WF 2015: Dromer

  • 0

Ek dink Karel is kwaad vir my. Hy het begin verdwyn. Ek het al rondom my gevra of iemand iets weet, maar niemand kon my enigiets sê nie. Hulle het net hulle koppe simpatiek geskud.

“Dalk is daar iets fout.”

“Ek sal hom vra as hy weer kom.”

Maar Karel wil nie antwoord nie. Hy lei my net op fantastiese avonture deur die heelal asof niks verkeerd is nie. Sy kuiertjies raak egter min en wydverspreid. Sy oë spook by my. Hulle is desperaat en wild – soos iemand wat ’n doodsvonnis gekry het.

Dis baie vreemd. Vandat Karel nie meer heeltyd hier is nie, kom kuier my ander vriende ook nie so gereeld nie. Dit raak al stiller en met tye is ek heeltemal alleen. Ek is bang ek gaan van my kop af raak.

Daar kom ander mense by. Dié wat ’n mens nooit kan help nie. Wat net woordeloos deur die gange beweeg soos robotte. Ek is bevrees hulle is ... nie heel reg nie.

Hulle konfiskeer elke keer my wapen sodra ek een in die hande kry. Dit maak nie saak hoe mooi ek verduidelik dat dit heel waarskynlik my of Karel se lewe kan red op ons volgende avontuur nie. (Veral met die oog op die tipe avonture waarop Karel my deesdae lei, ás hy die dag opdaag.) Hulle gee nie om nie. Hulle is robotte. En hulle leier is ’n mal man.

Hulle maak seer. As hulle naby is, pyn alles. My rug, my skouers, my heupe, my knieë, alles pyn. Hulle martel my. My vingers begin skeeftrek en dit bevestig my suspisie. Ek het tussen ’n klomp mal radikale uit die Middeleeue beland en hulle dink ek is ’n heks. Die pynbank was duidelik nie genoeg om my te laat praat nie, so nou het hulle my vingers begin breek. Hulle gee my pille om my te laat vergeet.

Ek het altyd die pille geïgnoreer en in die toilet afgespoel, maar een van húlle het my gesien. Nou dwing hulle fisies die goed in my keel af.

Die fisiese pyn is draaglik. Ek kan daarmee saamleef. Dis die pyn in my binneste wat my bang maak. Asof my hart ’n brose formasie is wat met die kleinste stampie weer sal versplinter.

Ek begin vrees vir my lewe. Die robotte hou my soos valke dop. Ek word gedwing om die pille te sluk. Die man met die wit jas en die maniese grynslag kom besoek my al meer. Hy wil my ook in ’n robot verander.

Hy ignoreer my woorde, maar ek het hom al mooi vertel dat ek wéét. “Joseph,” het ek vir hom gesê, “ek sal nie opgee nie. Jy kan probeer om ons almal in robotte te verander. Ek weet jy is klaar besig met Karel. Jy skrik al my vriende af. Probeer gerus verder. Die goelag sal my nie breek nie, die brandstapel sal my nie breek nie en jy sal my nie breek nie. Daar sal altyd mense wees wat sal weerstand bied en baklei vir wat hulle na aan die hart lê.”

Karel het roekeloos geword. Ons enkele avonture begin my bangmaak as ek daaraan dink. So ek dink nie meer nie. Want ek weet – dis soos ’n rekkie wat te styf getrek is: dit gaan enige oomblik skiet of skeur.

Die vloek! Hartelose wetenskaplike! Koue waarheid! Verpletterende ... realiteit.

Dat hy die vermetelheid gehad het om hier in te stap met sy selfvoldane glimlaggie en my gelúk te wens met my nuutgevonde status as “geestesgesonde” steek my dwars in die krop. Gebruik my as ’n eksperiment om te kyk of sy bedroeflike pilletjies ’n mens se malgeid kan wegdokter! Dis ’n misdaad teen die mensdom om oumense te gebruik as proefkonyne. Wie sê ons wil nie mal wees nie? Dalk moét ons ’n bietjie kens wees om te kan oorleef. Want as ’n mens een oggend wakker word en uitvind Karel was die afgelope nege jaar lank niks meer as ’n droom gebore uit herinneringe nie, dan is dít die hou wat jou versigtig opgeboude hart met ’n slag opnuut laat versplinter.

Ek het my belofte gestand gedoen. Die “dokter” het my nie gebreek nie. Vir ’n hele jaar lank is ek al onmal. Maar ek rebelleer. Ek praat met myself en verloor myself in my dagdrome. Ek gaan nog steeds op avonture saam met Karel, die enigste verskil is dat ek hulle hierdie keer bewustelik opmaak en neerskryf. Ek het naam gemaak as ’n fantasieskrywer. Elke keer as die man in die wit jas kom om seker te maak ek is nog gesond, krul my tone van lekkerkry as ek sien hoe hy met afgryse na my boeke staar.

Julle kan slaan so hard as wat julle wil, julle sal ons dromers net buig, nooit breek nie. En net miskien slaan ons skielik met ’n onverwagse sweepslag terug.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top