maak hulle eendag ’n soortgelyke fliek. My ouers het gelukkig ja gesê vir die date, maar Lize moet saam gaan. Ugh, ek wil nie my toekomstige kêrel ontmoet met ’n vyfde wiel nie.

“Lize, kan ek asseblief daardie mooi rok van jou leen vanaand? Ek wil graag sy asem wegslaan.” Lize sê net ek moet pasop op nie te verlief te raak op hom nie, want ons gaan oor ’n week huis toe. Maar dalk trou ons. Die aand begin redelik ongemaklik, maar gelukkig het hy begin vrae vra oor my lewe. “Waar bly jy? Watter tipe musiek luister jy? Het jy ’n kêrel? Hoe oud is jy?” Ek het byna verdrink in sy oë. Ek sou nie verdrink in ’n mooi, ligblou swembad nie, maar eerder in ’n mooi donkerbruin modderhoop. Die volgende paar dae het ons alles saam gedoen. Hy dra my op die strand as die sand my voete brand, hy swem saam met my in die see, hy kielie my totdat my tone omkrul, hy skryf ons name in die sand en hy soen my saggies. Vir die eerste keer was ek seker dat my lewe afspeel soos in die flieks. Die laaste dag het hy vir my ’n sms gestuur en gesê: “Ons moet praat, kry my eenuur by die boom waar ons eerste soen was. Moet nie laat wees nie. – Werner.”

Senuweeagtig oor wat hy gaan sê, het ek by die boom gaan staan en wag. ’n Rukkie later kom hy aangestap met trane in sy oë en ek het dadelik gedink hy gaan sê hy het ’n meisie by die huis en hy is jammer hy het my seergemaak, dit was nie sy bedoeling nie. Wat hy gesê het, was baie erger. Hoe gaan ek my ouers vertel? Wat gaan die mense by die skool van my dink? Daar is nie ’n fliek wat my hierop voorberei het nie! Werner is ’n alien! Hy is gelukkig nie groen nie, maar hy is ’n alien.

Donderdagaand was ons laaste aand saam en hy het belowe om my aan sy mede-Marsmannetjies voor te stel. Elfuur toe dit donker was, het ons uitgestap en ek het ’n groot wit lig in die wolke gesien. Dit was so skerp dat ek dit kon sien terwyl my oë toe was. Die deur het stadig oopgegaan en in die deur staan ’n alien wat soos ’n regte Marsmannetjie lyk. Sy vel was groen en rubberig, sy oë was baie ligblou, amper deurskynend, en sy vingers was lank en stokkerig met ronde bal-punte. Sy naam was agent Zander en hy was baie tevrede oor hoe gelukkig Werner, of eerder agent Werner 559, was. Dit was die eerste keer wat ek sy regte naam gehoor het en ek hou nogal daarvan.

Ek het gestaan en kyk hoe Werner en Zander teruggaan Mars toe en al wat ek kon dink, was: “Ek sal jou oor ’n paar jaar by ’n vergadering raakloop en dan met jou trou, agent Werner 559.”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top