WF 2015: Die drie langste sekondes van my lewe

  • 0

Niemand kan jou hoor skree in die ruimte nie. Die gedagte aan hierdie paar woorde maak my so effens onseker waar ek op my sitplek sit. Ek is vasgemaak en dit voel asof die gordel my nek wil wurg. Sweet loop by my rug en onder my arms af. Die luidsprekers se klanke is hard en dreun deur my liggaam. Dit tel die sekondes af. Dit is die langste wat drie sekondes nog gevoel het.

Ons versnel met ’n geweldige spoed in die lug op. Die gravitasiekrag voel of dit my gaan platdruk soos ’n pannekoek. Uit my perifere visie kan ek gou sien hoe die helder lig verander in swart. Ek besluit om maar net voor my te kyk. Daar is ’n groot vibrasie toe die moederskip die vuurpylmotor loslaat.

Stilte.

Die radio’s lui en ek antwoord. Hulle het vir my die koördinate gegee vir die maan. Ek moet een of ander baie belangrike gesteente kry. Dit bevat minerale wat blykbaar baie goed vir die tegnologie op aarde gaan wees en wat miskien gebruik kan word in plaas van petrol. Dit gaan so ongeveer twee weke neem om by die maan te kom.

Stilte.

Ek is nogal verveeld. Elke dag kyk ek of al die statistiek, inligting en instrumente nog reg is en of die tuig nog normaal funksioneer, maar iets pla my. Dit voel asof oë vir my loer. Ek kyk gereeld om my, net om seker te maak niks is agter my nie. Ek droom eienaardige goed. Swart figure wat my seermaak, wat met my wil kommunikeer. Ek wil net uit hierdie klein area kom. Die engtevrees trek my keel toe.

Stilte.

Die tyd het uiteindelik aangebreek. My arms bewe, terwyl my vingers die stuurstang krampagtig vasklem. Ek moet hierdie skip perfek land. Ek wil oorleef en ek wil die mense op aarde wat met my kommunikeer, nie teleurstel nie. Tyd is kosbaar en die hulpbronne is min. Ek dink terug aan hoe ek hierdie landing geoefen het op die simuleerder. Stadig en versigtig land ek die tuig op die oppervlak van die maan. Die radio bulder weer, maar ek luister nie. Hulle herhaal net my missie en wens my geluk met die professionele landing.

Stilte.

Ek moet omtrent sewe kilometer stap, waar ek ’n groot krater gaan sien wat pers gloei. Só is ek vertel. Die uitsig is asemrowend. Die wit-grys kleur van die oppervlak met die swart agtergrond en sterre wat gloei.

Alles lyk dieselfde. Ek dink onmiddellik aan die verhaal van Hansie en Grietjie wat verdwaal het. Dit laat my weer dink aan daardie swart figure in my droom. Ek kyk om, net om seker te maak. Ek sien die aarde en dit is so klein soos ’n Smartie. Ek dink terug aan hoe ek elke aand op die aarde opgekyk het na die maan en gewonder het. Gewonder oor hoe dit op die maan gaan wees en hoe dit hier gaan lyk. Ek kan nie glo dat ek nou hier is nie, maar iets hinder my siel en ek stap verder.

Ek sien die groot krater in die verte. Ek is so opgewonde, ek wil sommer begin hardloop, maar ek kan eintlik net bons as gevolg van die maan se swak swaartekrag. Dit is amper soos een van daardie romantiese flieks waar die twee persone na mekaar toe hardloop.

Die krater het ’n effense steil wand wat ek moet uitklim. Die pers lig verblind my toe ek bo-op die krater se rand kom. Dit is die pers kristalle wat op die bodem van die krater lê. Dit is pragtig. Ek gaan sit op die rand en kry myself in posisie om teen die wand van die krater af te gly tot by die bodem.

Ek inspekteer die kristalle aandagtig. Ek dink nie eers aan die gevaar wat dit dalk kan hê nie. Dit is hard, soos ek verwag het. Ek grou deur die nes van kristalle en sit soveel as moontlik daarvan in my sakkie.

Ek kom weer tot die rand van die krater, baie bly ek het die kristalle gekry. Alles lyk nou anders. Die kraters lê op verskillende plekke en my voetspore is weg. Waar is ek en watter pad moet ek volg? My hart klop so vinnig dat dit voel asof dit uit my bors wil bars. Ek is heeltemal gedisoriënteerd.

Wat moet ek doen? Ek is verdwaal op ’n groot hemelliggaam. Negatiewe gedagtes swem in my kop. Indien ek die verkeerde pad volg, is my kanse verby. Ek loop ondertoe en probeer my trane terughou.

Skielik staan daar ’n swart figuur in die verte. Dit staan net daar en ons kyk na mekaar. Dit begin al hoe nader en nader kom. Ek draai om en probeer wegkom. Ek kan nie, dit voel soos daardie drome wat jy net eenvoudig nie kan beweeg nie. Die figuur is net soos dié in my droom. Vrees neem by my oor. Ek kyk om en voel ’n groot hou teen my kop en val neer.

My oë sukkel om oop te gaan. Ek sit vas. Iets hou my terug. Ek is nie meer op die maan nie, of so dink ek. Dit is donker. Ek is vasgemaak op ’n stoel. Dit lyk soos daardie stoele wat altyd by die tandarts is. Ek wil huil, omdat ek so moeg, deurmekaar en bang is. Ek skree, maar dit is klankloos om my. Die swart figure loop rondom my, maar dit is asof hulle my nie sien nie. Ek hoor ’n stem en ek kan die donkerte daarin hoor.

“Jy het gekom, nadat ons uitdruklik met jou gekommunikeer en jou gewaarsku het om nie op hierdie missie te gaan nie. Jy gaan die gevolge dra.”

Die luidspreker bulder die woord “een” en die ruimtetuig skiet van die maan se oppervlak af. Daar is geen manier wat hierdie tuig kan omdraai nie. My maag draai en ek besef ek het ’n groot fout begaan.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top