Die meeste mense het altyd vir my gesê dat om ’n nuwe wêreld in te tree, moet jy vergeet van jou ou een. Maar hoe kan dit wees as my wêreld gevorm is deur my toekoms?
Dis al elf jaar nadat die Sentinale op aarde geland het. En twee jaar vandat ek laas ’n lewende mens gesien het. Ek vind dat my eensaamheid as mens alleen op aarde verander het vanaf mal word na uiteindelik soek na ’n oplossing. En om dit te kon vind, moes ek teruggaan na die tyd voor dit wat nog moet kom, dit wat was verander het.
Ek loop verby verlate strate waar ek as kind grootgeword het. Waar ek geleer is dat die mees gevorderde vorm van tegnologie ’n videospeler was wat Teenage Mutant Ninja Turtles oor en oor gespeel het. In dae waar ek nie kon indink dat wanneer ek sou terugkom, ek die enigste mens sou wees wat nog asemhaal nie. Ek is alleen. En tyd sal my maak of help breek.
Ek gaan sit langs ons ou akkerboom met die soet reuk wat na lente ruik, selfs in die somer. Ek dink terug aan hoe alles begin het.
Die jaar was 1998 en die maand Februarie. Die Sentinale is gestuur om vir die wêreld te wys hoe ons in vrede en volhoubaarheid kan voortbestaan. Hulle was die antwoord vir die oorlewing van lewe op aarde. Gestuur van die toekoms. Hulle storie wat hulle saamgebring het, is dat lewe op aarde oor ’n honderd jaar nie meer sou bestaan nie en dat ons in die jaar 2075 na die planeet Oa gestuur sou word. Wel, die klein persentasie van mense wat nog nie dood is van die Ebolama-virus nie.
Die Sentinale was menslike masjiene wat op Oa gebou is om mense te help die aarde weer op te bou. Oa is die naaste planeet wat met die aarde kon vergelyk. Hulle het die menslike breinkapasiteit gehad van die slimste mens op aarde, in ’n lyf wat fisies nooit kon moeg word nie. Daarom het Oa gou weer verander in die aarde wat hulle verlaat het. En ’n kernoorlog het uitgebreek tussen Sentinale, wat die emosie van haat laat ontstaan het, en die laaste mense. Die Sentinale het dus tegnologie oorgeneem en bevorder tot ’n nuwe spektrum. Hulle het hulleself in ’n wapen van uitwissing omskep en ’n ring ontwerp wat hulle in die tyd laat teruggaan om die mense van die aarde te slag.
Hulle wou ’n nuwe era begin waar masjiene in beheer sou wees van ’n biologiese planeet van lewe.
Hulle het met hulle verskyning die aarde verstom en in ’n mate verbeter, veral met die vordering van tegnologie wat mense nooit sou dink kon bestaan nie. Die aarde het gelyk soos ’n blom wat nooit uit seisoen kon gaan nie. En toe gebeur dit wat die lewe op aarde sou vernietig. Die Sentinale het die president van elke land geslag soos ’n lam. Op globale televisie. Die aarde het in skok in opstand gekom en die oorlog begin. Hoe kon ons wen teen ’n wapen wat ons oor sewentig jaar eers sou ontwerp?
Hulle het beheer geneem van elke masjien, tegnologie en selfs metaal, wat begin het om ons spesies en ander uit te wis. Bloed en wense vir die dood het ’n siekte onder mense begin raak. En ’n virus het ontwikkel wat mense kannibale gemaak het om te oorleef. Die Sentinale het gelag en gekyk hoe hulle die oorheersers van die planeet geword het en hoe mense die laastes van hulle spesies opgevreet het.
Ek was op hierdie stadium die enigste persoon wat oorleef het. Hoekom? Omdat ek nie daar was nie. Soos ek vertel het, was daar ’n ring wat die Sentinale saamgebring het. Die ring waarmee hulle deur tyd kon vlieg. dié ring het hulle aan die enigste persoon toevertrou wat by hulle aankoms meer robot as mens was. Dit was ek, Herman Meyer, wat lewendig gemaak is deur die Sentinaal X17-90 nadat ek in ’n ontploffing gesterf het. Hulle het my vertrou, omdat hulle geensins weer sou teruggaan na enige tyd behalwe die teenwoordige nie. En ek was die laaste mens wat gelewe het toe ek wakker word.
Dis nou my persoonlike missie om terug te gaan in die toekoms om die Sentinale te stop, sodat ek kan terugkom en ’n manier vind om weer aan te gaan met my lewe. Ek het begin deur die tragiese waarheid van die Sentinale te dokumenteer en visuele bronne van bewyse te versamel vir die mense wat twintig jaar van nou af sou leef. Die storie wat die mensdom sou skryf en weer moes lees om hulle einde te verhoed, was klaar. Ek moes nou net die ring gebruik om die storie oor te gee.
Toe ek daar aankom, was dit asof die aarde net normaal was. Ek kon geen abnormale probleme dokumenteer nie. Ek onthou hoe ek deur ’n parkie gestap het in Washington DC en hoe ek weer kon voel ek behoort. Ek het die dokumentasie aan die president oorhandig en gewag vir ’n antwoord. Die sterkste man wat die aarde moes veilig gehou het, het vir my gelag, my absurd genoem en gevra hoekom mense ’n half-man, half-masjien se woord sou vertrou met die voortbestaan van hulle lewens. Ek het dieselfde gedoen met elke president op die planeet totdat ek by elkeen dieselfde antwoord gekry het.
My ring het vanself afgegaan en my teruggebring na my eie tyd. Wanneer dit was, weet ek nie meer nie. Dis toe wat ek uitkyk na die akkerboom voor my langs ’n verlate straat wat nou net ’n herinnering aan ’n vergete tyd was. Ek het probeer ons mensdom teen tyd te red.
Dis toe wat ek besef dat dit ons tyd was om te eindig. En daar is niks wat ek kon doen om ons tyd terug te bring nie. Die oplossing is klaar gevind.
My toekoms het my teenwoordigheid bepaal en ek is beroof van my verlede. Ek vra vir myself hoe ek ’n nuwe wêreld van donkerte en eensaamheid alleen kan intree. En toe onthou ek: ek het al.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

