DRIE … My kaakspiere trek styf. TWEE … Adrenalien pomp deur my are. EEN … Totsiens, moeder aarde.
Die swaartekrag trek die vel byna van my skedel af. Alles verloop glad. Of so glad as wat ’n vuurpyllansering kan verloop. Ek sien hoe die aarde onder my al hoe kleiner begin word. Ons was op die punt om deur die atmosfeer te breek, toe gaan alles verkeerd. Alles kom tot stilstand. Ek neem aan dat die hoofaandrywer gebreek het. Die vuurpyl vries. Ons val terug na die aarde.
Stadig gaan my oë oop. ’n Skerp wit lig steek deur my pupille. Soos my oë by die lig begin aanpas, begin ek uitmaak wat om my aan die gebeur is. Uit die dak is daar vier robotarms wat aan my lyf werk. Die arms steek ’n naald deur my arm, werk steke vas en draai ’n verband om my bors. Verward probeer ek wegkom, maar my liggaam werk nie saam nie.
Ek hoor hoe ’n deur op die agtergrond oopgaan en sien hoe ’n kort, vreemde mannetjie ingestap kom. Die eerste ding wat ek oplet, is die twee massiewe oë wat uit sy ballonkop na my staar. Sy hande is groot, met lang, sterk vingers.
“Waar ...” ek sukkel om my woorde uit te kry, “waar is ek?” Die mannetjie staar na my asof ek van ’n ander planeet kom. “H-hoe het ek hier gekom?” Die mannetjie stap na die ander kant van die kamer en sê: “Hierdie mag vir jou ’n skok wees: dit is die jaar 3007. Jy was 1 000 jaar terug in ’n ernstige ongeluk. Die staat soek al vir jare na jou. Wetenskaplikes het jou gister binne ’n ysberg gevind. As gevolg van nuwe tegnologie kon ons jou weer aan die lewe kry.” Meer verward as ooit tevore, staar ek die mannetjie angsbevange aan. Hy let my gesigsuitdrukking op en sê gerusstellend: “Ek verstaan dat dit baie is om in te neem, maar slaap nou eers, ek sal môre alles vir jou wys.” Ek maak my oë toe en raak vinnig aan die slaap.
Ek word wakker gemaak deur ’n ligstraal wat direk op my oë gerig is. Ek sit kiertsregop in my bed. Die mannetjie kom op daardie presiese oomblik ingestap. Woordeloos trek hy my drup uit en lei my na buite.
Al wat ek sien, is liggies wat flikker. Daar is treinspore wat in die lug sweef. Daar is nie meer paaie nie – die karre vlieg in die lug rond. Daar is robotte wat saam met die mense rondstap. Robotte soos mense. Dis alles waaroor ek gedroom het en meer.
“Kan ek vir jou nog iets skokkends vertel?” vra dokter Jacobs uit die bloute. “Teen dié tyd is niks meer skokkend nie,” antwoord ek sarkasties. “Jou vuurpyl,” val hy my in die rede, “het nie gebreek nie. Dit is afgeskiet deur ruimtewesens. Dit was die eerste keer dat buiteaardse wesens kontak met die aarde gemaak het. Ek neem aan dat dit die rede is waarom die staat na jou soek.”
“Maar watse hulp kan ek vir die staat bied?” vra ek. Ek probeer so onskuldig moontlik lyk, maar ek weet presies hoekom die staat my soek. Jacobs antwoord huiwerig: “Dit gaan absurd klink, maar die staat glo dat jy inligting vir die ruimtewesens sou gegee het oor hoe om die aarde oor te neem.”
“Ja-nee. Dit klink heeltemal absurd,” sê ek in my mees oortuigende stem.
Die volgende oomblik bars daar ’n hele span geheime agente in. Hulle spuit my met ’n slaapmiddel in, gryp my en sleep my in hul vliegkar in. Toe ek my oë oopmaak, is ek in die president se kantoor. “Jy weet seker waarom jy hier is?” vra hy my. Ek knik my kop. Die president trek sy masker af. Sy antennas glip eerste uit, dan sien ’n mens sy groot, swart oë en sy klein lyf. Hy spring op sy lessenaar en sy robotlyf bly op die stoel agter. Hy is die grootte van ’n pasgebore baba. Ek trek my masker ook af en gaan staan langs hom op die tafel. “Jammer oor jou ongemaklike rit,” sê die president grapperig.
“Vertel my gou weer hoekom julle my eers moes afskiet nadat julle die inligting verkry het? En hoekom julle eers 1 000 jaar later besluit het om aan te val?”
“Dis eenvoudig. Ons het die inligting gekry en besef dat, as ons toe sou aanval, sou ons verloor het. Ons het jou teruggeskiet aarde toe sodat jy gepreserveer kon bly op daardie ysberg. Ons benodig jou leiereienskappe as ons hierdie oorlog wil wen,” antwoord hy. “Ons weermag is net buite die atmosfeer,” lig hy my verder in. “Is jy gereed om hulle in te roep?” Ek knik my kop.
DRIE … My kaakspiere trek styf. TWEE … Adrenalien pomp deur my are. EEN … Totsiens, moeder aarde.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

