Wat dans in die hoek van jou oog?
Wat lê swaar op jou tong?
Wat is drome?
Wat is vrees en desperaatheid?
Wat is gesondheid?
Wat is hoop?
Wie is ek?
Die son is net besig om op te kom. Die lui strale weerkaats in die geboue se vensters en vanaf die helder wit mure. Alles is skoon; nie ’n steen uit sy plek nie. ’n Skoonmaker whoesj verby op skoon, wit wiele. Sy binnekant is swart. Ek weet.
Dit dans in die hoek van jou oog.
Iets flits verby my en ek draai net te laat om, maar ek weet waarheen dit gaan: dit is op pad na die hospitaal. Ek is te bang om te volg. Ek weet wat in die hospitaal gebeur en ek wil daardie gruwel nie weer aanskou nie. Daar lê ’n vuil man teen een van die silwerskoon mure. Die enigste vlieg in die salf, dink ek bitter. Ek wil hom waarsku. Dit is hier, dit kom.
Dit is die woord swaar op die punt van jou tong.
Die woorde wil nie kom nie. Dit het reeds gekom. Hy is weg. Ek staar verleë na die vuil smeersel teen die muur waar hy ’n paar sekondes gelede nog gelê het. Dis swart, maar onder al die vuil was hy nog witter as die stad. Nie lank gelede nie het ek ook geswerf en gedroom. Ek het gehelp om die sfeer wat ons stad van suurstof voorsien in stand te hou, maar omdat ek nie die allerbelangrike inspuiting aanvaar het wat my ingewande in ’n laag metaal sou verander nie, het ek my werk verloor.
Dit is die droom reeds vergete.
Ek dink aan die bome, die voëls en die wind. Nou alles weg, net gebou op gebou en eindelose wit oppervlaktes. Vandag gaan sy die inspuiting kry; sy wat ruik na die wind. Sy stap nie, sy sweef soos die seemeeu bo die see. Daar is geen seemeeue meer nie en na vandag sal sy ook nie meer hier wees nie. Sy sal nie meer kan voel nie. Geen meer emosies nie. Net ’n leё dop. ’n Masjien. Dit is beter so. Ek wil nie hê sy moet soos ek eindig nie. My voete dra my onwillige liggaam na die hospitaal se deur. Ek staan versteen by die deur en wag vir die reuk van wind en die oë soos herfsblare. Ek sien haar in die straat afstap, die wit lig speel in haar hare, maar ek kan die vrees in haar gespanne skouers sien. Ek kan die vrees sien aan die manier waarop sy haar voete sleep. Sy stap verby my na die deur. Sy kan my nie sien nie. “Alles sal reg uitwerk, ek belowe,” probeer ek sê, maar die vrees is steeds daar.
Dit is die fluistering net te sag.
Ek volg haar in die hospitaal. My mond bly steeds droog, nes die vorige keer. My knieë bly lam. Ek sien weer die eerste keer toe ek hier ingesleep is. Ek het geweet ek sou. Iets het my van agter af vasgegryp en ’n blindheid het dit vermom. Ek is weggedra en toe ek weer kon sien, was ek in die hospitaal. Metaalbande het my aan die wit bed gebind. Maak nie saak hoe ek geruk en gepluk het nie, ek kon nie loskom nie. ’n Wit vloeistof is in my arm ingespuit. Ek het uit my liggaam gesweef en teen die plafon gehang. Ek wou skree, maar daar was geen woorde nie.
Dit is die vrees wat die bloed in jou are stol.
Toe ek die vloeistof in my are voel, het ek geweet dit is verby. Ek het te ver gegaan, te veel gerebelleer. Die staat het my tog gekry. In die eerste paar dae van my vleeslose bestaan het ek onophoudelik na haar gesoek; ek wou haar red. Beskerm teen die gruwels wat om elke hoek wag. Die perfekte strate het my vrese gevoed en haar verlate huis het met my bewussyn gespook.
Dit is die desperaatheid wat jou hart tot stilstand bring.
Ek volg die reuk van wind na ’n klein kamertjie. Die wit mure staar aggressief na haar (en na my). Die witgeklede dokter staar oor sy dunraambril. Woordeloos beduie hy vir haar om te sit. Die oomblik wat sy op die stoel neersak, word sy deur metaalbande vasgeklem. Die trane blink in haar oë. “Julle sal hierdie dag nog berou,” mompel sy. Die deur bars oop en twee mans met ou gewere storm in. Hulle gewere is swart, maar ek weet dat dit nie so swart soos ons wit staat is nie. Geweld is haar enigste kans. Die dokter se bloed is swart. Olie.
Dit is jou gesondheid.
Sy is vry, maar nie veilig nie. Ek soek haar, agtervolg haar. Ek is lief vir haar, maar ek is haar grootste verdriet en haar bedrieër.
Dit dans in die hoek van jou oog.
Dit is die woord swaar op die punt van jou tong.
Dit is die droom reeds vergete.
Dit is die fluistering net te sag.
Dit is die vrees wat die bloed in jou are stol.
Dit is die desperaatheid wat jou hart tot stilstand bring.
Dit is jou gesondheid.
Dit is hoop.
Dit is ek.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

