WF 2015: Die uurglas van tyd

  • 0

Biep-biep .... Die geluid van die hartmasjien wat ’n man sewentig jaar aan die lewe moet hou. Doep, doep, doep – sy hart begin klop en lewe pols deur sy are. ’n E-bot buk oor hom en vra na sy saam. Hy is JJ van der Merwe die Tweede, van die plaas Rykbult, net buite Bloemfontein. Die e-bot lig hom in dat hy nou in ’n nuwe era leef en dat alles nou aan die RF behoort.

Verward vra JJ na sy vrou en kind. Emosieloos lig die e-bot hom in dat hulle reeds jare dood is en stel haar voor as suster E-bot 100. Buitekant die hospitaalvenster vlieg motors deur die lug en die afwesigheid van voetgangers is opvallend. Geskok merk JJ op dat sy hospitaalbed nie op pote staan nie, maar gewigloos in die lug sweef. Hy wonder hoe dit hoegenaamd moontlik is dat hy nog jonk lyk na soveel jaar. E-bot 100 lees sy gedagtes en antwoord dat hy al die tyd in ’n spesiale koelkas versorg is waar sy brein geprogrammeer is om jonk te bly. Ook het hy nie meer nodig om te eet nie. Sy maag is elektronies gelaai.

Fronsend vra JJ hoekom juis hy al die jare lewend gehou is en waarom. Die skerm op E-bot se gesig wys dat sy nie verstaan nie, want sy antwoord dat sy net 25 jaar gelede gebou is om JJ te versorg. “Nou kan jy my dan inlig wie of wat RF is?” vra JJ.

“RF staan vir Robotfirma, die groep Robotte in beheer van planeet Elektronika, of soos jy dit geken het, planeet Aarde. Ons planeet se elektronika het 70 jaar gelede opgeraak en daarom het ons julle mooi blou planeet ingeneem. Dit net logies. Julle is slegs die derde planeet van die son af en daarom kon ons met ons verhewe intelligensie hierdie planeet soveel beter benut as julle aardbewoners! Die RF kon ’n beter planeet tot stand bring, want ons is nou soveel nader aan die son en kon ’n elektroniese veld bou wat die son se energie inneem en dan terugkaats na die son. Ons elektrisiteit kan dus nooit weer klaar raak nie.”

JJ probeer opstaan uit die bed. Alhoewel nog swakkerig, herwin hy vinnig sy krag en sê aan E-bot dat sy net gebou was om hom te versorg en dat hy haar nie meer nodig het nie. Die deure gaan geruisloos voor hom oop soos wat hy die gebou verlaat. Buite klim JJ in ’n swewende taxi en voor hy nog iets kan sê, styg die taxi op en vlieg met hom na ’n onbekende bestemming.

Die voertuig kom tot stilstand voor ’n groot gebou en die deure skuif oop.

JJ gaan in. Flikkerende pyltjies wys waarheen hy moet gaan tot by ’n deur wat oopstaan. ’n E-bot met die lyf van ’n vrou kom hom tegemoet en stel haarself voor as Paris. Sy wys dat hy op een van die swewende stoele moet gaan sit. “JJ, ek gaan met die deur in die huis val. Jy is aan die lewe gehou om die mensdom te red. Jy sien, julle as menseras het begin lui word. Masjiene is ingespan om enige taak te verrig en jul kon naderhand nie meer vir julself dink nie. Op ’n dag het ons Leier besef dat planeet Aarde ’n maklike planeet is om oor te neem. Maar jou brein kan die Uurglas van Tyd weer oopmaak sodat die RF na hul heelal teruggevoer kan word. Jy ken nou die geheim van die elektroniese veld. Jy kan die Aarde red,” sê Paris rustig.

“Die paar mense wat oorleef het, woon in hokke soos diere en word aangehou om die RF te vermaak.” JJ se hart is stukkend oor die onmenslike wreedhede wat teenoor die mensdom gepleeg is. Paris gee aan hom die opdrag om vlak 13 van die RF se hoofkantoor te infiltreer om die Uurglas van Tyd se kode te ontsyfer. Só kan die mensdom terugkeer in tyd en leer uit hul foute.

Paris oorhandig ’n vuurwapen aan JJ wat elektriese strale uitskiet en inmeng met die e-botte se programmering. Ongehinderd vind hy sy weg tot op vlak 13. Binne-in ’n deurskynende glastoring hang die Uurglas van Tyd. ’n Waterval stort bo-oor. JJ skiet deur die glastoring en water spuit oor die e-botte wat wagstaan. Elektriese kortsluitings vind oral plaas en JJ moet vinnig padgee vir vonke wat spat. Vinnig stap hy nader na die groot uurglas, wat ’n laaste bietjie sand oorhet.

Paris wys na ’n sleutelbord. “Tik in na watter jaar jy wil teruggaan,” sê sy vir JJ. Bewend tik hy “2020” en sê: “Nou gaan ek huis toe!” JJ kyk vir oulaas om. “Dankie, Paris,” sê hy. “Kom asseblief saam met my.”

“Nee!”, skree die man hard. Wanneer hy sy oë oopmaak, lê hy in ’n gewone hospitaalbed. Sy familie is by hom. Angstig ruk JJ aan die buisies en monitors waaraan hy gekoppel is. “Rustig nou, ons laat kom vir dokter,” sê sy vrou. Met ’n kloppende hart wag hy vir dokter om op te daag. Die deur van die hospitaalkamer bars oop en drie reusagtige e-botte verskyn deur die rook.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top