WF 2015: Die toekomstige oog

  • 0

Piet Vermaak is besig om ’n koerantberig oor die stakings in Suid-Afrika te lees op sy agterstoep. Maar Klaas Vakie het nie ’n maatjie om saam mee te speel nie. Klaas Vakie het besluit hy gaan vir oom Piet gaan kuier. Klaas Vakie laat nie op hom wag nie, en oom Piet se kop val neer op sy bors.

Oom Piet Vermaak veg teen Klaas Vakie, maar hy verloor die geveg. Hy raak vas aan die slaap. Oom Piet Vermaak droom oor die toekoms, alles wat in die jaar 2020 gaan gebeur. In die jaar 2020 gaan ’n dame genaamd Anna Burger die eerste persoon wees wat op ’n ster gaan loop. ’n Week voor haar vertrek gaan die media, veral die Burger, mal om ’n onderhoud met Anna te voer.

Anna gaan ’n week op die ster deurbring. Die dag wat sy vertrek, vat sy heel eerste haar suurstoftenk en kos. Sy is verplig om tien selfies te neem as sy op die ster beland. Maar sy is ’n dame wat mal is vir selfies. Sy het omtrent vyftig selfies geneem. Sy het elke dag selfies geneem. Sy wou altyd op haar eie wees, weg van almal en alles. Maar sy het gou besef die lewe op ’n ster is eensaam en verlate. Die dag toe sy terug aarde toe vertrek het, het trane van blydskap oor haar wange gerol. Sy het so baie gehuil dat sy skoon ’n rivier op die ster laat ontstaan.

Anna is uiteindelik veilig terug op die aarde. Die media het gegons oor Anna. Sy is beroemd. Koos April hou glad nie daarvan om Anna se gesig oral te sien waar hy gaan nie. Hy besluit om ’n robot te bou. ’n Robot wat die son vir twee volle weke gaan besoek. Koos bou ’n robot wat nie sensitief vir hoë temperature is nie. Hy toets die robot in die oond van 200 °C. Hy wil verseker dat die robot die son sal haal.

Koos se robot het die voorblad van verskeie koerante en tydskrifte gehaal, en het selfs op die kassie verskyn. Almal sê Koos se robot het skaars die son gehaal toe dit ontplof het. Dit was die einde van Koos se sosiale loopbaan. Hy het nou in die koerante verskyn vir al die redes wat hy nie daarop wou verskyn nie.

Oom Piet het nou uiteindelik wakker geskrik. Hy het homself twee keer geknyp om te verseker dat hy nie gedroom het nie. Na sy mening is die droom te goed om waar te wees. Elke keer as oom Piet sy oë toemaak, verskyn die spesifieke droom oor en oor voor sy oë. Hy was later bang om sy oë toe te maak. Hy het vir mense vertel van sy droom. Hulle het hom uitgelag en gespot oor sy verbeelding en droom.

Presies vyf jaar daarna het oom Piet inmekaar gesak. Hulle get met hom hospitaal toe gejaag. Oom Piet het in ’n koma beland. Die dokters kon nie uitvind wat hom makeer nie. Hy was vir sewe maande in ’n koma. In daardie sewe maande het Anna ’n ster besoek. Koos het sy robot gebou wat die son sou besoek. Alles het verloop soos in oom Piet se droom voorspel. Oom Piet kon nie glo wat hy voor hom op die kassie sien speel nie. Almal wat vir oom Piet gespot en gelag het, het vir hom ekstra groot bosse blomme gestuur.

Die dag toe oom Piet uit die hospitaal ontslaan is, wou almal by hom uitvind oor wat in die toekoms sou gebeur. Daarna het oom Piet ’n fobie gehad om op die agterstoep aan die slaap te raak. Hy het daar en dan elke keer ’n uiltjie in sy bed gaan knip. Die koerante het hy totaal en al vermy.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top