WF 2015: Buitenaardse wesens

  • 0

“En dit is hoekom dit heeltemal onmoontlik is vir enige buitenaardse wesens om te bestaan.” Juffrou Van Heerden kyk selfvoldaan na die klas. “MARAIS!” Ek skrik wakker en vryf my oë uit. “Hmmm?” Die klas begin saggies giggel. “Net omdat jy as spesiaal gesien word omdat jou pa hierdie dorp gered het, beteken dit nie dat jy in my klas kan slaap nie.” Sy loer vir my oor haar Lennon-bril. Ek sug. Om die een of ander rede kan ek niks doen sonder dat dit verbind word met my pa en sy prestasies nie. Ek is nooit “Lizelle Marais” nie, maar elke dag word ek gesien as “Leon Marais se dogter”. As dit nie was vir die skril geluid van die klok nie, sou ek heel waarskynlik verder geslaap het.

By die huis gryp ek die eerste kos wat ek sien, en stap na my kamer toe. Kliphard sit ek Skrillex se nuwe CD aan. My pa beskryf Dubstep nog altyd as “een of ander buitenaardse taal”. Wat is dit met hierdie dorpsmense en hulle idees oor buitenaardse lewe? Almal behoort tog te weet dat daar geen sprake van lewe op ander planete kan wees nie – die toestande daar is onleefbaar.

DOEF. Ek sit die musiek sagter en kyk vir my kandelaar wat gevaarlik heen-en-weer swaai aan die dak. Wat de hel? Ek vat die hamer wat ek in my bedkassie wegsteek, en loop soos James Bond by my kamer uit. Versigtig kyk ek deur die loergaatjie van die voordeur. Op die grasperk staan ’n splinternuwe BMW i8. Weereens, wat de hel? Ek maak die deur oop, en met die hamer steeds in aanvalsposisie stap ek na die spogkar toe.

Ek tik op die venster. “Hallo?” Dit draai af en ek staar in ’n spierwit gesig vas wat wegkruip agter ’n sonbril. “Ekskuus meneer, u kar staan op my pa se viooltjies.” Hy kyk na my asof ek Grieks praat. Gefrustreerd beduie ek met handgebare: “Jy, kar, viooltjies, nee.” Hy tik iets in op sy foon. Op daardie oomblik begin ek lelike woorde in my kop hoor. “ Hoor hier. Jy gaan vir my, EN vir jou moeilikheid kry oor die viooltjies waarop jou kar nou staan. Skuif AS-SE-BLIEF jou motor van hulle af. NOU.”

Hy staar weer na my, en met ’n vinnige armbeweging ruk hy my in die kar in. Ek gil en slaan hom met die hamer direk op die neus. Ek hoor ’n kraakgeluid en sien bloed, en wil my doodgril. Hy los my arm en kyk na die bloed. Voor ek my oë kan uitvryf, groei daar ’n nuwe neus uit die plek waar die platgeslaande een so pas gesit het. Ek gil weer en hardloop soos ’n besetene, maar besef byna dadelik ek hardloop nie op die grond nie. Ek sweef oor die viooltjies reg na die agtersitplek van die kar, waar ek neerslaan op die bank en onmiddellik vasgebind word deur die man se handlangers. Alles word donker.

Toe ek wakker word, sit ek op ’n slymerige stoel in my pajamas. Dis koud, en die man wat my ontvoer het, sit voor my en praat met ’n ander man. Hulle taal klink soos Dubstep ... Wag, wat? My brein begin skielik alle stukkies inmekaar pas. Ek is op ’n ander planeet… en die buitenaardse wesens lyk soos mense. Ek gniffel verontwaardig en wonder wat mevrou Van Heerden DAARVAN sou sê. Die man draai om en begin met my praat. Dit is soort van Afrikaans, maar hy sukkel duidelik. “Hallo Aardeling. Jy moeten troue met onse koning.” Ek kyk hom grootoog aan. “En waarom jou vader musiek instrumenten in tuin planten.” Ek begin lag. “So jy het my ontvoer om met julle koning te trou, ek word … Wat is julle?”

“Muhans.”

“Oraait, dankie. Ek word koningin Muhan, en ek leer Dubstep praat?” Hy knik sy kop en sy oog val uit. ’n Nuwe een groei onmiddellik terug. “Eeuw. Ons sal moet werk aan daardie probleem. Maar oraait! Nou, hoe lyk hierdie prins van julle?”

Die oomblik toe ek vra, stap ’n mannetjie ongeveer die grootte van ’n Jack Russell-hond wat op sy agterpote staan, by die kamer in. Selfs sy gesig het Jack Russell-kenmerke. Die twee mans staan kiertsregop en knyp hulle neuse vas in een of ander vorm van respekbetoning. Ek gaan sit plat op my slymstoel en sit my oorfone in om Dubstep te luister. Koning Jack Russell kom sit langs my, en vat een van my oorfone. Sy gesig vertrek toe die musiek begin speel. Ek stop die musiek en kyk vir hom. “Wat?”

“Die musiek. Die taal verskriklik wesen.”

“Nou wat sê hulle?” vra ek verbaas.” Hy skud sy kop en begin homself koelwaai met ’n tydskrif wat langs hom gelê het. Ek staan op. “Koning Jack Russell, sonder enige disrespek, maar as u nie my musiek kan luister nie, gaan hierdie verhouding van ons nie werk nie. Ek’s jammer, maar ek wil onmiddellik teruggevat word na my huis toe.” Hy staan op, kom staan met sy kop op kniehoogte voor my, en begin praat. “Mevrou Marais, hierdie verhoudingen sou nooit gewerken het. Jy te lank wesen. Jy ook my met Jack Russell vergelyken. Tot siens.” Hy druk ’n knoppie en alles raak weer swart.

Die volgende oggend sit ek in Juffrou Van Heerden se klas. Sy begin weer oor buitenaardse wesens, en ek laat sak my kop op my tafel. “JUFFROU MARAIS!” Ek kom regop. “Ja, Juffrou?”

“Is jy nou te goed om in my klas te luister?” Ek staan op. “Ek is REGTIG baie jammer, maar as juffrou ses ure lank opgeskeep sit met Muhans wat op slymstoele sit, Jack Russells hulle planeet laat regeer, en Dubstep aanstootliker vind as Jack Parow, dan sal Juffrou ook net eenvoudig keelvol wees met buitenaardse gedoentes.” Met daardie laaste woorde stap ek uit die klas. Ek benodig ’n goeie dosis Boeremusiek.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top