Ek sit op my gewone waggel-waggel-stoel by die armoedige ou houttafeltjie in Division 2 se kantoor en eet my toebroodjies met botter op. Dis nou uiteindelik ons middagete.
Die atmosfeer is vandag nogal ’n bietjie meer gespanne onder al my kollegas, maar dit is ook te verstane omdat die maatskappy die afgelope jaar so baie mense afgedank het om plek te maak vir daardie onwelkome blikbreine. Ons almal het nog geëet en toe kom daar ’n afkondiging: “Alle personeel onmiddellik na die personeelkamer.”
Daar was sagte voëlgeluidjies wat my vanoggend, 1 September, net voor vyf aan my vrou se sy wakker gemaak het. Ek is bly dat die sonsopkoms al hoe vroeër raak en dat dit ligter is wanneer ek dorp toe moet stap. Dit gebeur met die koms van lente, glo ek. Ek loop na die kombuis, maak vir my swart koffie en pak die gebotterde toebroodjies wat my vrou vir my die vorige aand gemaak het, in my kosblik, soen my vrou op haar voorkop en sien haar klein, sjarmante glimlaggie wat om haar mond vorm. Met dié gedagte in my kop, begin ek die 10 km dorp toe na die myn stap.
Die asbesreuk raak elke dag ook al hoe sterker, seker die lugfiltreerders wat al minder doeltreffend raak. Die eienaar van die myn het blykbaar geld ontdek en nou die myn al hoe meer modern gemaak met die masjiene, en werkers afgedank. Hy dink seker hy hoef nie die filters skoon te maak nie, want daar is min werkers oor in die myn. Ek teken in by die tydhouer en neem die hyser in skag sewe na my werkstasie. My vriend Casper staan klaar in die skag. Ons twee gesels oor dit en dat, maar toe los hy die bom dat hy gehoor het dat ons ons werk gaan verloor. Ek was geskok en het hom probeer gerusstel deur te sê die eienaar is ‘n verstandige en menslike persoon en dat hy nie so ‘n onverstandige besluit sal neem nie, maar hy kon sien dat ek vol twyfel is. Die idee het vir die volgende ses ure in my kop vasgesit en by my gespook. Toe fokus ek liewers op my werk, want dis net stories wat die werkers onder mekaar versprei. Om daaroor te stres, gaan nie help nie. En so begin ek goud delf.
60 kg goud! Dis die hoeveelheid goud wat ek, alleen, in ses ure opgegrawe het. Ek het nogal hard gewerk vanoggend, besef ek nou, want ek sien nou eers my hande is vol skraapmerke en my hemp sopnat. Ek sal maar nou-nou ’n bietjie skoon alkohol op my hande sit, dit brand mos enige seer onmiddellik dood. Ek pak die gereedskap op en vee maar die bloed van my hand af met ‘n ou stukkie lap en toe stap ek na ons kantoor toe met die gedagte aan hoe lekker die brood en die water nou gaan smaak.
Ek het toe my hande skoongewas met die alkohol en my broodjies gaan eet, maar die atmosfeer was baie meer gespanne as gewoonlik. Ek wonder of dit as gevolg van die storie is wat Casper my vanoggend vertel het. Ek dink nog so en toe kom die afkondiging oor die interkom: “Personeel word versoek om in die hoofsaal aan te meld.” Ek kon onmiddellik die vrees op my kollegas se gesigte sien en ek begin my toebroodjies wegpak met die ergste in my gedagtes.
“Ek is regtig jammer, julle, maar tyd beweeg aan en die maatskappy moet kan aanpas by die tyd waarin dit is,” was die verskoning wat ons skofbaas gee toe hy ons laaste tjeks oorhandig.
Ek begin sesuur die langste 10 kilometer van my lewe loop en kyk hoe die vroeër lenteson oor die horison sak.

