WF 2015: Die einde ... of die begin

  • 0

Ek en my oom koop lekker kruideniersware in die winkel toe ons ’n harde gil van ’n vrou net buite die winkel hoor. Ons dink eers die vrou het seergekry. Toe ons by die winkelsentrum uitstorm, kan ons ons oë nie glo nie – ’n groot ruimtetuig hang oor die hele winkelsentrum en oor ’n hele paar huise.

Almal gil en begin in alle rigtings hardloop, maar ek en my oom kan weens skok nie dadelik beweeg nie. My oom gryp my arm, los die sakke met die kruideniersware en ons hardloop. Ons het nie in ons kar geklim nie, want daar is nou erg verkeer en al klaar ongelukke op die pad. My oom hardloop voor my en ek is net ’n bietjie stadiger as hy.

Terwyl ons hardloop, kan ek voel hoe ek uitasem raak en nie meer by my oom kan bybly nie. Ons is uiteindelik by die huis en ek vat ’n sak en pak klere vir my in terwyl my oom kos in die een sak en sy klere in ’n ander sak pak. Ons klim in my tannie se kar en my oom skakel die kar aan en ry weg. My tannie is verlede jaar in ’n motorongeluk oorlede. My oom jaag tussen die karre deur en weier om te stop vir enige rooi lig of stopstraat.

Die volgende oomblik hoor ek net ’n harde klapgeluid. Ek maak my oë oop en sien die wêreld is onderste bo. Ek maak my sitplekgordel los en strompel uit die kar. Ek sien ’n ander kar nie ver van ons nie en weet sommer dadelik dat ons so pas in ’n motorongeluk was. Ek loop na my oom se kant toe en sien dat hy bewusteloos is. Terwyl ek probeer om sy veiligheidsgordel af te haal, gryp twee hande my om my maag en trek my weg van my oom af. Ek draai om en sien dis mense wat my en my oom wil help.

Ek sit terug en probeer om my asem terug te kry – ek het nie eers geweet ek is uitasem nie. Hulle trek my oom uit die kar en draai hom op sy rug. Die een man soek ’n polsslag. Aan die manier waarop hy sy gesig laat sak, weet ek dat my oom nie meer saam my is nie.

’n Tannie kom nader en gee vir my ’n glasie water. “Jy kan saam met ons kom,” sȇ sy. Ek staan op en volg die tannie en oom na hulle kar toe en sien dat daar ’n dogter agter in die kar sit. Ek gaan langs haar sit en kyk by die venster uit.

“Wat is jou naam?” onderbreek die meisie die stilte in die kar. “Kyle, en joune?” antwoord ek haar. “Juliet,” sȇ sy met ’n glimlag. Ek kyk weer by uit die venster uit. Die gesuis van die kar maak my lomerig.

Ek skrik wakker van ’n aaklige nagmerrie en sien dat ek stoksielalleen in die kar is. Ek kyk rond en sien al die deure is oop behalwe myne. Ek klim uit die kar en kyk rond, maar sien nie vir Juliet en haar ouers nie. So ver as wat ek kan sien, is daar net gras en nog gras met enkele groterige bosse. Ek skakel die kar aan en ry verder, maar hoe verder ek ry, hoe banger word ek.

Dis aand en ek soek die kar deur vir kos, maar kry niks nie. Ek maak vir my ’n plek in die kar om te slaap. Ek steek die karsleutels weg waar net ek dit kan kry.

Dis oggend en niks het my in die nag gesteur nie. Ek kry die sleutel en toe ek wil inklim om verder te ry, sien ek dat die voorwiel pap is.

Ek slaan die deur toe en begin verder stap.

“Stop!” word my gedagtes onderbreek. Ek swaai onmiddellik om en sien twee ruimtewesens agter my. Ek begin vinnig weghardloop. Ek spring agter ’n groot bos in en hou my asem op. Die ruimtewesens is net anderkant die bos en my hart klop in my keel.

Ek het so hard asemgehaal dat die ruimtewesens my hoor. Die ruimtewesens kom staan voor my en ek steek my hande in die lug om te wys dat ek moed opgee.

Hulle neem my weg en die volgende wat ek kan onthou, is ek in ’n kamer sonder enige vensters. ’n Helder lig skyn uit die dak reg op my.

Ek spring teen die deur en probeer om dit oop te stamp. Ek gaan sit naderhand op my hurke om net te rus.

Die deur gaan oop en ek gaan staan, regop soos ’n kers. Ek bestorm die ruimtewese toe hy binnekom, maar ek val agteroor. Ek kyk op en sien die ruimtewese staan nog steeds.

Hy kom nader en gryp my vas. Hy maak my arms en bene aan die staalbed vas. Hy begin my rondruk en probeer my inspuit. Net toe gaan die deur oop en ’n mens staan in die deur. Kom hy my help?

Die man vat die inspuiting by die ruimtewese en loop na my toe. Hy druk die naald in my nek. Ek begin onmiddellik slap word en sien hoe die lig bo my dowwer en dowwer word.

Ek besef skielik wat die man my ingespuit het en weet ek gaan nooit weer ’n blom sien groei of die son sien sak nie.

Ek maak my oë toe en glimlag vir die laaste keer as ’n mens.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top