WF 2015: Die boodskap

  • 0

7777 nC

’n Vuil sandwind spoel oor my sifgewaaide siel. ’n Sandbesmeerde traan oor my wang. Het ek maar net geglo ...

Uit die vergonne toekoms stuur die fisikus, Somtap nav Sennahoj, hierdie herout. Hy gebruik sy laaste uraanbattery om hierdie kosbare boodskap aan julle, Verlorenes, oor te dra. Wat hy hier sê, sal nooit weer gehoor of gesien word nie.

O, verlore geslag, ontvang my hulpgeroep! Luister hoe die mensdom tot sy einde gekom het!

Ek het nog nooit in Hulle geglo nie. Hulle is net karakters, geskep deur doellose dromers wat mense se drang na die onbekende wou uitbuit. Wetenskapfiksie is deur my as die grootste huigelstories gesien. Ek het altyd my vrou, Gasiba, uitgelag wanneer sy my stories uit hierdie leë leesstof vertel.

“Ek sê jou, Sommie, in Drake se formule is N nie gelyk aan een nie. Dit kan tot 200 000 wees!” het sy in haar opgewekte roosstem luidkeels uitgeroep. “’n Professor in astronomie sal nie sommer sulke goed uit sy duim suig nie. Hy het feite. Kyk!” Ek het haar dan gewoonlik net geïgnoreer. Die woorde nonchalant na ’n pakkamer in die agterkant van my kop geskuif (dit sou hier een van talle wees). Sy het my dan woedend met daardie sagte, bruin oë aangegluur. Haar satynsagte swart hare sou dan mismoedig om haar slaap hang. Dit sou op sulke tye soos dié wees wat haar jonkheid my meermale sou opval. Haar ouderdom het my nog nooit gepla nie. Ek, ’n oujongkêrel van amper sewentig en sy, ’n jong vyf-en-twintigjarige. My bron van vitaliteit. Hoe aaklig het hierdie takbokkie tot haar einde gekom. Die kloue van Hulle het haar, soos baie ander, stuk vir stuk verskeur.

Ek het blind na die tekens gestaar. Nou stuur ek dit vir julle. Daar gaan ’n eksponensiële toename in die aantal sterre wees. Daar sal selfs ’n skitterende sterredans oor die plakkerskampe van Johannesburg wees. Die naglug sal soos ’n vlymende vuurherd wees. Duisende mense sal in verwondering staan. Niemand sal ag slaan op die skielike verdwyning van die Wandelaars nie. Die toenemende radioseine sal niemand bekommerd maak nie. “Dit is ’n natuurlike gebeurtenis,” het die kenners van Nasa verklaar, “dit het al gebeur.” Hoe min het hulle geweet! O, julle wat verlei is! Duisende sal hulle bekeer. Doemprofete sal op die hoeke staan en verdoemenis op die ongereddenes uitspreek. Weer eens het ek my blindgestaar. Chaos sal die wêreld oorval. Plundery, verkragting en moord sal hoogtes bereik. Wet en orde sal ineenstort. Krygswet, die enigste opsie vir die beskaafde wêreld. Daar sal dan eendag ’n figuur bo die wolke verskyn. “Kyk, hy kom op die wolke!” sal miljoene regoor Gai skree. Red hul siele, God! Ek sê hierdie woorde vir julle met ’n swaar hart: Dit sal nie die Verlosser met sy menigte engele wees nie. Nee, dit sal duisende ruwe ruimteskepe wees. Die begin van die einde.

Die gruwelikste gebeure in die mens se geskiedenis het in hierdie tyd afgespeel. Die slymerige, sluwe, slangvelagtige gediertes het niemand ontsien nie. Oud en jonk het voor hul ysige ysterkloue geval. Biljoene het in hul oë gekyk. Nie rooi nie, maar ’n dodelike blou. Hierdie half-haai, half-mens kon deur niemand gestop word nie. Dis diere uit die see. Die jagter het die gejagte geword. Ek self het teen hulle geveg. Vryheidsvegters het op ’n harde manier uitgevind dat E=mc2 nie op hierdie gediertes van toepassing is nie. Die hele arsenaal kernmissiele kon nie een van die 666 666 moordskepe afskiet nie. Stad vir stad, land vir land is in ’n oogwink deur die Armagediete platgevee. Elkeen is tot ’n fyn pulp gedruk en in die oseane uitgespuit. Die waters het verander in bloed. Die blou planeet het rooi geword. Die hele aarde is finaal vernietig. Hulle het alles verwoes. Alles. Niks het van die mens se bestaan of geskiedenis oorgebly nie. Nie eens ’n naam nie. Die enigste manier om hierdie krysende kreature te verslaan, is om ...

Sy oog vang die groen lig. Hy breek noodgewonge die verbinding. Hy moet weg. Die strandsand verdwyn vinnig onder sy voosgetrapte voete. “Koes, Baoj!” skree hy. Te laat. ’n Donker ashoop verskyn langs hom. Dieselfde plek waar sy vriend nou net gestaan het. Hy voel twee ysklampe om hom. Hy en die oorblywendes word op hul knieë gedwing.

Ek glo, maar nou is dit te laat. Die laaste traandruppel het opgedroog. Die wind het gaan lê. ’n Ysterlem vou om my nek. Donkerte.

Die boodskap het misluk.

144 000 000 nA.

Twee verdwaalde Armagediete vind hulle op ’n opgedroogde strand. Aardverwarming. Meteens sien hulle wit stukke in die sand glinster. Hulle het nog nooit goed so afskuweliks gesien nie. Een-en-twintig skedels in ’n ry.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top